Bevredig jou geestelike behoefte
1 Jesus het gesê: “Gelukkig is diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matt. 5:3, NW). Waarom is dit so belangrik om bewus te wees van ons geestelike behoefte? Hoe kan ons toon dat ons daarvan bewus is? Watter slaggate moet ons vermy, en watter seëninge sal daaruit voortspruit as ons bewus is van ons geestelike behoefte?
2 Ons almal is ongetwyfeld bewus van die verwantskap tussen ons fisiese welsyn en ’n gesonde dieet. ’n Mens kan nie aanhoudend sy fisiese behoeftes verwaarloos en verwag om dag in en dag uit kwaliteitswerk te lewer nie. Dieselfde beginsel geld as ons nalaat om ons geestelik te voed.—Matt. 4:4; Joh. 17:3.
VERGADERINGE HELP OM BEHOEFTES TE BEVREDIG
3 Daar is ’n direkte verband tussen ons geestelike welsyn en ons geestelike voedingsprogram. By ons vergaderinge voorsien “die getroue en verstandige dienskneg” ’n puik geestelike maaltyd om ons behoeftes te bevredig (Matt. 24: 45-47). Elke vergadering beantwoord aan ’n spesifieke doel, en geeneen moet afgeskeep word nie. Berei jy vir al die vergaderinge voor, en woon jy hulle gereeld by?
4 Laat ons kortliks net drie van ons vyf weeklikse vergaderinge bespreek. Die Wagtoring-studie is die vernaamste vergadering wat daarop gemik is om ons op hoogte van progressiewe waarheid te hou. Die Teokratiese Bedieningskool kan ons help om bekwame bedienaars te word. By die Gemeentelike Boekstudie word verskeie Bybelonderwerpe noukeurig bestudeer.
5 Berei jy voor vir gemeentelike vergaderinge? Party lees dalk vlugtig deur die studiemateriaal, onderstreep haastig die antwoorde op die vrae, maar slaan nie die teksverwysings na nie. Hulle kan dalk ’n basiese antwoord gee, maar kry hulle al die geestelike voedingswaarde wat beskikbaar is? Kan jy en jou gesin verbeter ten opsigte van die manier waarop julle vir vergaderinge voorberei?
KOOP DIE TYD UIT
6 Wanneer jy tyd opsysit om vir vergaderinge voor te berei, moet jy nie toelaat dat televisie of enige ander minder belangrike bedrywighede jou planne omvergooi nie. Gesinshoofde in die besonder moet hulle gesinne help om by ’n gereelde program van Bybelstudie, voorbereiding vir vergaderinge en deelname aan die veldbediening te bly. Almal moet die apostel Paulus se raad om ‘die tyd uit te koop’ ernstig opneem en aan hulle geestelikheid die voorkeur gee.—Ef. 5:15-17.
7 As ons bewus is van ons geestelike behoefte, sal ons die slaggate van oorgerustheid, of selfvoldaanheid, vermy. As individue en as gesinne het ons we-senlike geestelike behoeftes. Ons ewige geluk hang af van die poging wat ons aanwend om ons geestelike behoeftes te bevredig.