Verkondig die goeie nuus van huis tot huis
1 Ons werk om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig is aan ons opgedra deur die grootste outoriteite in die heelal, die soewereine Heer Jehovah en sy gekroonde Seun, Jesus Christus.—Matt. 28: 18; Openb. 14:6, 7.
2 Jesus het die voorbeeld gestel en “die een stad en dorp na die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig” (Luk. 8:1). Sy dissipels het die les wat hy hulle deur woord sowel as deur voorbeeld geleer het, gesnap (Matt. 13:51, 52). Hulle het besef hoe belangrik die openbare predikingswerk is. Selfs nadat hulle vanweë hulle vrymoedigheid gegesel is, het hulle nie opgehou nie, maar voortgegaan om daagliks in die tempel en van huis tot huis “die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is” (Hand. 5: 41, 42; 20:20). Vandag word hierdie werk net deur Jehovah se Getuies gedoen, wat gedurende die afgelope diensjaar meer as 739 miljoen uur aan die predikingswerk bestee het, waarvan ’n groot deel huis-tot-huiswerk was.—Hag. 2:7; Jes. 60:22.
WAT DEUR DIE HUIS-TOT-HUISWERK BEREIK WORD
3 Soos Esegiël 33:33 en 38:23 aandui, speel ons predikingswerk van huis tot huis ’n belangrike rol in die heiliging van Jehovah se naam. Die goeie nuus van die Koninkryk word ronduit aan individuele huisbewoners bekend gemaak, wat hulle die geleentheid bied om te toon waar hulle staan (2 Thess. 1:8-10). Hulle sal hopelik beweeg word om hulle aan Jehovah se kant te skaar en die lewe te ontvang.—Matt. 24:14; Joh. 17:3.
4 ’n Gereelde deelname aan die werk van huis tot huis versterk ook ons hoop in God se beloftes. Ons vermoë om die Bybel bekwaam te gebruik verbeter. Ons word gehelp om mensevrees te bowe te kom. Meer empatie kan aangekweek word wanneer ons eerstehands opmerk hoe mense ly omdat hulle Jehovah nie ken nie en nie volgens sy regverdige standaarde lewe nie. Ons word ook gehelp om die vrugte van God se gees in ons eie lewe aan te kweek.—Gal. 5:22.
KOM STRUIKELBLOKKE TE BOWE
5 Vind jy dat talle nie by die huis is wanneer jy bedags daar besoek aflê nie? Wat van diep ingewortelde onverskilligheid, veral in gebied wat herhaaldelik gedek word? Moenie toelaat dat hierdie dinge jou ontmoedig nie. Bid tot Jehovah en hy sal jou help om die gebied met die regte gemoedstemming te benader. Beskou elke deur asof daar ’n potensieel regskape persoon daaragter is. Laat die individu toon of hy waardig is, soos Jesus gesê het.—Matt. 10:11-14.
6 Selfs in gebied wat herhaaldelik gedek word, is daar dalk talle mense vir wie ons nie dikwels getuig nie omdat hulle selde tuis gevind word. Besoeke op verskillende tye ten einde ander lede van die gesin te ontmoet asook ’n juiste huis-tot-huisverslag het tot gevolg dat die gebied deegliker gedek word.
7 Gedurende Junie en Julie sal ons een van of albei die boeke Geluk—Hoe om dit te vind en Oorlewing tot in ’n nuwe aarde teen ’n bydrae van R2,00 elk aanbied. Het jy reeds jou eksemplare vir verspreiding in die huis-tot-huiswerk bekom? Maak seker dat jy ’n goeie voorraad in jou velddienssak het voordat jy aan die velddiens deelneem.
8 Die verkondiging van die goeie nuus van huis tot huis wat deur God beveel is, nader vinnig voltooiing. Ons wil graag aan Jehovah verslag doen en met ’n goeie gewete sê: “Ek het gedoen soos U my beveel het” (Eseg. 9:11). Ywerige werk van huis tot huis sal ons in staat stel om dit te doen.