Laat elkeen in verhouding tot sy inspanning maai
1 Jehovah God het nog altyd sy liefde vir die mens op baie maniere getoon. Jesus het God se ongeëwenaarde liefde beklemtoon toe hy ’n skare wat byeengekom het daarop gewys het dat God ‘sy son laat opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat rëen op regverdiges en onregverdiges’ (Matt. 5:43-48). Jesus het by ’n ander geleentheid gesê wat sy Vader se uitnemendste betuiging van liefde was—die opoffering van sy eniggebore Seun, wat God gegee het sodat ons gered kan word (Joh. 3:16). Jesus het sy luisteraars vermaan om met waardering op Jehovah se liefde te reageer. Strewe ons daarna om dit te doen?
2 As ons ons volle waardering vir Jehovah se liefde wil betoon en vir ewig daarby baat wil vind, moet ons hom leer ken (Joh. 17:3). Ons het raad en leiding nodig oor hoe ons hom op aanneemlike wyse kan dien. Jehovah het sy liefdevolle besorgdheid getoon deur ons sy geïnspireerde Woord, die Bybel, te gee en deur sy wonderlike organisasie, waardeur ons raad en onderrig ontvang, op te rig (Matt. 24:45-47; 2 Tim. 3:16, 17). Ons is as Jehovah se toegewyde volk in sy weg geleer. Maar toon elkeen van ons deur ons inspanning dat ons Jehovah se liefde waardeer? Luister ons na sy raad sodat ons hom kan behaag en sodoende self daarby baat kan vind? (Jes. 48:17, NW; Jak. 1:22). Die apostel Paulus het in 1 Korinthiërs 3:8 geskryf: “Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang.”
3 Ja, ons moet ons daarop toelê om te doen wat God wil hê ons moet doen. Nie almal maak ewe vinnig geestelik vooruitgang nie. Daar is baie faktore wat ons vooruitgang kan beïnvloed, en dit sal onverstandig wees om ontmoedigende vergelykings te tref. Maar die manier waarop ons ons as individue inspan, is uiters belangrik. Wat kan ons doen om nader aan die organisasie te kom? Is daar gebiede waarop ons as Christene ons persoonlike verantwoordelikhede beter kan nakom? Watter inspanning sal dit verg om gemeentelike bedrywighede beter te ondersteun? Is daar punte in die instruksies wat die organisasie ons gee wat ons moet toepas?—1 Tim. 4:16.
VOLG GETROUES NA
4 Getroue broers en susters verkondig die goeie nuus van die Koninkryk al dekades lank. Hierdie getroues, soos Paulus, is navolgenswaardig (1 Kor. 11:1). Hulle het op God se liefde gereageer en baie voordele gemaai vanweë hulle harde werk en hulle persoonlike inspanning om Bybelraad te volg. Hulle maak ’n standvastige kern van bedrywige werkers in die gemeente uit wat nie hulle persoonlike verantwoordelikheid versuim nie. Ons kan die vrugte van hulle individuele ywer sien.—Rom. 1:13; 2 Kor. 3:1-3.
5 Tienduisende nuwelinge stroom nou jaarliks in die organisasie in (Jes. 60:8). Hulle lê hulle ook in alle erns daarop toe om ryp geestelike persone te word, en hulle ywer in die predikingswerk is prysenswaardig. Hulle vind daarby baat wanneer hulle sien hoe Jehovah diegene seën wat hard werk in sy diens. Die voorbeeld van ryp broers en susters help nuwelinge om te besef dat dit nie nou die tyd is om traag te word of ons diens aan God te verslap nie. Hetsy ons nuwelinge of ervare verkondigers is, hou ons aan om voortdurend geestelik te groei, aanvaar ons ons Christelike verantwoordelikhede en benut ons alle teokratiese voorsieninge?
