Voorsien met vreugde in die behoeftes wat die oeswerk meebring
1 Ja, dit is die oestyd. Ons is nou in die voleinding van die stelsel van dinge, en soos Jesus in een van sy gelykenisse gesê het: “Die oes is die voleinding van die wêreld” (Matt. 13:39). In Johannes 5:17 het Jesus gesê: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” In hierdie oeswerk is Jehovah se volk nie net besig om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig nie, maar ook om plekke van aanbidding te voorsien. Koninkryksale is nou nodiger as ooit. Gelukkig het Jehovah sy lojale knegte beweeg om hulle dienste aan te bied om Koninkryksale te bou. Hulle werk nie net hard nie, maar hulle straal ook ’n vreugdevolle gees uit.
2 Dit is nou soos dit in Nehemia se dag was toe die Israeliete besig was om Jerusalem se muur te bou. Nehemia 4:6 sê “die volk was met hulle hart in die werk”. Wat was die geheim van daardie goeie hartstoestand? Dit word later in Nehemia 8:10 genoem: “Want die vreugde van Jehovah is julle vesting” (NW). Ons het beslis alle rede om vreugdevolle werkers te wees. Ons het Jehovah se seën. Ons het Jehovah se gees, en vreugde is ’n deel van die vrug van daardie gees.—Gal. 5:22, NW.
3 Streekboukomitees: Verslae uit die wêreldwye veld toon dat ‘die lande al wit is vir die oes’ (Joh. 4:35). Met hierdie behoefte in gedagte het die Genootskap in 1984 begin om Streekboukomitees aan te stel om gemeentes by te staan met bouprojekte aan Koninkryksale, hetsy hulle nuwe geboue oprig of opknappingswerk doen. Die ouere manne wat aangestel is om in hierdie komitees te dien is geestelike manne wat gewoonlik baie ondervinding in die boubedryf of die sakewêreld het. Hulle raad is nuttig, veral wanneer daar ’n gees van samewerking heers tussen hulle en die broers wat in die plaaslike boukomitee dien.
4 Drie gemeentes wat hulp ontvang het van vrywilligers wat saam met ’n Streekboukomitee werk, het later aan die komitee geskryf om hulle waardering uit te spreek. Hulle het met begrip geskryf: “Sal julle asseblief ons liefde en dank aan julle vrouens, julle kinders en julle gemeentes oordra. Ons waardeer die opofferinge wat hulle maak deur julle met soveel van Jehovah se volk te deel.”
5 Een streekkomitee het gesê: “Ons het puik samewerking van die plaaslike boukomitee gekry. Ons voel nog altyd . . . dat dit een van die lonendste aspekte van ons rol is, die verhouding wat met die plaaslike boukomitee ontwikkel word.” Die plaaslike boukomitee wat twee gemeentes verteenwoordig, het onlangs geskryf: “Hierdie reëling bring wonderlike seëninge vir ’n gemeente mee. Laat ons ’n paar van hulle opnoem: die boukomitee gee goeie leiding tydens die projek, hulle reël dat honderde vaardige en geestelike broers kan help, wat dit moontlik maak dat die projek gou afgehandel word sodat dit die gemeente nie geestelik verswak nie, maar dat die broers se liefde vir mekaar versterk word, ’n goeie getuienis vir die gemeenskap gegee word en dat daar bowenal ’n pragtige plek om Jehovah in te loof opgerig word.”
6 Tree vroegtydig met die Streekboukomitee in verbinding: Wanneer gemeentes dit oorweeg om ’n opknappingsprojek aan te pak of ’n nuwe gebou op te rig, moet die plaaslike ouere manne die voorsitter van die streekkomitee heel aan die begin van die projek nader. Die Genootskap het riglyne aan die Streekboukomitees verskaf, en hierdie broers het baie ondervinding wat kan help om slaggate te vermy wanneer grond gekoop word of ’n bouprojek beplan word. As hulle ten volle ingelig gehou word oor al die projekte in die gebied wat aan hulle toegewys is, sal die streekkomitee vrywilligers kan organiseer sodat al die projekte voltooi kan word sonder dat die geskoolde werkers oorwerk word. Elke Streekboukomitee hou personeellyste en organiseer die vrywilligers in sy toegewese gebied.
