Ons vier die dood wat ons die hoop op die ewige lewe bied
1 Ná sononder op 6 April 1993 sal ons die dood van die Hoofbewerker van die lewe vier (Hand. 3:15, NW). Dit is inderdaad heel gepas om die lewe en dood van Jesus Christus te vier. Ons hoop om vir ewig te lewe, berus op Jesus se vergote bloed.
2 Die Gedenkmaal beklemtoon die belangrike rol wat Christus se dood in die vervulling van Jehovah se voorneme speel. Daardie voorneme sluit die voorsiening van ’n volmaakte menseoffer in om Adam se nakomelinge los te koop, wat dit vir miljarde moontlik maak om geloof te beoefen en vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.—Joh. 3:16.
3 Alle liefhebbers van die waarheid en die lewe sien daarna uit om die Here se Aandmaal in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag te vier (Luk. 22:19). Wat kan ons persoonlik doen om ons waardering vir die voorsiening van Christus se losprysoffer te toon? Ter erkenning van die belangrikheid van hierdie viering is goeie organisasie uiters belangrik. Watter voorbereidsels kan jy vir hierdie spesiale gebeurtenis tref?
4 Voorbereiding is nodig: Ons sal natuurlik seker maak dat elke gesinslid teenwoordig is. Ons moet ons ook verstandelik voorberei deur die Bybelverse wat vir 1-6 April op die Kalender vir 1993 aangegee word, te lees en daaroor te peins. Dit sal gepas wees om net voor 6 April inligting oor die belangrikheid van die Gedenkmaal in ons persoonlike en gesinsbybelstudie in te sluit. Beplan om vroeg by die saal te wees en ’n bietjie langer ná afloop van die Gedenkmaalviering te bly sodat jy kan help om belangstellendes te verwelkom wat vir die eerste keer ’n vergadering bywoon.
5 Nooi alle belangstellendes wat jy ken gedurende die weke voor die Gedenkmaal na hierdie viering uit. Gebruik die gedrukte uitnodigings wat deur die gemeente bestel is. Wanneer jy hierdie uitnodigings gebruik, moet jy onthou om vir mense te sê waar en hoe laat die viering in julle gebied gehou gaan word. Stel ’n lys op van diegene wat jy wil uitnooi. Het almal wat graag wil kom vervoer? Indien nie, kan jy iets doen om hulle te help? As jy ekstra plek in jou motor het, kan jy die ouere manne in die gemeente gerus vra of iemand vervoer nodig het.
6 Aangesien dit die belangrikste viering van die jaar is en daar baie mense verwag word, moet die ouere manne voor die tyd spesiale voorbereidsels tref (1 Kor. 14:40). Die ouere manne moet reël dat daar ’n week of wat voor 6 April ’n spesiale vergadering gehou word met die broers wat tydens die viering gaan help, om seker te maak dat hulle die sitplekreëlings verstaan en weet hoe die embleme aangegee moet word. As jy as ’n saalwagter of ’n bediener aangewys word, moet jy seker maak dat jy die ouere manne se instruksies in hierdie verband noukeurig volg. Deur die wenke in die venster op bladsy 7 na te gaan, kan die ouere manne seker maak dat alle reëlings in verband met die saalwagters, bedieners, embleme en die spreker lank voor die tyd getref word.
7 Daar is vandag net ’n paar van Christus se broers op die aarde oor en in die nabye toekoms sal die Here se Aandmaal nie meer gevier word nie (1 Kor. 11:25, 26). Laat ons, so lank ons nog die voorreg het om dit te doen, aanhou om op ’n gepaste wyse die dood te vier wat ons die hoop op die ewige lewe bied.