Aanvaar die verantwoordelikheid van herbesoeke
1 Daar is etlike beweegredes waarom ons soveel herbesoeke doen as wat ons kan. Ons wil, net soos Paulus, die werk wat aan ons gegee is deeglik doen (Hand. 20:21, 24). As ons deeglik is wanneer ons na belangstellendes teruggaan, sal ons ’n goeie gewete behou terwyl ons daarna streef om ons bediening ten volle te volbring.—2 Tim. 4:5, NW.
2 Kennis maak ons aanspreeklik: Die feit dat lewens op die spel is, behoort ons te beweeg om herbesoeke ywerig te doen (Joh. 17:3). Ons kennis van Jehovah se oordeel en die nabyheid van Armageddon moet ons aanspoor om nie net die goddelose te waarsku nie, maar ook diegene te help wat “sug en steun oor al die gruwels wat . . . gedoen word” (Eseg. 9:4). Hulle moet gehelp word om deel van Jehovah se sigbare organisasie te word.
3 Mense het hulp nodig om juiste kennis van die waarheid op te doen (Hand. 8:30, 31; 18:26). Dit is nog ’n rede waarom ons ons verantwoordelikheid moet aanvaar om na mense terug te gaan en die sade van waarheid wat gesaai is ‘nat te maak’. Hoeveel geestelike vordering sou ons gemaak het as iemand nie keer op keer na ons toe teruggekom het om ons te help om juiste kennis van Jehovah en Sy wonderlike voornemens op te doen nie?—Matt. 7:12.
4 Toon liefde en ywer: Herbesoeke is ’n uitstekende manier om ons liefde vir mense te toon. ’n Blinde broer wat as ’n gewone pionier dien, het gesê: “Van die dag dat ek my laat doop het, was dit my begeerte om die dinge wat ek in die Bybel geleer het aan ander te vertel. Ek was bly dat my gebrek my nie verhinder het om dit te doen nie. . . . Ek het ook geleer om elke huis in die straat te onthou, en op hierdie manier kon ek na mense teruggaan wat graag die Bybel wou bestudeer.” Hierdie blinde broer sien waarlik met sy hart, en hy aarsel nie om herbesoeke te doen en sy Christelike liefde vir ander te toon nie.
5 Wanneer ons herbesoeke doen, het ons dikwels die geleentheid om die Bybel goed te gebruik en om redes te gee vir die hoop wat ons het (1 Pet. 3:15). Dit help nie net die huisbewoner nie, maar laat ook ons ywer en waardering vir die waarheid toeneem. Wanneer ons herbesoeke doen, verskaf dit ons ’n vreugde wat ons op geen ander manier kan vind nie. En daardie vreugde hoef nooit af te neem nie. Dit kan voortdurend hernieu word deur ywerig herbesoeke te doen.—Spr. 10:22.
6 Ons moet ons verantwoordelikheid om herbesoeke te doen ernstig opneem. Jehovah se volk hou nie die goeie dinge terug van ander nie, en dit kan gesien word uit ons wêreldwye bedrywighede gedurende die 1991-diensjaar (Spr. 3:27). Ons het 344 926 952 herbesoeke gedoen en 3 947 261 tuisbybelstudies gehou. Daar was 300 945 nuwe dissipels wat hulle aan Jehovah toegewy en hulle laat doop het. Hierdie wonderlike vermeerdering sou nooit plaasgevind het as ons nie ons verantwoordelikheid om herbesoeke te doen gewillig aanvaar het nie.—1 Thess. 2:8.