Vraebus
● Waarom is dit belangrik om twee boeke deeglik met nuwe dissipels te studeer selfs as hulle gedoop word voordat hulle met die tweede boek klaar is?
Jehovah seën sy organisasie met baie nuwelinge wat na die gemeentes stroom. Ons is verheug om hierdie groot insameling te sien. Maar ons besef dat hierdie skaapgeaardes voortdurend hulp en leiding nodig het om Jehovah te leer dien.
Nuwelinge het hulp nodig om tot ’n juiste kennis van die waarheid te kom (Kol. 1:9, 10, NW). Ons het die voorreg om hulle te help om ’n goeie begrip te kry van basiese Bybelleerstellings, sowel as van wat die Bybel aangaande morele standaarde, die Christelike leefwyse en verwante sake leer. Dit sal hulle help om in die waarheid gevestig te raak sodat hulle enige toetse wat moontlik voorlê te bowe kan kom.
Studente moet ook in hulle denke volwasse word (1 Kor. 14:20, NAV). Die ondervinding het geleer dat ’n persoonlike Bybelstudie saam met ’n onderrigter nuttig is om die statuur van ’n geestelike volwassene te bereik. Al word iemand gedoop voordat hy twee boeke klaar gestudeer het, is dit dus verstandig dat hy met sy tuisbybelstudie moet voortgaan totdat hy albei boeke voltooi het.
NA HY GEDOOP IS
Jesus het gesê ons moet dissipels maak en hulle doop en leer (Matt. 28:19). ’n Groot deel van die dissipels se onderrig vind ná die doop plaas. Die kennis wat ’n persoon uit net een boek kan verwerf, is gewoonlik nie genoeg geestelike opleiding nie. Bykomende opleiding is nodig om hom vir die bedieningswerk toe te rus en hom in staat te stel om die druk te weerstaan wat oor diegene kom wat Jehovah in hierdie laaste dae dien. As ons nie voldoende opleiding voorsien nie, kan dit die student geestelik onvoorbereid laat om op sy eie te staan. Na ’n nuweling gedoop is, gaan ons voort om hom te help om verdere vooruitgang te maak, hetsy hy twee boeke klaar gestudeer het of nie. Die eerste publikasie wat bestudeer word, help hom om die grondbeginsels te verstaan. Die tweede publikasie dek Christelike eienskappe. Hierdie publikasies kan die Paradys op aarde-boek en dan die Verenig in aanbidding- of die Ware vrede-boek wees. As hierdie boeke nie beskikbaar is nie, kan ander met soortgelyke informasie gebruik word. As ons met die Bybelstudie voortgaan totdat die tweede boek klaar is, ontvang die student ’n deeglike opleiding wat Jehovah se voornemens sowel as sy hoë Christelike standaarde en vereistes betref. Dit help die nuweling om die betekenis van Christelike beginsels te verstaan en stewig in die geloof gewortel te word (Kol. 2:7). Sien die Vraebus in Ons Koninkryksbediening vir November 1987 vir verdere besonderhede en informasie oor hoe sulke studies gerapporteer moet word.
Na die doop word daar natuurlik verwag dat nuwelinge geestelik vooruitgang sal maak (Hebr. 6:1-3). In die meeste gevalle duur dit nie lank voor die tweede boek voltooi is nie. Die nuweling word sodoende van ’n vaste fondament voorsien.