7 Die riglyne wat die streekkomitees gekry het, sluit faktore in wat versigtig oorweeg moet word voor grond gekoop word, byvoorbeeld streeks-, munisipale en stadsraadsregulasies wat verskeie aspekte raak wat met ’n Koninkryksaalprojek verband hou. Gemeentes kan baat vind by die wenke van die ouere manne wat aangestel is om in die Streekboukomitee te dien deur heel aan die begin met hulle in verbinding te tree, nog voor enige eiendom gekoop word.—Spr. 15:22.
8 Ouere manne kan deur die kringopsiener met die Streekboukomitee in verbinding tree. Hy het die naam, adres en telefoonnommer van die voorsitter van die komitee wat toegewys is om hulp te verleen met die bou van Koninkryksale in die gemeente se gebied.
9 Koop verstandig: Gemeentes het meestal verstandig te werk gegaan wanneer hulle boumateriaal gekoop het. Die Genootskap het nie ’n nasionale aankoopprogram om boumateriaal te koop nie. Maar soms verskaf party vervaardigers boumateriaal teen spesiale pryse direk aan die gemeentes. Wanneer dit gebeur, sal die Genootskap die Streekboukomitees in kennis stel van hierdie leweransiers. Dit beteken egter nie dat die Genootskap of die streekkomitee die leweransier aanbeveel of goedkeur nie. Dit beteken bloot dat hulle inligting aan die plaaslike gemeentes verskaf sodat hulle bewus kan wees van die materiaal en pryse wat aangebied word en dit met ander kan vergelyk.
10 Plaaslike ouere manne moet sorg dat materiaal slegs aangekoop word nadat pryse versigtig vergelyk is. Die streekkomitee kan help deur ’n lys op te stel van dinge wat gekoop moet word, met inbegrip van materiaal vir binneversiering. Elke komitee weet waarskynlik van vrywilligers met ondervinding op hierdie gebiede wat hulle dienste graag sal aanbied om gemeentes te help om die lys op te stel van materiaal wat gekoop moet word. Ander broers wat ondervinding het van sakeaangeleenthede kan gebruik word om mededingende pryse vir die materiaal te verkry. Tree met verskeie leweransiers in verbinding om vas te stel waar die beste gehalte teen die beste prys verkry kan word. Terwyl goedere en dienste dikwels “teen kosprys” aangebied word, moet die ouere manne die besonderhede versigtig nagaan, aangesien daar soms versteekte kostes daaraan verbonde is. Aangesien toegewyde middele gebruik word, sal plaaslike samewerking met die Streekboukomitee verseker dat hierdie hulpbronne doeltreffend gebruik word.
11 Hou Koninkryksaalontwerpe eenvoudig: Al het ’n gemeente genoeg geld ingesamel om ekstra dinge in te sluit sonder dat ’n lening nodig is, moet hulle eerder van konvensionele ontwerpe gebruik maak en nie uitspattig bou nie. Enige oorblywende geld kan dan in ander aspekte van teokratiese diens gebruik word (omAF bl. 60-1; 2 Kor. 8:14). Aangesien baie hulle dienste aanbied om met Koninkryksaalprojekte te help, kan werkers voel dat hulle misbruik word as hulle gevra word om versierings te bou of te installeer wat buitengewoon baie werk verg. Al is goeie klanktoerusting noodsaaklik, is ingewikkelde stelsels met bykomende funksies gewoonlik duur of onnodig. Dink goed na oor sulke dinge voor hulle in die projek ingesluit word. Die Streekboukomitee kan waardevolle wenke gee sodat gebalanseerde besluite oor die ontwerp van die saal geneem word.