PAS TOE WAT ONS LEER
6 Lank voor Jakobus geskryf het dat ons ‘daders van die werk’ moet wees, het Moses vir die Jode gesê: “Julle moet hierdie woorde toepas” (Jak. 1:25; Deut. 11:18, NW). Kennis op sigself was dus nie voldoende nie. Die Jode moes die woorde van die Wet in gehoorsaamheid aan Jehovah toepas. Hierdie grondbeginsel bly dieselfde. Jesus, die Seun van God, het beslis geweet hoe belangrik gehoorsaamheid is (Joh. 8:28). Hy het in Mattheüs 7:24 gesê: “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man.”
7 Pas ons toe wat ons by kringbyeenkomste leer? Besef ons waarom dit nou so belangrik is dat ons waaksaam is en ons sinne bewaar? Is ons op ons hoede vir die Duiwel se subtiele aanvalle en die strikke wat hy span? Waardeer ons die raad en waarskuwings wat die organisasie ons herhaaldelik gee oor die noodsaaklikheid van sedelike en geestelike reinheid in die gemeente? In watter mate pas elkeen van ons toe wat ons hoor?—Jak. 1:23-25.
8 Die huidige program vir die spesiale byeenkomsdag beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons heilig moet wees, soos Jehovah heilig is (1 Pet. 1:14-16). Heiligheid beteken godsdienstige reinheid of suiwerheid, gewydheid. Dit dui aan dat iemand vir die diens van God afgesonder is. Die bediening van die goeie nuus is aan ons toevertrou. Ons moet dus geestelik, sedelik en liggaamlik rein wees sodat ons waardig is om die heilige Woord van waarheid te dra. Dit vereis dat ons des te meer ag moet gee op onsself (Hebr. 2:1). Terwyl ons dit doen, sal ons seëninge in verhouding tot ons persoonlike inspanning maai.
VIND BAAT BY PERSOONLIKE STUDIE
9 Persoonlike studie help ons om sterk geloof op te bou, en dit vergroot ons waardering vir die waarheid. Dit gee ons vertroue en rus ons toe om met gesag te spreek. Dit gee ons insig en onderskeidingsvermoë en help ons om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee (Kol. 1:9-11). Produktiewe studie verg egter tyd en inspanning, en daar is geen kortpad om akkurate kennis en geestelike diepte te verkry nie. Wat ons in studie insit, is wat ons daaruit sal kry.—2 Kor. 9:6, 7; Gal. 6:7.
10 Sit ons elke week genoeg tyd opsy om vir gemeentelike vergaderinge voor te berei? Dit is een manier waarop ons waardering kan toon vir die geestelike dieet wat Jehovah deur die getroue en verstandige dienskneg voorsien. Deeglike voorbereiding vir die vergaderinge help ons om te bly by die rooster om God se Woord te lees en te studeer. Sit ons elke week tyd opsy om die Bybel te lees soos die program vir die Teokratiese Bedieningskool dit uiteensit? Dit neem elke dag net ’n paar minute om die materiaal te lees en daaroor te peins. Die Diensvergadering help ons om bedag te wees op maniere waarop ons ons openbare bediening doeltreffender kan maak. Dink ons, wanneer ons voorberei, goed na oor hoe ons hierdie inligting in die bediening kan gebruik? En span ons ons in om dit dadelik te gebruik? Spesifieke reëlings moet getref word om vir die Wagtoring-studie en die Gemeentelike Boekstudie voor te berei. Doen ons dit?
NEEM DEEL AAN VERGADERINGE
11 Ons kan meer baat vind by die vergaderinge wanneer ons daaraan deelneem. As ons vir die vergaderinge voorberei en dan ’n poging aanwend om daaraan deel te neem, help dit ons om aandagtig te luister gedurende die vergaderinge en by die kommentare van ander baat te vind. Baie onthou nog hoe hard hulle gewerk het om vir hulle eerste kommentaar by ’n vergadering of hulle eerste studentetoespraak op die Teokratiese Bedieningskool voor te berei. Ons is nou seker nie meer so senuweeagtig nie, maar werk ons nog hard sodat ons geestelike vooruitgang vir almal duidelik kan wees? (1 Tim. 4:15). Ons kommentare strek ander tot voordeel en bemoedig hulle. As ons goed voorbereid is en die materiaal wat by die vergadering bespreek gaan word, bestudeer het, sal ons sinvolle deelname ander tot liefde en goeie werke aanspoor.—Hebr. 10:23-25.
