Bied die goeie nuus aan—Deur tuisbybelstudies aan te bied
1 Die bylae tot Ons Koninkryksbediening vir Augustus 1991 het ons aan ons verantwoordelikheid herinner om te plant en nat te maak in die proses om dissipels van Christus te maak. Dit het getoon dat ons liefde vir mense wat na die Koninkryksboodskap luister ons moet aanspoor om Bybelstudies te hou. Wanneer ons tuisbybelstudies aanbied, sal dit ons help om ons opdrag uit te voer om dissipels te maak.—Matt. 28:19, 20.
2 Dit is goed om te sien dat baie van ons begin het om die uitstekende aanmoediging wat gegee is toe te pas. Rapporte toon dat baie meer Bybelstudies gehou word. Daar was in 1991 ’n vermeerdering van omtrent 6 persent in die getal Bybelstudies wat in Suid-Afrika gerapporteer is vergeleke met die 1990-diensjaar. Diegene wat vir die eerste keer begin het om studies te hou, verheug hulle ongetwyfeld oor die aandeel wat hulle in die dissipelmaakwerk het. Maar hoe kan meer van ons aan hierdie bevredigende faset van ons bediening deelneem?
3 Gebruik die aanbod vir die maand: November is juis ’n gepaste maand om nuwe Bybelstudies te probeer begin. Ons gaan die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? aanbied. ’n Goeie manier om die huisbewoner se belangstelling te prikkel, is om die wenke in die Redenering-boek te gebruik.
4 Ons kan die aandag op die Bybel vestig deur die inleidings te gebruik wat op bladsy 10 in die Redenering-boek voorgestel word. Daar is vyf maniere waarop ons die aandag op die Bybel kan vestig. As ons mense aanmoedig om na die Bybel te gaan vir antwoorde op lewensprobleme kan dit die weg open om ’n Bybelstudie te begin.
5 Onder die tussenhofie “Tuisbybelstudie” op bladsy 14 van die Redenering-boek is daar twee nuttige wenke om aandag op die God se woord-boek te vestig. Albei moedig die gebruik van die boek aan as ’n metode om ’n stelselmatige studie van die Bybel te maak. As jy die direkte metode gebruik om ’n Bybelstudie te begin, kan jy die uitstekende wenke in Ons Koninkryksbediening van September 1991 volg.
6 Vertrou op Jehovah: Om sukses te behaal in die Bybelstudiewerk moet ons onthou dat ons alleenlik met Jehovah se hulp sukses kan behaal wanneer ons tuisbybelstudies aanbied. Hy speel ’n sleutelrol in ons pogings om mense te help (1 Kor. 3:6). Ons moet gevolglik nie net bid om iemand te vind met wie ons kan studeer nie, maar ook vir die vordering van belangstellendes wat ons gevind het (Joh. 16:23). Ons moet onthou dat ons “medewerkers van God” is.—1 Kor. 3:9.