Bied die Goeie Nuus Aan—Deur die Bybel te gebruik
1 “Die woord van God is lewend en oefenkrag uit” (Hebr. 4:12, NW). Dit moet gelees en toegepas word om sy krag ten volle te kan uitoefen en lewend te kan word. Ten einde dit te bewerkstellig, het Jehovah se organisasie ons, veral sedert 1954, aangemoedig om die Bybel in ons huis-tot-huisbediening te gebruik. Ons is opgelei om tydens huis-tot-huisbesoeke besprekings te hou wat drie tot agt minute lank is en om die huisbewoner se aandag te vestig op wat die Bybel oor belangrike onderwerpe sê.
2 In die laaste jare het Ons Koninkryksbediening gereeld die ‘Onderwerp vir gesprekke’ bevat wat twee of drie tekste oor ’n onderwerp vir gebruik in die velddiens uiteensit. Die tema van die huidige ‘Onderwerp vir gesprekke’ is byvoorbeeld: “Godsdiens wat werklik waarde het.” Die tekste wat gebruik kan word, beklemtoon die verskil tussen valse en ware godsdiens.
3 Om die Bybel doeltreffend te gebruik verg oefening en die begeerte om mense te help besef dat dit inderdaad God se Woord is en dat dit lewend en kragtig is. Hoewel ons aangemoedig word om kort, saaklike aanbiedings in tydskrifwerk te gebruik, moet ons nie die gebruik van die Bybel in ander aspekte van die veldbediening afskeep nie. Ons is op stuk van sake Bybelstudente, en watter beter manier is daar om dit te bewys as om mense uit God se Woord self te probeer toon wat Jehovah vir die mensdom en hierdie aarde voorhet?
HULP UIT DIE REDENERING-BOEK
4 Behalwe die ‘Onderwerp vir gesprekke’ in Ons Koninkryksbediening het ons die boek Redenering uit die Skrif. Wanneer jy die inleidings hersien wat op bladsy 9-15 verskyn, sal jy teksverwysings vind wat gebruik kan word om die Koninkryks-boodskap in te lei. Daar is talle maniere waarop ons na die Bybel kan gaan om vir mense te toon wat dit sê.
5 As sommige huisbewoners oor die bejaardes besorg is, kan dit byvoorbeeld nuttig wees om die wenke onder die onderwerp “Bejaardheid/Dood” op bladsy 10 van die Redenering-boek toe te pas. Hoe gepas sal die volgende vraag tog wees: “Het jy al ooit gewonder waarom ons oud word en sterf? Ek sal graag vir jou wil wys wat ’n geïnspireerde Bybelskrywer in Romeine 5:12 gesê het.” Dan kan jy sê: “Maar hoewel die Bybel toon waarom ons oud word en sterf, bied dit ons ook ’n wonderlike hoop vir die toekoms, wat in Openbaring 21:3, 4 opgeteken is.” Die lektuur vir die huidige aanbod kan dan aangebied word.
6 Mense sê deesdae heel dikwels: “Nee, ek’s besig.” Baie is werklik besig, en ons moet besef dat dit dalk wel die geval met hulle is. As die omstandighede reg is, kan jy selfs dan sê: “Ek weet hoe dit voel, want ons leef in baie besige tye. Maar ek wil graag net hierdie een gedagte by jou laat”, en dan kan jy een van die tekste in ons huidige ‘Onderwerp vir gesprekke’ lees. Nadat jy dit gelees het, kan jy kortliks sê watter lektuur jy aanbied, ’n gepaste traktaat laat, of sê dat jy binnekort weer in die gebied sal wees en dat jy daar sal aandoen om verdere informasie te bespreek oor die interessante moontlikheid dat ’n mens kan lewe sonder dat jy ooit hoef te sterf.
7 Hoe goed is dit wanneer mense sien dat ons Bybelstudente is wat God se Woord bekwaam in ons bediening kan gebruik! Dit help hulle om die volk te identifiseer wat vandag op God se Woord vertrou en dit in hulle daaglikse lewe gebruik. Wees dus, afgesien van tydskrifdag, voorberei om die Bybel te gebruik wanneer die gewone lektuuraanbod gedoen word. Ons pogings om die Bybel te gebruik, sal Jehovah se seën op ons bediening meebring en talle daarvan bewus maak dat God se Woord inderdaad lewend is, krag uitoefen en hulle lewens kan beïnvloed.