Help nuwe verkondigers
1 Jehovah seën sy volk steeds deur “die skatte van al die nasies” in te bring (Hag. 2:7). Baie nuwelinge sluit hulle dus by ons aan vir ware aanbidding. Daar was die afgelope diensjaar ’n vermeerdering van meer as 2 500 nuwe verkondigers in Suid-Afrika. Hoewel ons verheug is om hierdie vermeerdering te sien, is dit nou ons begeerte om hierdie persone te help om bekwamer “vissers van mense” te word namate hulle saam met ons aan die verkondiging van die goeie nuus deelneem.—Mark. 1:17.
2 Wanneer kan ’n Bybelstudent genooi word om saam met ons aan die velddiens deel te neem? Voordat hy homself in die openbaar met Jehovah se Getuies identifiseer, moet hy eers aan die Skriftuurlike en organisatoriese vereistes voldoen wat in die Ons bediening-boek op bladsye 98 en 99 gemeld word. Die vrae daar sal jou help om te bepaal of die Bybelstudent aan hierdie vereistes voldoen. As hy aan die vereistes voldoen, kan hy genooi word om aan die openbare predikingswerk deel te neem en sy velddiensaktiwiteit aan die gemeente rapporteer.
3 Nuwe verkondigers is moontlik ywerig en geesdriftig, maar het nie veel ondervinding nie. Jy kan hulle miskien help om aan die huis-tot-huiswerk te begin deelneem deur hulle ’n traktaat of die tydskrifte te laat aanbied, of jy kan hulle vra om ’n teks te lees. Prys hulle vir hulle pogings en gretigheid om deel te neem. Herinner hulle aan die apostel Paulus se bemoediging aan almal om ‘tot rypheid voort te gaan’ (Hebr. 6:1, NW). Help hulle om dit te doen.
VOORUITGANG
4 Net soos kinders leer loop deur een tree op ’n slag te gee, kan nuwe verkondigers gehelp word om stap vir stap vooruitgang te maak. Kan jy, as jy ’n nuwe verkondiger oplei, hom progressief help om die inleiding by die deur te doen, die ‘Onderwerp vir gesprekke’ te gebruik en die voorgestelde lektuuraanbod te doen? Is hy nou gereed om die Redenering-boek te gebruik en die huisbewoner deur vrae by die gesprek te betrek of die grondslag vir ’n doeltreffende herbesoek en uiteindelik ’n Bybelstudie te lê? Dit sal ’n nuweling help om hierdie progressiewe stappe te doen as ons oefensessies met hom hou en saam met hom in die velddiens werk.
5 Help jy, as jy ’n ouer is, jou kinders wat aan die Skriftuurlike vereistes voldoen om vooruitgang in die veldbediening te maak? Volg gerus die wenke in die bogemelde paragrawe namate jy strewe om hulle te help. Moenie jou kinders se vermoë om vooruitgang in die bediening te maak onderskat nie. Talle jongmense het ’n prysenswaardige vermoë geopenbaar om lektuur te versprei en om Bybelstudies te begin en te hou. Werk ten nouste saam met jou kinders. Begin hulle op ’n vroeë ouderdom oplei. Help hulle om ooreenkomstig hulle vermoëns vordering te maak. Prys hulle vir hulle pogings en vooruitgang.—Kyk Ons bediening, bladsye 99-100.
6 Alle toegewyde knegte van Jehovah moet daarna streef om vooruitgang te maak ten einde die goeie nuus bekwaam aan te bied. Help nuwelinge om ook vooruitgang te maak.