12 Baie gemeentes het nuwe Koninkryksale gebou deur geld te gebruik wat plaaslik geleen is by diegene wat met die gemeente omgaan. Soms is ’n Koninkryksaal verkoop, en die geld wat daarvoor ontvang is, was genoeg om ’n nuwe, groter gebou op te rig. Maar party gemeentes moet bykomende finansiële hulp kry. Hulle kan met die Genootskap in verbinding tree om uit te vind of hulle ’n lening kan kry deur die riglyne te volg wat die ouere manne in die brief van 23 Desember 1991 gekry het. Voor hulle ’n lening by die Genootskap vra, moet die ouere manne eers ’n opname doen om vas te stel (1) hoeveel aanvanklik bygedra sal word om met die aankoop van eiendom en boukoste te help, (2) hoeveel plaaslik geleen kan word by diegene wat met die betrokke gemeente(s) omgaan en (3) hoeveel maandeliks bygedra sal word om die gemeente se finansiële verpligtinge na te kom en enige lening wat by die Genootskap verkry word terug te betaal. Geen name moet op die strokies verskyn wat ingehandig word wanneer hierdie opname gedoen word nie. Dit is belangrik dat almal akkurate syfers verskaf en ’n realistiese skatting maak van hulle eie bydraes en hoeveel hulle aan die gemeente kan leen, aangesien die ouere manne hierdie syfers sal gebruik om gewigtige besluite namens die gemeente te neem.
13 Wanneer ’n Koninkryksaalbouprojek voltooi is, is daar soms geld oor. As die lening by die Genootskap verkry is, moet enige oorskot onmiddellik aan die Genootskap terugbetaal word. Die Genootskap kan dan die geld beskikbaar stel aan ander wat ’n behoefte het. Die ekstra geld moet nie plaaslik gehou word of deur die plaaslike gemeente aan ander gemeentes geleen word nie.
14 Kosteberekening en boekhouprosedures: Voor ’n Koninkryksaalbouprojek aangepak word, moet die boukoste versigtig bereken word voor ’n finale versoek om ’n lening ingestuur word. Dit voorkom dat die verkondigers ’n terugbetalingslas moet dra wat onnodig swaar is. Dit laat ook geld in die Genootskap-Koninkryksaalfonds sodat ander gemeentes wat ’n nuwe of ’n verbeterde Koninkryksaal nodig het dit kan gebruik (Filip. 4:5, NW). Aangesien diegene wat in die streekkomitee dien baie ondervinding in hierdie verband het, sal hierdie ramings redelik akkuraat wees. Hoewel onvoorsiene onkoste kan veroorsaak dat die beplande koste oorskry word, kan redelik akkurate ramings gedoen word deur goeie beplanning en ’n ontleding van die vernaamste kostefaktore en sodoende sal dit nie nodig wees om ’n groot bufferbedrag in die kosteberekening in te sluit nie.
15 ’n Koninkryksaalbouprojek beteken dat die gemeente groot bedrae geld bestee. Die ouere manne moet toesien dat die fondse op ’n verantwoordelike manier hanteer word. Akkurate rekeningverslae moet gehou word, en duidelike verslae moet maandeliks aan die betrokke gemeente(s) gegee word. Die presiderende opsiener moet toesien dat die boufonds en al die rekeninge wat daarmee gepaardgaan kwartaalliks geouditeer word in dieselfde maande wat die gemeenterekeninge geouditeer word. Die gemeente moet algehele goedkeuring aan die projek gee nadat hulle ten volle ingelig is oor die besonderhede en geraamde koste (kmAF 8/84 bl. 4). Daarna moet alle betalings op die behoorlike manier goedgekeur word voor enige geld bestee word. Aan die einde van die projek moet daar duidelik verslag gegee word van hoe die geld gebruik is. Waar Streekboukomitees nie na die rekeninge omsien nie, moet ’n afskrif van hierdie verslag aan die Streekboukomitee voorgelê word, aangesien dit hierdie broers sal help om akkuraat te bly in hulle ramings wanneer hulle ander gemeentes help wat ’n bouprojek wil aanpak.
16 Wat reeds bereik is: Daar is nou 24 Streekboukomitees onder die toesig van die tak in Suid-Afrika. Hulle berig dat daar elke jaar omtrent 24 nuwe Koninkryksale gebou word en dat hulle ook etlike opknappingsprojekte per jaar behartig. Streekboukomitees het die Genootskap ook gehelp met projekte by sendinghuise, ’n depot in Durban en ’n skuur by die Eikenhof-byeenkomssaal. Dit is ’n bewys van die eenheid en die gewillige gees wat aan die dag gelê word deur diegene wat Jehovah en hulle broers liefhet.—Joh. 13:34, 35.