12 Ons kommentare moet nie lank en ingewikkeld wees nie. Dit is gewoonlik die beste om kort kommentare te lewer wat die vrae wat gevra word direk beantwoord of wat help om die toepassing van ’n teks te verduidelik. As ons goed voorberei het, sal ons in ons eie woorde kommentaar kan lewer. Wanneer ons dit doen, sal ons sowel as ander baie meer daarby baat vind. Waarom? Omdat dit vereis dat ons dink oor wat ons sê en dat ons die gedagte verduidelik soos ons dit verstaan. Dit kan dit vir ander makliker maak om die materiaal te verstaan. En dit sal ons help om die inligting te onthou sodat ons dit by ’n ander geleentheid kan gebruik.
SAAI OORVLOEDIG IN DIE VELD
13 Ons Christelike bediening is ’n skat van diens (2 Kor. 4:7). Beskou jy dit so? Deur die bediening het ons die voorreg om ons geloof aan ander bekend te maak. Jesus het gesê uit die oorvloed van die hart spreek die mond (Luk. 6:45). Ons persoonlike inspanning om ’n volle aandeel aan die veldbediening te hê, stel ons in staat om baie voordele te maai. Ons begrip van die waarheid word verskerp, en ons kan die Bybel baie beter gebruik. Ons smaak die vreugde om die waarheid aan ander mee te deel en hulle te help om van hulle Grootse Skepper te leer. Ons is getuies van die regverdigheid van God se heerskappy en sy soewereiniteit. Ons is gelukkig omdat ons weet dat ons Jehovah behaag deurdat ons ons vernuwe het om soos hy te word en sy wil te doen.—Matt. 5:48.
14 As ons voortdurend let op hoe ons ons inspan, sal ons aanbidding van Jehovah nooit vormdiens word nie. Wat beteken dit? Dit beteken dat ons nie halfhartig aan God se wil sal voldoen, en net skyndiens aan hom sal lewer of die minimum sal doen sonder opregte toewyding en inspanning nie. Ons diens aan Jehovah moet heelhartig wees. Ons het ’n skriftuurlike verpligting om ons ten volle in sy diens uit te leef (Kol. 3:23, 24). Omstandighede verskil weliswaar, en Jehovah verwag nie meer van ons as wat ons kan doen nie. Maar hy verwag dat ons doen wat ons kan! (Matt. 22:37). Aangesien die mens van nature geneig is om homself te spaar, is dit goed as ons onsself van tyd tot tyd ondersoek om te sien waar ons in ons diens aan God kan verbeter. Doen ons dit gereeld?
15 Ons moet daarteen waak dat persoonlike strewes en begeertes ons daarvan weerhou om ons bes in Jehovah se diens te doen. Vermaak, stokperdjies en ontspanning moet op hulle plek gehou word. Ons moet ook daarteen waak dat ons te betrokke raak by sekulêre bedrywighede. As ons Jesus se raad in Mattheüs 6:22, 23 volg, sal ons ons ongetwyfeld meer kan inspan om geestelike belange na te jaag en ooreenkomstig te maai.
16 Terwyl ons ons voortdurend daarop toelê om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee, sal ons ons verantwoordelikheid aanvaar om raad en wenke toe te pas wat ons by gemeentelike vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste en deur die publikasies ontvang. Mag ons almal ywerig studeer, daadwerklik aan die vergaderinge deelneem en ’n deel aan hierdie groot dissipelmaakwerk hê in die mate wat ons persoonlike omstandighede dit toelaat. As ons so met waardering op God se liefde reageer, sal ons nou oorvloedige geestelike seëninge maai en die vaste hoop op die ewige lewe in Jehovah se nuwe wêreld behou.