’n Loopbaan met ewige beloninge
1 Paulus het Timotheüs vermaan: “Doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 4:5). Ongeag hoe aanloklik ander persoonlike belange was, Timotheüs het sy lewe aan God se werk gewy. Hy het saam met Paulus gewerk en getoon dat hy inderdaad ‘die belange van Christus soek’ (Filip. 2:19-21). Alle ware Christenbedienaars moet dieselfde gees hê.
2 Koester jy die bediening? Kan jy die pionierdiens jou loopbaan maak? (Matt. 6:33; 2 Kor. 4:1, 7). Dit sal jou tevredenheid en genot verskaf om te weet dat jy elke dag talle geleenthede sal hê om met ander oor Jehovah te praat en hulle te help om Hom te ken en lief te hê (Ps. 96:1-4). Watter onbeskryflike vreugde verskaf dit ons tog as ons sien hoe mense op Bybelonderrigting reageer! Party van hierdie mense het voorheen onsedelike, gewelddadige lewens gelei of was sonder hoop. Hulle het hulle slegte gewoontes laat vaar, selfrespek gekry en dien Jehovah nou. Pionierdiens is ’n sinvolle loopbaan en kan ewige voordele inhou. Ondersoek dus jou omstandighede en stel, indien moontlik, ’n spesifieke datum vas waarop jy graag die voltydse diens wil betree. Maak dit jou doelwit. Bid om Jehovah se hulp sodat jy dit kan bereik (Ef. 6:18). Die beloninge is groot!
’N LONENDE LEEFWYSE
3 Indien jy pionierdiens met die regte beweegrede doen en die begeerte het om geestelike vooruitgang te maak, sal dit jou help om ’n geesteliker uitkyk op die lewe te hê. Dit kan jou help om ’n balans te verkry, jou tyd ten beste te benut, jou geldsake te hanteer en vergenoeg te wees met die lewensnoodsaaklikhede (1 Tim. 6:6). Pionierdiens verg moontlik opofferings. Is jy bereid om persoonlike opofferings te maak omdat jy Jehovah liefhet? Dan sal jy leer om meer op Jehovah te vertrou en minder op jouself. Dit sal beskerming bied teen skadelike wêreldse ambisies, begeertes en omgang. Die voordele wat pionierdiens inhou, kan ewigdurend wees.—Mal. 3:10.
MOEDIG PIONIERDIENS AAN
4 Vandag is baie Christene bly dat hulle ouers die pioniergees getoon het. Soos een sendeling dit stel: “Dwarsdeur my kinderjare was my moeder baie ywerig in die bediening. Ek dink dis nie soseer wat sy gesê het nie maar wat sy gedoen het, haar goeie voorbeeld, wat grootliks die begeerte by my aangewakker het om my lewe in die voltydse diens van Jehovah deur te bring.” ’n Suster in die voltydse diens sê: “Die feit dat my moeder glad nie materialisties was nie en goeie insig in die waarheid gehad het, het my gehelp om nie by ’n sekulêre loopbaan betrokke te raak nie.” ’n Jong bedienaar het van sy ouers gesê: “Hulle het altyd aan my die vreugde en voorregte van pionierdiens en die seëninge wat Jehovah op pioniers uitstort, voorgehou.....Dit is iets wat alle ouers behoort te doen, want dit het my beslis gehelp. Hulle kan die jeug aanspoor om Jehovah heelhartig te dien.” Jehovah onthou en beloon inderdaad die onselfsugtigheid van sulke liefdevolle ouers.
5 Ons lewe in die tyd van die einde wanneer ‘hierdie evangelie van die koninkryk verkondig sal word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies’ (Matt. 24:14). Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Matt. 9:37, 38). Die behoefte aan meer werkers is nou selfs groter as wat dit in Jesus se dag was. Die pioniers het gevolglik ’n groot aandeel daarin om die uitnodiging aan ander te rig: “Maak die HERE saam met my groot, en laat ons sy Naam verhef!” (Ps. 34:4). Daar is inderdaad niks wat kan vergelyk met die vergenoegdheid en tevredenheid wat ’n mens kry as jy jou lewe aan die voltydse diens van ons Groot Skepper wy nie.—Spr. 10:22.