Diensvergaderinge vir Januarie
Week wat begin met 30 Desember
5 min: Plaaslike aankondigings en gepaste Aankondigings uit Ons Koninkryksbediening.
20 min: “Waardeer jy Jehovah se aardse organisasie?” Toespraak gebaseer op Die Wagtoring van 1 November 1991, bladsye 30-1.
20 min: “Laat almal hoor dat wêreldveiligheid ophande is.” Bespreek, ná kort inleidende kommentaar, elke oorgangspunt en laat goed voorbereide verkondiger dit demonstreer soos die tyd dit toelaat. As dit prakties is, sal dit goed wees as ’n jong verkondiger Oorgangspunt nr. 2 demonstreer. Oorgangspunt nr. 3 laat die verkondiger toe om ten minste ’n interessante skriftuurlike gedagte by die huisbewoner te laat. Moedig broers hartlik aan om een van die voorgestelde inleidings op bladsy 4 en een van hierdie oorgangspunte te gebruik.
Lied 30 en slotgebed.
Week wat begin met 6 Januarie
5 min: Plaaslike aankondigings.
10 min: “’n Praktiese benadering van velddiensvoorbereiding.” Bespreek artikel met gehoor, en laat drie of vier verkondigers wat vooraf aangewys is dan spesifieke kommentaar lewer oor maniere waarop hierdie benadering hulle kan help. Hulle kan byvoorbeeld kommentaar lewer oor die verskeidenheid aanbiedings, maniere waarop die materiaal by plaaslike gebied aangepas kan word, aanpasbaarheid, of dat hierdie benadering verkondigers toelaat om materiaal te kies wat hulle met vertroue kan aanbied. Moedig verkondigers aan om hulle Koninkryksbediening na velddiensvergaderinge te bring.
18 min: “Inleidings wat huisbewoners laat luister.” Bespreek kortliks watter soort gebied julle het. Watter kwessies is vir huisbewoners belangrik? Beklemtoon inleiding en aanbieding wat plaaslik waarskynlik die meeste sukses sal behaal. Laat goed voorbereide verkondiger hierdie aanbieding demonstreer en die Ware vrede-boek aanbied. Verkondiger moet aanbieding doen soos in artikel uiteengesit word. Dan kan ’n skoolgaande verkondiger dieselfde aanbieding demonstreer en afsluit deur die tydskrifte vir die belangstellende aan te bied. Moedig almal aan om hierdie metode in die velddiens te probeer.
12 min: “Medical Document” en “Identity Card”. Sekretaris moet reël dat kaartjies aan gedoopte verkondigers in die gemeente uitgedeel word. Die brief van 1 Januarie 1990 moet ter voorbereiding hersien word vir gepaste punte wat by plaaslike behoeftes pas. Beklemtoon dat die twee wat as getuies teken, moet toekyk terwyl die dokument geteken word en dit dan self moet teken. Redeneer met die gehoor oor die rede waarom instruksies noukeurig gevolg moet word sodat die kaartjies tot ons grootste beskerming sal dien. Ouere manne kan ná die vergadering sorg dat dit gedoen word, soos hulle verlede jaar gedoen het. Moenie uitstel om die kaartjies in te vul en hulle behoorlik te laat teken nie.
Lied 130 en slotgebed.
Week wat begin met 13 Januarie
10 min: Plaaslike aankondigings en Teokratiese Nuus. Sluit rekeningverslag en erkenning van bydraes in.
15 min: Kan ek ’n pionier wees? Omtrent 7 persent van alle verkondigers in hierdie land is gewone pioniers. Gee plaaslike syfers ter vergelyking. Kan meer van ons, ook jongmense wat hulle hoërskoolopleiding onlangs voltooi het, die voltydse diens betree? Voer onderhoud met drie gewone pioniers, verkieslik ’n jong persoon, ’n huisvrou en ’n afgetrede persoon. (As daar nie gewone pioniers is nie, kan hulppioniers of verkondigers wat al aan die pionierdiens deelgeneem het, gebruik word.) Bespreek hoe hulle geldsake behartig. Watter soort deeltydse werk is in julle gebied beskikbaar? Hoe hou ’n mens die pot aan die kook? Watter veranderinge moes hulle maak in die manier waarop hulle hulle geld bestee het? Bespreek rooster om uurvereistes na te kom. Het enige van hulle gesondheidsprobleme? Watter ander uitdagings het hulle met sukses die hoof gebied? Onderhoude moet positief en bemoedigend wees. Moedig die gehoor hartlik aan om hulle persoonlike omstandighede in oënskou te neem en te sien of meer van hulle in die voltydse diens kan tree.
