Help kinders om groter voordeel uit vergaderinge te trek
1 Luister jou kinders werklik wanneer hulle vergaderinge bywoon? Kan hulle jou na die tyd vertel wat hulle tydens elke vergadering geleer het? Het jy hulle aangespoor om aandag te skenk en om gebruik te maak van die kennis wat hulle deur konsentrasie opgedoen het? Stel jy vir hulle ’n daadwerklike voorbeeld deur tydens die vergaderinge kommentaar te lewer, ’n voorbeeld wat hulle kan sien, hoor en volg? Volg jou kinders jou geloof na? Positiewe antwoorde op hierdie vrae is uiters belangrik as ons wil hê dat kinders toegewyde knegte van Jehovah moet word.
SKERP DIE BELANGRIKHEID VAN VERGADERINGBYWONING BY HULLE IN
2 Ten einde die ewige lewe te verkry, het ’n kind Bybelonderrig nodig(Joh. 17:3). As ons wil hê dat ’n kind moet leer om geestelike dinge te waardeer, is vergaderingbywoning nodig. Soms huiwer ouers om kinders vergaderinge toe te bring, omdat hulle bang is dat die kinders ander se aandag sal aftrek. Party laat hulle kinders by die huis om hulle skoolwerk te doen. Die verstandige ouer bring egter sy kinders na die vergaderinge. —Deut. 31:12.
3 Die eerste ding wat ’n kind van kleins af moet leer, is dat hy na die Koninkryksaal gaan om te luister. Maar sal hy leer om te luister en besef waarom ons vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon as hy dinge gegee word om hom besig te hou, soos speelgoed of kos, of as hy toegelaat word om by sy sitplek te speel? Party kinders is weliswaar oplettender as ander. Maar wanneer ’n kind hom nie gedra nie, sal die verstandige ouer hom tugtig en hom liefdevol leer om te luister, nie deur hom met lekkergoed of speelgoed om te koop nie, maar deur die dissipline van God se Woord uit te oefen.—Spr. 13:24; Ef. 6:4.
JOU VOORBEELD AS ’N OUER
4 Die Wagtoring van 1 April 1982, bladsy 16 (w82 1/15 bl. 17), het die volgende vrae gestel: “Weet julle kinders dat julle Bybelstudievergaderinge ernstig opneem? Sien hulle dat julle hierdie vergaderinge belangrik genoeg beskou om dit nie alleen by te woon nie, maar om daaraan deel te neem deur kommentaar te lewer wanneer die geleentheid hom voordoen” Watter indruk gaan jou kinders kry as hulle sien dat jy tydens vergaderinge onnodig gesels, of as jy of ander met hulle speel? Hoe gaan hulle vergaderingtye beskou? Aangesien kinders goeie na-apers is, kan jou voorbeeld ’n diepgaande uitwerking op hulle hê.
5 Sommige ouers het dit nuttig gevind om selfs klein kindertjies hulle eie eksemplare van die publikasies te gee wat by die vergaderinge gebruik word. Hulle help dalk hulle kinders tydens die gesinstudie om gepaste kommentare voor te berei. Ouers kan hulle kinders ook bemoedig deur gedagtes wat tydens die vergadering bespreek is te hersien en deur tyd af te staan om vrae wat hulle het te beantwoord. Ouers moet ook wakker wees om hulle kinders te prys vir hulle deelname aan die vergaderinge.
6 Hierdie opleiding behels weliswaar harde werk vir die ouers. Maar wanneer dinge op God se manier gedoen word, werp dit goeie vrugte af. Soos die teks sê: “Wie in sy regskapenheid wandel as ’n regverdige—gelukkig is sy kinders na hom.”—Spr. 20:7.