17 Ander sien dit: Die apostel Paulus het gesê: “Ons het ’n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense” (1 Kor. 4:9). Vandag is Christene in die oog, en dit is veral waar wanneer ’n Koninkryksaal gebou word. Die werk wat gedoen word en die vreugdevolle gees van die werkers gaan nie ongemerk verby nie. Gevolglik verskyn koerantopskrifte soos “Jehovah se Getuies het hulle hande vol gehad”, “In die ware gees van behulpsaamheid” en “Op die derde dag het hulle gerus.”
18 Die eenheid van die vrywilligers het toeskouers nog altyd verbaas. Dit het vir bure in die suide van Johannesburg gelyk asof “vroue en kinders” die nuwe Koninkryksaal in hulle voorstad bou. Hulle het nie gedink dat die Getuies ooit die projek sou voltooi nie. Maar hulle het gou tot ander insigte gekom toe hulle sien hoe ’n pragtige Koninkryksaal in ’n baie kort tydjie gebou word.
19 ’n Koerant in Natal het die volgende te sê gehad oor die projek wat deur die plaaslike gemeente aangepak is: ‘’n Pragtige Koninkryksaal, gratis! Ja, glo dit as jy wil, die harde werk en onselfsugtige toegewydheid van die Amanzimtoti-gemeente van Jehovah se Getuies is oor 10 naweke bewys toe hulle vir hulleself ’n nuwe saal gebou het om tred te hou met hulle toenemende getalle.’
20 ’n Gemeente in Ulundi het hulle waardering teenoor die Streekboukomitee uitgespreek en gesê: “Ons kan nie op papier sê hoe ons voel oor wat julle vir ons gedoen het nie. . . . Dit was baie duidelik dat die spanne en hulle helpers die Saal nie net vir die Ulundi-gemeente gebou het nie. Maar hulle het dit hoofsaaklik vir Jehovah gebou. Die gehalte en vakmanskap van hierdie pragtige saal kan net aan daardie beweegrede toegeskryf word.”
21 ’n Redaksielid het die volgende gesê: “Rome is nie in een dag gebou nie, maar die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies het daardie teorie feitlik onwaar bewys met die oprigting van hulle nuwe Koninkryksaal.” ’n Ander skrywer het berig gelewer oor die bouprojek van die plaaslike Koninkryksaal en gesê: “Dit klink dalk na iets waarvan ’n mens maar net hoor, maar dit het hier gebeur. . . . Wat baie mense as ’n wonderwerk beskou, is vir Jehovah se Getuies iets alledaags. . . . Terwyl hulle nie daarvan hou om oor hulle sukses te spog nie, is hulle gees en samewerking vir baie ’n navolgenswaardige voorbeeld.”
22 In Texas, VSA, het ’n nie-Getuie aan die koerant geskryf nadat hy een van die kitsbouprojekte dopgehou het: “Ek het net in verbasing gestaan en kyk terwyl hierdie gebou voor my oë verrys het. Daar was mense binne en buite, net waar jy gekyk het. . . . Daar was geen geskreeu, geen gevloek of geen ooglopende bevele nie. Van ver af het dit gelyk asof ’n onsigbare hand almal lei. Dit is dalk so. Ek is nog steeds verbaas deur die werklikheid daarvan.” Hy het sy brief afgesluit deur te sê: “Wanneer hulle na jou huis toe kom, is dit nie hulle bedoeling om jou te steur nie. Hulle wil net hulle liefde en vreugde met almal deel. Miskien moet ons ten minste na hulle luister. Ek weet ek sal. Want wat ek verlede naweek gesien het, was soos ’n lig in ’n wêreld wat al hoe donkerder word, en, mense, ons het deesdae daardie lig en liefde bitter nodig.”
23 Liefdevolle hulp deur vrywilligers: Die duisende vrywilligers, met inbegrip van die geskoolde werkers wat met die bou van Koninkryksale help, moet beslis geprys word. Die feit dat hulle dit doen sonder enige terugbetaling vir hulle moeite is ’n bewys van Jehovah se gees wat deur hulle werk (Hand. 20:35; 1 Joh. 4:12, 13, 21). Hierdie vreugdevolle werkers op die bouterrein rig voorwaar baie uit.
