Help jongmense om by die streekbyeenkoms baat te vind
1 Die uitnodiging na die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms word aan elke aanbidder van Jehovah gerig. Byeenkomsvoorbereidsels is getref met die groot aantal jongmense onder ons in gedagte. Ja, daar word van jongmense, selfs “die kleintjies”, verwag om dit by te woon.—Deut. 31:12, NW.
2 Ouers moet hulle kinders leer dat die byeenkoms ook vir hulle is. Kinders kan goed vorder as hulle besef dat dit deel van hulle aanbidding is om by die byeenkoms te wees en na die program te luister. Dit is weliswaar nie altyd vir kinders maklik om die hele tyd gedurende die sessies te bly sit, stil te bly en aandag te skenk nie. Van die materiaal wat aangebied word, kan ook vir hulle moeilik wees om te verstaan. Dit verg dus voortdurende aandag en inspanning, ja, harde werk, van die ouers.
3 Dit is bemoedigend om te sien dat jong kinders en tieners wat die byeenkoms bywoon opregte belangstelling in geestelike voordele toon. Hoewel die entoesiasme soms hoofsaaklik toegeskryf kan word aan die geleentheid om te reis, die opwinding van die skare, die uitetery, ensovoorts, kan selfs baie klein kindertjies gehelp word om die byeenkoms self te waardeer en dienooreenkomstig geestelik daarby baat te vind.
HOE OUERS KAN HELP
4 Kinders se gedagtes moet ter voorbereiding van die byeenkoms op geestelike dinge gevestig word. Voordat julle die byeenkoms bywoon, kan julle gerus saam met julle kinders gaan sit en die inligting onder “Godly Devotion” in die Insight-boek hersien. Dit sal almal in die gesin ongetwyfeld help om by die byeenkomsprogram baat te vind.
55 Baie ouers het uitstekende resultate behaal deur hulle kinders van hulle eie Bybel, liedereboek en ander lektuur te voorsien. As ’n behoorlike beskouing van die Bybel en ons lektuur by kinders ingeskerp word, sal dit help om die neiging teë te werk om met die boeke te speel deur in hulle te teken of te skryf. Moedig kinders aan om aantekeninge te maak en hersien dit dan saans met die hele gesin. Dit sal ook die beste wees om nie inkleurboeke en ander speelgoed na die byeenkoms te bring nie.
SKENK AAN DAG AAN DISSIPLINE EN VOORKOMS
6 Sommige ouers het toegelaat dat hulle kinders ’n steurnis gedurende die program word. Selfs gedurende die gebede speel sommige kinders en trek hulle ander se aandag af. Vra jou af: ‘Wat doen my kinders gedurende die gebede? Behoort hulle toegelaat te word om hulle sitplekke gedurende die program te verlaat?’ Besorgde ouers vind dit verstandig om naby hulle kinders te sit. Dit stel hulle in staat om behoorlik toesig te hou sodat hulle ander nie steur nie. Selfs wanneer ouers verantwoordelikhede by die byeenkoms het, moet hulle probeer om gedurende die sessies by hulle kinders te sit. Kinders het ook wanneer hulle ontspan en nie by die byeenkomsterrein is nie die toesig van hulle eie ouers nodig.
7 Hoe trek ons kinders aan vir byeenkomste? Sal dit hulle help om die erns van die geleentheid te besef as hulle slenterdrag en speelskoene dra? Daarenteen weerspieël kinders wat gepas aantrek vir Christenvergaderinge die waardigheid en erns van die geleentheid. Dit strek Jehovah se naam tot eer en lof.
8 ’n Ernstige gemoedstemming kan aangemoedig word deur te reël dat die kinders na die sessies ’n bietjie werk. Kinders onder 16 kan saam met ’n ouer of ’n ander verantwoordelike volwassene onder die leiding van die Vrywilligerafdeling werk. Baie kinders beskou dit as ’n voordelige aspek van die byeenkoms.
9 Wanneer ouers sowel as ander oor hierdie wenke nadink, kan dit hulle bewus maak van hoe hulle kinders kan help om in groter mate by die byeenkoms baat te vind.