20 min: Hoe enkelouers hulle kinders kan help. Kort inleiding wat gevolg word deur ’n demonstrasie van ’n ma met twee kinders wat vir die velddiens voorberei. Daar is vandag meer enkelouer-gesinne in die organisasie as ooit tevore. Die manier waarop Timotheüs se moeder en grootmoeder die waarheid by hom ingeskerp het, is ’n goeie voorbeeld vir alle ouers om na te volg (2 Tim. 1:5; 3:14, 15). Demonstrasie: ’n Ma, tienerdogter en jonger dogter sit by kombuistafel net na aandete. Ma sê dat hulle, voordat hulle die skottelgoed was, eers hulle aanbiedings vir velddiens gaan oefen en dat sy die huisbewoner sal wees. Jonger dogter kies ’n inleiding op bladsy 4 van Ons Koninkryksbediening en demonstreer dit vir haar ma. Ma prys haar hartlik vir ’n goeie inleiding en vra haar om die teks te lees wat deur die Genootskap voorgestel word. Jonger dogter slaan Jesaja 9:5, 6 gou na en lees dit. Ma vra dan vir ouer dogter hoe sy die boek sal aanbied. Dogter kies ’n oorgangspunt op bladsy 1 van Ons Koninkryksbediening en demonstreer dit vir haar ma. Ma prys haar en moedig dan albei dogters aan om die inleiding en die oorgangspunt te oefen sodat hulle die boek in die velddiens kan aanbied. Ma sê vir dogters dat hulle nog ’n rukkie kan oefen en dan sal hulle die skottelgoed moet was. Ouere man sluit deel af deur alle gesinne in die gemeente aan te moedig om liefdevolle hulp aan hulle kinders te verleen.
Lied 183 en slotgebed.
Week wat begin met 20 Januarie
15 min: Ouere man behartig plaaslike aankondigings en bespreek plaaslike behoeftes. Bespreek verskillende gesprekspunte in die jongste tydskrifte, soos die tyd dit toelaat. Kies een wat goed sal inpas by een van die voorgestelde inleidings en oorgangspunte in hierdie nommer van Ons Koninkryksbediening. Laat ’n goed voorbereide verkondiger dan ’n volledige aanbieding doen waarin hy die inleiding en die oorgangspunt gebruik en die tydskrifte vir ’n belangstellende aanbied. Wys daarop dat dit nie moeilik is om vas te stel of iemand belangstel wanneer ons gesprekke met mense aanknoop en die aanbiedings gebruik wat voorgestel word nie.
18 min: “Aanvaar die verantwoordelikheid van herbesoeke.” Vrae-en-antwoorde. Moedig almal geesdriftig aan om ’n volle aandeel aan die herbesoekwerk te hê. Moedig almal aan om volgende week teenwoordig te wees wanneer daar gedurende die Diensvergadering ’n bespreking sal wees oor wat ons tydens herbesoeke kan sê.
12 min: Bespreking oor “Aborsie” uit Redenering-boek, bladsye 29-31. Ná ’n kort inleiding tot die onderwerp wat toon hoe dikwels dit vandag in die nuus voorkom en die groot kommer wat dit by miljoene mense wek, sê die voorsitter dat ons nou gaan inluister waar ’n suster ’n Bybelstudie hou. Die nuwe Bybelstudent sê vir die suster dat sy baie omgekrap is omdat sy swanger is. Sy verduidelik hoe bekommerd sy is, aangesien die gesin geldelike probleme het. Haar wêreldse familie dring by haar aan om dadelik ’n aborsie te hê. Suster stel voor dat hulle na die Redenering-boek gaan en die tekste naslaan om te sien hoe Jehovah die lewe van ’n ongebore kind beskou en of ’n aborsie in sy oë geoorloof is. Hulle kyk eers na die definisie van aborsie. Dan bespreek hulle die vrae, tekste en ander kommentare op bladsye 29-31. Die suster moet die student help om te redeneer en die heiligheid van lewe te besef.
Lied 164 en slotgebed.
Week wat begin met 27 Januarie
10 min: Plaaslike aankondigings. Moedig verkondigers aan om nou te beplan om in Maart en April as hulppioniers te dien. Moedig gesinne aan, sowel as jong verkondigers wat gedurende Maart of April vakansie het, om te kyk watter reëlings hulle kan tref sodat hulle ’n groter aandeel aan die velddiens kan hê.
20 min: “Wat sal jy sê wanneer jy teruggaan?” Bespreek met gehoor en laat voorbereide verkondigers wenke demonstreer nadat betrokke paragrawe bespreek is. Hierdie kort demonstrasies moet voor die tyd geoefen word.
15 min: “Die leen van geld aan mede-Christene.” Toespraak deur ouere man, gebaseer op artikel in Die Wagtoring van 15 Oktober 1991, bladsye 25-8.
Lied 147 en slotgebed.