Bied die goeie nuus aan—Deur traktate goed te gebruik
1 Gedurende die “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkomste van 1987 is vier nuwe traktate vrygestel. Hulle is Waarom jy die Bybel kan vertrou, Wat glo Jehovah se Getuies?, Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld en Watter hoop vir afgestorwe dierbares? Het jy hierdie traktate goed gebruik in die veld?
2 Baie verkondigers laat traktate by huise waar niemand tuis is nie. En hulle gee dit vir mense wat te besig is om te luister wanneer hulle besoek aflê. Sommige vind dat dit help om die huisbewoner se belangstelling te wek as hulle ’n traktaat gebruik om hulle by die deur voor te stel. Ander verkies om dit as ’n gratis geskenk aan te bied by besoeke waar mense geen lektuur neem nie, maar belangstelling toon.
WANNEER EN HOE OM HULLE TE GEBRUIK
3 As jy aanpasbaar en wakker vir geleenthede is, kan jy baie geleenthede vind waar jy traktate kan aanbied. Traktate kan byvoorbeeld nuttig wees wanneer jy vir familielede getuig. Jy kan traktate gebruik wanneer jy met vakansie is, inkopies doen of reis en by die skool of by jou werkplek is. Hou jy traktate byderhand, miskien in jou baadjie- of hempsak, beursie of aktetas? As jy te alle tye traktate by jou het, kan dit jou aanspoor om informeel te getuig. Soek gerus na geleenthede om traktate aan te bied.
4 Ongeag die geleentheid, jy kan die traktate gebruik om ’n doeltreffender getuienis te lewer. Hoewel die boodskap wat hulle bevat kort is, is wat hulle sê baie oortuigend en word dit gestaaf deur duidelike skriftuurlike redenasies. Die traktate bevat kleurryke prente en kan nuttige instrumente wees om goeie resultate in die bediening te behaal. Wees wakker vir geleenthede om hulle by mense oral aan te bied.
IN VELDDIENS
5 Het jy die gedagteprikkelende titels van die traktate benut om belangstelling in die Koninkryksboodskap te wek wanneer jy van huis tot huis werk? Sommige verkondigers beklemtoon uit die staanspoor die titel van ’n traktaat in hulle inleiding. Probeer gerus self hierdie benadering. Jy kan sê: “Hallo. Ek is bly om u tuis te vind. Ek het aangebied om te help om ’n baie belangrike boodskap bekend te maak. Dit word vervat in hierdie traktaat Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld. Hierdie eksemplaar is vir u. Dit is gratis. [Gee dit aan die huisbewoner en vestig sy aandag op die buiteblad.] Sal u daarvan hou om in so ’n vreedsame omgewing te woon?” As omstandighede dit dan toelaat, kan jy voortgaan met die ‘Onderwerp vir gesprekke’ en die aanbod vir die maand daarby inskakel.
6 Na gelang van waar jy woon, kan jy dit nuttig vind om te meld dat jou boodskap uit die Bybel kom. Die traktaat Waarom jy die Bybel kan vertrou kan baie doeltreffend wees in jou gebied. Jy kan byvoorbeeld sê: “Ons laat vandag ’n gratis Bybelboodskap by ons bure. Hierdie eksemplaar is vir u. [Gee dit aan die huisbewoner.] Let op dat die onderwerp oor die Bybel handel. Dink u dat mense vandag vertroue in die Bybel verloor het? [Laat huisbewoner antwoord.] Hierdie traktaat sal u help om te sien waarom ons kan vertrou wat die Bybel sê.” Gaan voort met die ‘Onderwerp vir gesprekke’ en toon watter seëninge God vir die aarde sal bring.
7 Die verspreiding van Bybeltraktate is ’n beproefde en doeltreffende manier om die “goeie nuus” aan te bied (Matt. 24:14). Hulle speel ’n belangrike rol in ons openbare bediening en wanneer ons informeel getuig. Laat ons ons pragtige traktate goed gebruik om ’n puik getuienis te lewer en ander sodoende te help om van God se Koninkryk te leer.