Die kringopsiener se besoek—’n voorsiening vir geestelike vooruitgang
1 “Ons het pas die verkwikkende besoek van ons reisende opsiener gehad ... en ons moet ons waardering uitspreek vir die feit dat julle so ’n uitnemende kneg van Jehovah na ons gebied toegewys het.” Die Genootskap ontvang dikwels sulke woorde van waardering vir reisende opsieners. Tydige besoeke van ervare ouere manne help ons om geestelike vooruitgang te maak.
2 In die eerste eeu het reisende ouere manne grootliks tot die opbouing van gemeentes bygedra. Hulle het die nodige raad gegee (1 Thess. 2:1, 10-12). Hulle het leiding van die bestuursliggaam oorgedra (Hand. 16: 4, 5). Hulle het ondervindinge uit ander dele van die veld vertel en getoon hoe die goeie nuus ander bereik het (Hand. 14:27, 28). Hoe aansporend moes daardie besoeke tog gewees het!
3 Gereelde besoeke deur reisende opsieners vandag wakker ook geestelike groei aan. Om die grootste nut moontlik daaruit te put, moet elkeen van ons egter die regte gesindheid hê en die bedrywighede wat gedurende elke besoek gereël word ten volle ondersteun. Hoe kan dit gedoen word?
REGTE GESINDHEID EN VOORBEREIDING
4 Eerstens moet ons ‘ons gees vir aktiwiteit versterk’ (1 Pet. 1:13, NW). Om dit te doen, moet ons die besoek in die regte lig beskou en spesifleke reëlings tref om ’n groter deelname aan die bediening te hê. Kan jy gedurende die maand van die kringopsiener se besoek as hulppionier dien? Kan jy jou daaglikse rooster so aanpas dat jy gedurende die week velddiens kan doen? Kan jy reël om op ’n weeksmiddag herbesoeke te doen of ’n Bybelstudie te hou? Die kringopsiener sal jou alte graag vergesel en sal selfs die Studie hou as jy dit verkies.
5 Die informasie wat in vergaderinge gedurende die kringopsiener se besoek aangebied word, kan ook tot jou geestelike groei bydra. Luister aandagtig na sy toesprake en wees voorbereid om te antwoord tydens die spesiale program ‘Bly in wat jy geleer het’. Jy wil dalk aantekeninge maak van interessante Bybelgedagtes of van raad wat gegee word. Die pioniervergadering kan gewone pioniers en die wat op daardie stadium as hulppioniers dien, help om die gehalte van hulle bediening te verbeter. Vergaderinge met die ouere manne en bedieningsknegte help hierdie manne wat deur die gees aangestel is om die nodige raad en leiding van God se organisasie te ontvang. Dit alles help om die gemeente te versterk.—Hand. 15: 36, 41.
6 Die kringopsiener se besoek moedig ook Bybelstudente aan om verder vordering te maak. Sy besoek sal hulle moontlik help om te besef hoe belangrik dit is om alle gemeentelike vergaderinge by te woon. Sorg dat jy die rol en werk van die kringopsiener aan hulle verduidelik. Indien die student so gevorder het dat hy aan die vereistes voldoen om ’n goedgekeurde metgesel te wees, moet hy genooi word om gedurende die week aan die bediening deel te neem. Kweek hartgrondige waardering aan vir hierdie tydige voorsiening deur Jehovah se sigbare organisasie.
7 Reisende opsieners wat die 55 kringe en 5 streke dien waarna die Suid-Afrikaanse tak omsien, het baie jare ervaring in die waarheid en in die voltydse bediening. Hierdie broers en hulle vrouens werk met volle oorgawe. Elke ses maande of wat het ons die voorreg om ’n week van geestelik opbouende Koninkryksbedrywigheid saam met hulle te geniet. Ons sal verstandig wees om volle voordeel uit die kringopsiener se besoek te trek en enige geestelike genadegawe te ontvang wat hy ook al meedeel (Rom. 1: 11, 12). Beplan nou om by hierdie voorsiening vir jou geestelike vooruitgang baat te vind.