24 Baie gekwalifiseerde werkers gee van hulle tyd en vaardigheid om te help met die aankoop van eiendom, ontwerp van geboue, bou- en ingenieurswerk, versiering, tuinbou, terreinontwikkeling, aankope, voedselvoorsiening, verkeer, veiligheid, ensovoorts. Broers gebruik hulle eie toerusting tydens sulke projekte. Hoe gelukkig moet dit ons hemelse Vader, Jehovah, tog maak wanneer hy sien hoe hulle hulle besittings en vermoëns so liefdevol gebruik!—Vergelyk 1 Thessalonicense 2:6-9 en 2 Thessalonicense 3:8b.
25 Meer vrywilligers nodig: Streekboukomitees berig dat daar nog baie vrywilligers nodig is. Dit is ’n noodsaaklike diens ter ondersteuning van Koninkryksbelange (1 Kor. 15:58). Geskoolde werkers is nodig, sowel as broers met geestelike kwalifikasies, al is hulle nie bedrewe in die boubedryf nie. Kan jy sekere aanpassings maak sodat jy jou dienste sal kan aanbied as jy aan hierdie vereistes voldoen? (Jes. 6:8). Party ouere manne en bedieningsknegte kan moontlik een naweek elke maand of twee met die bou van Koninkryksale help. Hulle kan opgelei word om addisionele verantwoordelikhede te aanvaar, dikwels in departemente wat nie regstreeks met bouwerk te doen het nie. Dit sal die hardwerkende broers wat toesig hou oor hierdie projekte baie help.
26 Streekboukomitees en plaaslike boukomitees organiseer die vrywilligers sodat hulle by die bouterrein is wanneer hulle hulp nodig is. Hierdie vrywilligers moet hulle woord gestand doen en sulke afsprake getrou nakom, sodat ‘hulle ja ja sal wees’ (Matt. 5:37). As enigiets onvoorsiens hulle verhinder om dit te doen, moet hulle die betrokke opsiener vroegtydig laat weet. Die vrywilligers keer so gou moontlik terug na hulle tuisgemeentes en gesinne en mis nie onnodig vergaderinge of velddiens nie. Diegene op die bouterrein van die Koninkryksaal sal (1) die goedgekeurde vrywilligers wees wat spesifiek deur die departementshoofde aangewys is om daar te wees en (2) persone uit gemeentes in die gebied wees waar die Koninkryksaal opgerig word en wat die ongeskoolde werksmag uitmaak. Ander word aangespoor om die velddiensreëlings en vergaderinge in hulle eie gemeente te ondersteun.
27 Prosedure vir vrywilligers: Hoe bied ’n mens jou dienste aan? In Desember 1991 is daar aan elke liggaam van ouere manne ’n voorraad “Kingdom Hall Construction Worker Questionnaire”-vorms gestuur. Hulle is op versoek beskikbaar vir gekwalifiseerde werkers. As daar nog vorms nodig is, kan die ouere manne dit by die kringopsiener kry. Die ouere manne het uitvoerige instruksies oor die vrywilligers wat nodig is en die vereistes waaraan hulle moet voldoen.
28 As jy ’n bedieningskneg of ’n ouere man is of ’n voorbeeldige Christen wat ’n geskoolde werker is en jy jou dienste wil aanbied om met die bou van Koninkryksale in jou gebied te help, kan jy ’n vorm by die ouere manne in jou gemeente aanvra. Gee die vorm aan die ouere manne terug na jy dit ingevul het. Hulle sal hulle kommentaar daarby voeg en dit aan die kringopsiener aanstuur, wat die vorm dan sal voltooi en dit aan die Streekboukomitee sal stuur. As jou persoonlike omstandighede jou toelaat en jy aan die vereistes voldoen om jou dienste aan te bied, sal jy wonderlike seëninge geniet wanneer jy die vreugde van jou broers en susters sien wanneer hulle Koninkryksaalbouprojek tot Jehovah se lof voltooi is.
29 Almal kan help: Diegene wat nie hulle dienste kan aanbied nie, verrig ook ’n waardevolle diens. Hulle help om na die behoeftes van die gemeente om te sien terwyl ander by ’n Koninkryksaalbouprojek dien. Party vrywilligers moet uiteraard soms afwesig wees van die vergaderinge in hulle tuisgemeente terwyl hulle liefdevol hulp verleen aan ander gemeentes wat ’n Koninkryksaal bou.
