Saai Koninkryksaad
1 Psalm 126:6 praat van letterlike saad wat gesaai word en sê: “Hy loop aldeur ... en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra.” In Prediker 11:6 word die saaier van saad aangemoedig met die woorde: “Saai jou saad in die more, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie.”
2 Wanneer ons aan die veldbediening deelneem, dra ons in werklikheid ook ’n sakvol saad, maar ’n geestelike soort. Die doeltreffendheid van ons geestelike saaiwerk word verhoog deur lektuur wat die goeie nuus van die Koninkryk beklemtoon. Hierdie lektuur bespreek onderwerpe wat vir talle mense van belang is en toon hoe noodsaaklik dit vir hulle is om van hierdie goeie nuus van die Koninkryk te leer. Deur die getroue dienskneg het Jehovah ons voorsien van ’n goeie voorraad Bybellektuur vir gebruik in die werk om Koninkryksaad gedurende hierdie tyd van die einde te saai.
’N OORVLOEDIGE VOORRAAD
3 Ons sal gedurende Januarie in ons veldbediening ’n paar van die ouer publikasies aanbied wat doeltreffend was om mense te help om geestelik te groei. Dit sluit in “Ewige voorneme”, Woord van God, Goeie nuus, Vrede en veiligheid (ou uitgawe), Hierdie lewe en Waarheid. (Engels: Choosing, Commentary on James, “Eternal Purpose”, Evolution [ou uitgawe], Good News, Holy Spirit, Peace and Security [ou uitgawe], This Life en World Government.) Jy kan enige twee van hierdie publikasies teen R2,00 aanbied. Sommige sal dit moontlik nuttig vind om diegene wat hulle in hul bediening ontmoet vier of meer van hierdie publikasies aan te bied.
VOORBEREIDING NOODSAAKLIK
4 Gebruik ’n paar minute om die inhoud van die ouer publikasies te hersien wat vir die velddiens beskikbaar is. Jy sal vind dat Hierdie lewe onderwerpe bespreek soos “Kan jy met die dooies praat?” “Hoe het dit gekom dat ons oud word en sterf?” en “Waarom baie wat nou lewe nooit hoef te sterf nie.”
5 Sommige sal moontlik ’n objektiewe bespreking waardeer oor die dinge wat vrede en veiligheid verhinder, en dit is beskikbaar in die Vrede en veiligheid-boek (ou uitgawe). Wanneer jy die Vrede en veiligheid-boek aanbied, sal jy dit moontlik effektief vind om die kommentaar van die uitgewers op bladsy 2 te lees: “Is daar werklik ’n oplossing vir die probleme waarvoor die mensdom nou staan? Hierdie boek word uitgegee met die oortuiging dat daar wel een is. Ons hoop van harte dat jy, as jy die boek lees, ’n vaste hoop sal vind, asook ’n hartverblydende versekering oor wat die toekoms vir alle ware liefhebbers van geregtigheid inhou.”
6 As die gemeente se voorraad ouer boeke vinnig opraak, kan die diensopsiener by naburige gemeentes navraag doen oor ekstra voorraad.
7 Bid voortdurend om Jehovah se leiding en seën terwyl jy die sade van waarheid plant en natmaak, want dit is ‘God wat dit laat groei’1 Kor. 3:6.