Aanvaar ons verantwoordelikheid om goed te doen aan ander
1 Die apostel Paulus het die eerste-eeuse Christene gemaan: “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie” (Hebr. 13:16, NAV). Hulle pogings om hulle broers selfs onder ongunstige omstandighede te help, sou hulle liefde vir God en vir mekaar versterk (Joh. 13:35). Ons word ook aangemoedig om goed te doen en mededeelsaam te wees.
2 Daarom het Jehovah voorsiening gemaak dat ons geestelik goed gevoed en goed toegerus is. Wat ’n skat van kennis het ons tog in elke Wagtoring en Ontwaak! Wat ’n vreugde is dit tog om elke nommer so gou as moontlik ná ons dit ontvang het te lees! Terwyl ons oor die skriftuurlike inligting peins, kan ons aantekeninge maak van gedagtes wat ons in die veldbediening sowel as in ons gesprekke met ander kan gebruik. Ons kan eweneens die tyd uitkoop om vir elke vergadering en veral vir die weeklikse bespreking van Die Wagtoring voor te berei. Persoonlike studie van God se Woord help ons om “die sin van Christus” te verkry en stel ons in staat om bevorderlike dinge mee te deel aan diegene wat ons teëkom.—1 Kor. 2:14-16; Ps. 19:15.
3 Verantwoordelikhede wat die moei- te werd is om te aanvaar: Almal wat Jehovah leer liefkry, wy hulle lewe aan hom toe. As ons die verantwoordelikhede aanvaar wat met toewyding gepaardgaan, toon ons dat ons aan Jehovah se kant is en dat ons ons van Satan se wêreld en sy slegte weë afgeskei het. As ons die voorbeeld volg wat Christus Jesus vir ons nagelaat het, stel ons vir ander ’n goeie voorbeeld (1 Pet. 2:21). Kringbyeenkomsprogramme soos die een vir die 1992-diensjaar met sy tema: “Dra ons eie pak van verantwoordelikheid”, moedig ons aan om ons toewyding na te leef.
4 Gereelde bywoning van gemeentelike vergaderinge stel ons in staat om opbouende gedagtes met mekaar te deel. Ons persoonlike studie en voorbereiding vir die vergaderinge voorsien ons van baie goeie inligting wat ons met ander kan deel. As ons sulke persoonlike belangstelling in ander toon, werk dit ’n hartlike, vriendelike familiegees in die hand. Ons bydrae tot die vergaderinge toon dat ons waarlik saamstem met Paulus se woorde in Hebreërs 10:24, 25, en dat ons ons verantwoordelikheid om ander aan te moedig, aanvaar.
5 Streef bykomende verantwoorde- likhede na: Kan ons gedurende die 1992-diensjaar groter verantwoordelikhede, soos hulppionierdiens of gewone pionierdiens nastreef? Pleks van onnodige klem op die uurvereiste te lê, kan ons gerus aandag skenk aan die groter geleentheid wat ons het om aan die insamelingswerk deel te neem (Joh. 4:35, 36). Dit sal ons help om ons vaardighede in die bediening te verbeter as ons gereeld saam met ander bekwame verkondigers en pioniers werk. Meer hulppioniers dien ook as ’n gesonde aansporing vir die gemeente. Doen gerus, indien moontlik, aansoek om die gewone pionierdiens, of reël dat jy hierdie jaar op ’n gereelde grondslag of so dikwels as moontlik as hulppionier dien.
6 Verantwoordelikhede word geredelik gegee aan bekwame, toegewyde en gedoopte manlike lede van die gemeente (1 Tim. 3:1-10, 12, 13). Almal kan toon dat hulle gewillig is om te dien deur hulle weldeurdagte kommentare by die vergaderinge, deelname aan die Teokratiese Bedieningskool en aanvaarding van toewysings om ’n demonstrasie te hou of ander dele op die Diensvergadering te behartig. Selfs kinders kan ’n goeie voorbeeld op hierdie gebiede en in hulle gedrag by die Koninkryksaal stel. Hulle kan hulp verleen wanneer hulle boekstudiegroep die Koninkryksaal moet skoonmaak of na ander soortgelyke behoeftes omsien.—kmAF 4/76 bl. 1, 3.
7 Jesus het getoon dat hy gewillig is om die verantwoordelikheid te aanvaar om goed te doen aan ander met die woorde: “Ek wil” (Luk. 5:12, 13). As ons sy voorbeeld volg, kan ons ook ons broers, belangstellendes en opregte mense wat ons in die velddiens ontmoet, aanmoedig en help om gereeld met Jehovah se organisasie om te gaan. Dit vereis dat ons ’n doelgerigte poging moet aanwend en moontlik persoonlike opofferinge moet doen as ons ons verantwoordelikheid aanvaar om ‘aan almal goed te doen’ (Gal. 6:10). Maar wanneer ons die goeie sien wat dit voortbring, kan ons saamstem met Paulus, wat gesê het: “God het ’n welbehae aan sulke offers”—Hebr. 13:16.