Wedersydse aanmoediging vir almal
1. Watter spesiale geleenthede bied die besoeke van reisende opsieners?
1 Die apostel Paulus het aan die gemeente in Rome geskryf: “Ek verlang om julle te sien om julle die een of ander geestelike gawe te kan meedeel sodat julle standvastig gemaak kan word; of liewer, dat daar wedersydse aanmoediging onder julle kan wees, deurdat elkeen aangemoedig word deur middel van die ander een se geloof, julle s’n sowel as myne” (Rom. 1:11, 12). Hedendaagse besoeke van reisende opsieners bied soortgelyke geleenthede vir wedersydse aanmoediging.
2. Waarom word die kringopsiener se besoek lank voor die tyd aangekondig?
2 Die gemeente: Die kringopsiener se besoek word gewoonlik ongeveer drie maande voor die tyd in die gemeente aangekondig. Dit gee ons tyd om ons rooster aan te pas sodat ons ten volle daarby kan baat vind (Ef. 5:15, 16). As jy sekulêre werk doen, kan jy miskien verlof vra om velddiensreëlings gedurende die week te ondersteun. Party reël om gedurende die maand van die besoek hulppionierdiens te doen. Kan jy, as jy beplan het om weg te gaan, aanpassings maak sodat jy daardie week teenwoordig sal wees?
3. Wat kan ons tydens die besoek doen om aanmoediging te kry?
3 ’n Vername doel van die kringopsiener se besoek is om persoonlike aanmoediging en opleiding in die veldbediening te gee. Kan jy vra om saam met hom te werk, of saam met sy vrou as hy getroud is? Die kringopsiener geniet dit om saam met verskillende verkondigers te werk, met inbegrip van dié wat minder ervaring het of nie so vaardig in die bediening is nie. Almal kan uit sy aanbieding leer en sy vriendelike wenke toepas (1 Kor. 4:16, 17). As jy hom vir ete nooi, sal dit nog meer geleentheid vir opbouende geselskap bied (Heb. 13:2). Luister aandagtig na sy toesprake, aangesien hy dit volgens die behoeftes van die gemeente aanpas.
4. Hoe kan ons ons kringopsiener aanmoedig?
4 Die kringopsiener: Die apostel Paulus was nie anders as die broers wat hy gedien het nie, aangesien hy ook voor uitdagings te staan gekom het, sorge gehad het en aanmoediging waardeer het (2 Kor. 11:26-28). Toe die gemeente in Rome hoor dat Paulus, wat op daardie stadium ’n gevangene was, uiteindelik daarheen sou kom, het party na die Mark van Appius gereis om hom te ontmoet—’n afstand van 74 kilometer! “Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep” (Hand. 28:15). Jy kan ook julle kringopsiener aanmoedig. Bewys “dubbele eer” aan hom deur sy besoek geesdriftig te ondersteun (1 Tim. 5:17). Sê en wys vir hom dat jy die moeite wat hy vir jou doen, innig waardeer. Hy en sy vrou sal bly wees wanneer hulle jou geloof, liefde en volharding sien.—2 Tess. 1:3, 4.
5. Waarom het ons almal vandag aanmoediging nodig?
5 Wie van ons het nie aanmoediging nodig in hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” nie? (2 Tim. 3:1). Besluit nou om ’n volle aandeel te hê aan die spesiale week van bedrywigheid saam met die kringopsiener. Ons almal—reisende opsieners sowel as verkondigers—kan bydra tot vreugdevolle wedersydse aanmoediging. So sal ons ook aanhou “om mekaar te vertroos en mekaar op te bou”.—1 Tess. 5:11.