Soek eers die Koninkryk
1 Elke redelike mens wil ’n lang lewe onder vreedsame toestande geniet. Dit is ’n normale begeerte wat verwesenlik kan word deur ‘eers die koninkryk te soek’ (Matt. 6:33). Maar pleks van die Koninkryk te soek, doen mense vandag soveel dinge wat die lewe minder genotvol maak. Onmatigheid en uitspattighede is skynbaar aan die orde van die dag. Bedreigings vir die lewe self is volop. Ontwrigtende geweld en burgerlike onluste het na dele van die aarde versprei wat eens vir ’n rustiger leefwyse bekend was.
2 Ons weet nogtans dat as ’n persoon ‘eers die koninkryk soek’, sy lewe vir altyd beïnvloed sal word. Jehovah sal sy dae verleng en jare tot sy lewe voeg.—Spr. 3:1, 2.
WAARDEVOLLE HULP
3 Gedurende November sal ons ons daarop toelê om mense te help om die Koninkryk te soek en die lewe as doelwit na te street deur die boek Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind? teen ’n bydrae van R2,00 vir hulle aan te bied. Wat ’n voorreg het ons om ander op hierdie manier te help! Ons wil voorberei wees met gesprekpunte wat regskapenes se belangstelling kan wek en daartoe kan bydra dat hulle sien hoe hierdie publikasie hulle sal help om eers die Koninkryk van God te soek en om blywende vrede te verkry. Wat kan ons sê?
4 As die huisbewoner godsdienstig voorkom, kan jy, nadat jy jouself voorgestel het, moontlik sê: “Mense wat daarin belangstel om hulle lewenswyse te verbeter, toon dit moontlik deur ’n spesifieke godsdiens aan te hang. Maar baie wat dit doen, is steeds ongelukkig. Waarom is dit so? Die Bybel gee ons hierdie antwoord: [Lees 2 Timotheus 3:1, 2, 5.] Dit is duidelik uit wat ons hier lees dat ’n blote gedaante van aanbidding nie genoeg is nie. Wat verwag God dus van ons? Let op die antwoord wat hier in Johannes 4:23 gegee word: [Lees.] Die boek Ware vrede en veiligheid —Hoe kan jy dit vind?, sal jou help om meer te leer oor die godsdiens wat werklik betekenis het. Kan ek hierdie boek teen R2,00 by jou laat?”
5 Wanneer die Ware Vrede-boek aangebied word, kan jy dalk die voorwoord van die uitgewers lees. Of jy kan kortliks na hoofstuk 3 gaan om die aanbieding van die boek by die ‘Onderwerp vir gesprekke’ in te skakel. Aangesien miljoene mense wêreldwyd aan vrede en veiligheid dink, is hierdie aanbieding hoogs tydig.
6 Jy vind miskien ’n huisbewoner wat taamlik besig is. In hierdie geval kan jy sê: “Die najaging van vrede en veiligheid sal waarlik ’n belangrike deel wees van die godsdiens wat God goedkeur. Kan ek jou hierdie boek aanbied wat daarop gemik is om jou vertroud te maak met die talle verwysings na blywende vrede en veiligheid wat in die Bybel gevind word? Dit is joune vir net R2,00.”
ONS DOEL
7 Ons doel is om opregte mense te help om van Jehovah te leer en hulle te beweeg om eers die Koninkryk te soek en ware vrede en veiligheid te vind. Dit sal hulle hoop op die lewe onder regverdige toestande versterk. Die aanbieding van die Ware vrede-boek met sy duidelike, direkte en nogtans aantreklike styl sal ons help om ons doel te bereik. Laat ons ons bediening met geesdrif vervul!