Vraebus
• Is dit gepas om persoonlike materiaal oor sake soos mediese of voorligtingsdienste onder die broers te versprei?
Wat Christelike gedrag betref, het die apostel Paulus geskryf dat die ‘gemeente ’n pilaar en grondslag van die waarheid is’ (1 Tim. 3:15). Die gemeente moet gevolglik nie ’n kanaal vir die verspreiding van persoonlike materiaal wees nie, hetsy deur spesiaal gereelde vergaderings by die Koninkryksaal of elders of in die vorm van gedrukte brosjures en omsendbriewe of oudio- en videobande.
Die Wagtoring en Ontwaak! het al puik inligting en advies bevat oor die hantering van mediese probleme en gehoorsaamheid aan God se wet oor bloed. Hulle het ook Skriftuurlik gebalanseerde artikels oor vrees, terneergedruktheid en ander emosionele probleme gehad. Hierdie artikels is voorsien om ons in te lig. Maar hulle onderskryf nie sekere vorme van diagnose, terapie, dokters, raadgewers of behandelingsentrums nie, aangesien persoonlike besluite oor sulke sake geneem moet word.—Die Wagtoring, 1 September 1982, bladsye 21-29.
Aangesien daar baie getuies van Jehovah is, het sommige persone, waaronder ons broers, probeer om hulle sakebelange en beskouings te bevorder deur artikels, brosjures en bandopnames voor te berei, met diegene in die organisasie in gedagte. Dit handel moontlik oor onderwerpe waarin ons belangstel of waaroor ons besorg is, maar waarom word dit versprei? Om kliënte of klante te werf. Al word sommige nie versprei om sakebelange te bevorder nie, kan hulle wel persoonlike beskouings bevat wat in ‘teokratiese taal’ met teksverwysings gestel word. Hetsy dit deur ’n Getuie opgestel is of nie, die beskouings strook dalk nie met die Bybel en die Skriftuurlike raad wat ouere manne gee nie, maar kan op filosofie of die elementare dinge van die wêreld gebaseer wees.—Kol. 2:8, NW; 1 Tim. 6:20.
Probleme en verwarring het onstaan omdat broers en susters sulke materiaal wat persoonlik opgestel is onskuldig oorvertel het. Ons almal, veral die ouere manne, wat in harmonie met “die getroue en verstandige dienskneg” werk en op wie ons vir leiding vertrou, moet sorg dat ons nie tot sulke probleme bydra nie (Matt. 24:45). Ons moet ook nie iemand se sakebelange of idees en filosofie bevorder deur sulke materiaal onder die broers te versprei nie.—Kyk Vraebus in Ons Koninkryksbediening, Julie 1977.