Wees wakker om Bybelstudies te begin
1 Ons opdrag as Jehovah se Getuies sluit in dat ons tuisbybelstudies begin en hou (Matt. 28:19). Sal ons dus God se medewerkers wees deur dit te doen? (1 Kor. 3:9). Wat ’n voorreg is dit tog om ander te help om die grootste Persoon in die heelal te leer ken!
2 Aangesien soveel probleme met vinnig veranderende wêreldgebeure verband hou, wil baie opregtes van hart weet waarom hierdie dinge gebeur. Jehovah het lank gelede reeds hulle vrae beantwoord. Wanneer opregtes in die Woord van God onderrig word, word hulle bemoedig. Daarom moet ons wakker wees vir geleenthede om Bybelstudies te begin.—Spr. 3:27.
WEES WAKKER VIR GELEENTHEDE
3 Het jy dit al oorweeg om ’n Bybelstudie met ’n naasbestaande of ’n kennis te begin wat nie in die waarheid is nie? Aangesien jy hulle ken, het jy daardie voorsprong om onderskeidingsvermoë te gebruik deur die gepaste tyd te kies om die saak met hulle te bespreek. Hou in gedagte dat ’n goed gekose vraag of ’n woord op die regte tyd hulle belangstelling in die waarheid kan wek. Wanneer ’n persoon se nuuskierigheid geprikkel is, lei dit dikwels tot goeie besprekings, en ’n Bybelstudie word dalk begin.
4 In baie gevalle het die goeie gedrag van ’n Christenhuweliksmaat die weg gebaan vir ’n ongelowige om in die waarheid te kom (1 Pet. 3:1, 2). Ongelowige huweliksmaats en ander ongelowige familielede waardeer dit gewoonlik wanneer lede van die gemeente hulle aanvaar en respekteer. As ons persoonlik in hulle belangstel, kan dit baie daartoe bydra om vriendskaplike betrekkinge met hulle aan te knoop. Jy kan ’n Bybelstudie begin deur met die huweliksmaat of familielid wat in die waarheid is saam te werk.
5 Terwyl ons van huis tot huis werk, kan ons probeer om ’n Bybelstudie op die eerste besoek te begin. Hoe kan dit gedoen word? Party verkondigers het hiermee welslae behaal wanneer die huisbewoner vrae vra wat direk uit ’n publikasie beantwoord kan word. As die persoon instem om die lektuur te lees of as hy ons innooi, kan ons die geleentheid aangryp om die bespreking voort te sit en moontlik ’n studie te demonstreer. Gebruik jou goeie oordeel oor hoe lank om op die eerste besoek te bly. Dit is dalk voordelig om later of op ’n ander dag terug te gaan en die bespreking voort te sit. Jy kan met jou volgende besoeke voortgaan om die onderwerp te bespreek wat jy tydens die eerste besoek geopper het. Of jy kan ’n vraag beantwoord wat aan die einde van die vorige besoek geopper is.
INFORMELE GELEENTHEDE
6 Informele getuieniswerk kan nog ’n lonende manier wees om tuisbybelstudies te probeer begin. Tydens ons daaglikse aktiwiteite kom ons in aanraking met baie persone wat graag wil studeer. Om ons te help sodat ons welslae behaal, kan ons party beproefde inleidings uit die Redenering-boek gebruik om gesprekke te begin. En ons moenie aanvanklik huiwer om ’n Bybelstudie aan te bied omdat die persoon êrens anders woon en ons dalk nie die geleentheid sal hê om self die studie te hou nie.
7 Wees wakker vir geleenthede om informeel te getuig en wees voorbereid deur ’n goeie voorraad traktate en tydskrifte byderhand te hê wat die luisteraar se belangstelling in die waarheid sal vergroot (Pred. 11:1). As iemand in die waarheid belangstel en nie in jou gemeente se gebied woon nie, moet jy sy adres en die ander nodige informasie kry en dit aan die gemeente stuur waar hy woon sodat iemand behoorlik na hom kan omsien.
8 Die dissipelmaakwerk is nie net vir ’n paar nie. Dit is vir almal in die gemeente. As ons in gedagte hou dat dit Christene se opdrag is om dissipelmakers te word, sal dit ons aanspoor om wakker te wees vir geleenthede om Bybelstudies te begin.