Die Belangrikste dag in 1991
1 Hierdie jaar is Saterdag, 30 Maart, die belangrikste datum op ons kalender. Ná sononder op daardie dag sal ons die herdenking van Jesus se dood vier (1 Kor. 11:20, 24). Waarom is die datum van Jesus se dood ’n spesiale gedenkdag gemaak?
DIE GEDENKMAAL—DIE BETEKENIS DAARVAN
2 Jesus se dood was ’n gebeurtenis van universele belang. Toe die apostel Paulus aan lede van die geesgesalfde Christengemeente geskryf het, het hy gesê: “Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:26). Die Gedenkmaal vestig dus spesiale aandag op die betekenis van Jesus Christus se dood in die vervulling van Jehovah se voorneme. Dit vestig die aandag op die betekenis van Jesus se offerdood, veral in verband met die nuwe verbond en die manier waarop sy dood diegene beïnvloed wat sy mede-erfgename in die hemelse Koninkryk sal wees.—Joh. 14:2, 3; Hebr. 9:15.
3 Deur sy onkreukbaarheid tot sy dood toe te handhaaf, het Jesus sy Vader se naam verheerlik en getoon dat ’n volmaakte man aan God getrou kan bly onder elke soort toets wat Satan teen hom kan inbring. Sy dood het ook die volmaakte menseoffer voorsien wat nodig is om Adam se nageslag vry te koop en om dit moontlik te maak dat almal wat geloof beoefen vir ewig op ’n paradysaarde kan lewe. Weens alles wat deur Jesus se dood bewerkstellig sou word, was dit baie gepas dat hy sy dissipels beveel het om sy dood te herdenk.—rsAF bl. 140-1.
HOE ONS WAARDERING KAN TOON
4 Die wêreld het baie vieringe gedurende die jaar, en daar word ’n groot ophef daarvan gemaak. Daarenteen is die Here se Aandmaal die enigste viering wat Jesus se toegewyde voetstapnavolgers beveel is om te hou. Dit is ongetwyfeld vir alle ware Christene die grootste viering in die jaar. Moet die groot betekenis van die herdenking van die Here se Aandmaal ons nie beweeg om gedurende Maart die aandag daarop te vestig nie?
5 Ons kan miskien gedurende Maart elke week ’n paar minute afsonder om met ons Bybelstudente die tekste te bespreek wat die aandag vestig op die betekenis van Christus se dood, en ons kan hulle die grondslag van die Gedenkmaal toon. Ons kan hulle ook aanmoedig om die Skrifgedeelte vir die Gedenkmaal van 25-30 Maart noukeurig te volg, soos dit op Jehovah se Getuies se kalender vir 1991 verskyn. Dit kan help om hulle waardering vir die Here se Aandmaal te vergroot.
6 Aangesien die Gedenkmaalviering op ’n Saterdag is, sal dit vir talle makliker wees om hulle sake so te reël dat hulle dit kan bywoon. Baie verkondigers maak gebruik van die feit dat daar vyf naweke in Maart is om as hulppioniers te dien. Dit stel hulle in staat om ’n groter aandeel daaraan te hê om die aandag op die viering van die Here se Aandmaal te vestig. Dit bied bykomende geleenthede om nuwelinge te help om hulle verstandelik vir hierdie spesiale geleentheid voor te berei.
7 Met die oog op die betekenis van die Gedenkmaalviering, moet ons alles moontlik doen om ander te help om dit by te woon. Nuttige herinneringe oor besonderhede waarna die ouere manne moet omsien, kan in Ons Koninkryksbediening vir Maart 1989 en April 1990 gevind word.
8 Mag ons vir hierdie belangrikste dag in 1991 voorberei met onderskeidingsvermoë en diep waardering vir alles wat Jesus se dood vir die mensdom beteken. Ja, mag ons almal die aand van 30 Maart teenwoordig wees wanneer Jehovah se ware aanbidders weer eens Jesus se bevel gehoorsaam om ‘die dood van die Here te verkondig totdat Hy kom’.