Hoe om God se wet ‘binne-in ons ingewande’ te kry
1 Daar is geprofeteer dat Jesus Jehovah se wet ‘binne-in sy ingewande’ sou hê (Ps. 40:9). Dit was wel die geval, en dit het hom gehelp om sy Vader se wil te doen.
2 Sy gesalfde dissipels het eweneens Jehovah se wet ‘in hulle verstand en op hulle hart geskrywe’ gehad (Hebr. 8:10). Dit het hulle in staat gestel om goeie gedrag te handhaaf en hulle bediening ten volle te vervul. Hoe kan ons almal verseker dat Jehovah se wet in ons verstande is en op ons harte geskrywe is?—Spr. 3:3.
PERSOONLIKE STUDIE EN NAVORSING
3 Persoonlike studie van die Woord van God kan ons help om die waarheid ons eie te maak. Studie behels navorsing en bepeinsing. Dit is volgehoue, doelgerigte konsentrasie met noukeurige aandag aan besonderhede. Ons moet nie net die Genootskap se publikasies lees wanneer ons hulle ontvang nie, ons moet onsself ook dissiplineer om ’n gereelde studieprogram te hê waarvolgens ons vir al ons weeklikse vergaderinge sal voorberei.
4 Goeie studiegewoontes versterk ons oortuiging ten opsigte van die waarheid en verstewig ons hoop vir die toekoms. Ja, ons ‘groei tot redding’ (1 Pet. 2:2, NW). Wanneer ons interessante dinge uit die Skrif leer, wil ons daaroor praat. Ons word dus beweeg om liefde aan ons naaste te betoon deur met hulle te praat oor die dinge wat ons geleer het. Ons ywerige verkondiging van die “woord van die koninkryk” gaan gepaard met waardering vir geestelike dinge wat deur goeie studiegewoontes verkry word.—Matt. 13:19.
STUDIEHULPE
5 Jehovah se organisasie het ons van die nodige voorsien om ’n uitstekende kennis van die waarheid op te doen. Gebruik jy die Index vir 1930-1985? Wat ’n skat van juiste kennis het ons tog in hierdie voortreflike instrument en die verskillende publikasies wat nou beskikbaar is! Die Insight-boeke en die Openbaring-boek moet ook nie vergeet word nie. Benut jy dit ten volle?
6 In die mate wat ons moeite doen met persoonlike studie, sal ons daarby baat vind. Bepaal met inagneming van jou daaglikse omstandighede wanneer en waar jy die stilte en afgesonderdheid kan vind wat vir konsentrasie en bepeinsing nodig is. Maak seker dat jy om Jehovah se hulp bid voor jy begin studeer. Dit is nodig dat God se Woord op ons harte en verstande ingeprent is as ons verstandig wil optree in hierdie kritieke tye (Spr. 7:1-3; Jos. 1:8). Jehovah gebruik sy gees om sy wet en vermanings in ons harte te bevestig (Joh. 14:26; 1 Kor. 2:10). Hy sal nie ’n opregte versoek om hulp om die skatte van sy Woord te vind en te verstaan, ignoreer nie.—Spr. 2:1-6.
7 Ons moet gereeld en bestendig wees in ons studieprogram sodat ons God se wet ‘binne-in ons ingewande’ kan kry. Dan sal ons groter geestelikheid ontwikkel, ’n baie beter begrip van die waarheid verkry, ons vaardighede verbeter om ander die waarheid te leer en ’n vaster voet op “die pad van die lewe” te behou.—Ps. 16:11; Kol. 2:7.