30 Wanneer ’n Koninkryksaal naby julle gebou word, kan verkondigers in julle gemeente wat nie bouvaardighede het nie moontlik die geleentheid gebruik om ook te help as deel van die algemene werksmag. Hierdie werkers vul nie die vraelyste vir vrywilligers in nie. Die behoefte word bekend gemaak, en die reëlings word op ’n eenmalige grondslag getref deur die ouere manne in die gemeente(s) wat by die bouprojek betrokke is en die ouere manne in die buurgemeentes.
31 Ons het almal die geleentheid om na gelang van ons omstandighede finansieel tot die Genootskap-Koninkryksaalfonds by te dra. Sedert die Genootskap-Koninkryksaalfonds in Januarie 1990 geskep is, is geld beskikbaar gestel, ook uit ander lande, om te help met die bou van die 33 nuwe Koninkryksale in die Suid-Afrikaanse tak se gebied. Hierdie sale kan 44 gemeentes bedien. Baie gemeentes sou nie sulke pragtige vergaderplekke kon kry as dit nie vir die liefde van die broederskap was wat uit julle mildelike ondersteuning van die Genootskap-Koninkryksaalfonds blyk nie.
32 Die Genootskap-Koninkryksaalfonds staan lenings toe om nuwe Koninkryksale te bou. Wanneer hierdie lenings met rente terugbetaal word, word die geld weer aan ander gemeentes wat dit nodig het beskikbaar gestel. Dit is beter om met die Genootskap in verbinding te tree in verband met ’n lening voor julle ’n lening by ’n kommersiële instansie aangaan.
33 Betuigings van waardering: Toe hulle nuwe Koninkryksaal toegewy is, het ’n gemeente in Newcastle die volgende in ’n brief aan die Genootskap gesê: “Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah en wil julle graag baie bedank vir die lening vir ons Koninkryksaal en al die hulp wat aan ons verleen is.”
34 ’n Ander gemeente het waardering uitgespreek vir die liefdevolle hulp wat hulle ontvang het, en het gesê: “Ons wil graag ons diepe dank aan julle betuig vir die hulp van die Genootskap-Koninkryksaalfonds. Daarsonder sou die oprigting van [ons] saal baie moeiliker gewees het en sou dit lank uitgestel gewees het. Jehovah se wysheid is beslis duidelik in hierdie reëling te sien.”
35 Die Knysna-gemeente het geskryf: “Ons is bly om te sê dat ons Koninkryksaal nou uiteindelik voltooi is. Ons het soveel aanmoedigende kommentare en komplimente oor die nuwe saal gekry en het reeds ’n paar vergaderinge daarin gehou. Ons besef dat dit nooit moontlik sou gewees het sonder Jehovah se gees en [die Genootskap se] finansiële hulp nie, en ons is werklik dankbaar daarvoor.”
36 Uit Lebowa-Kgomo kom hierdie kommentaar oor die goeie gees van die broers en susters: “Die bedrae wat aan die begin ingesamel is, was baie klein. Broer T— het toe ’n toespraak vir die gemeente gehou waarin hy beklemtoon het dat hulle nie ’n Koninkryksaal vir 10 sent kan bou nie. Daarna het die bydraes baie verbeter totdat [ons] uiteindelik ’n bedrag van R15 000,00 ingesamel het. Die Genootskap het toe gehelp met ’n lening wat [ons] in staat gestel het om hierdie Koninkryksaal te bou. — Die bure was verbaas toe hulle sien hoe almal van alle rasse saamwerk. — Noudat die Koninkryksaal voltooi is, pryk dit as ’n pragtige plek van aanbidding vir Jehovah se Getuies hier in Lebowa-Kgomo.”
37 Die werk wat voorlê: Ja, ons het almal rede om vreugdevol te wees terwyl ons in die behoeftes voorsien wat die oeswerk meebring. Ons moet ’n gees van samewerking hê—ons moet saamspan en hierdie noodsaaklike aktiwiteit ondersteun (Ps. 133:1). Hoe bly is ons tog dat daar manne is wat deur Jehovah se organisasie aangestel is om die leiding te neem in geestelike sake sowel as die oprigting van die nodige geboue! Paulus het ’n versoek tot die Filippense gerig, en gesê: “Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê” (Filip. 2:2). Ons het beslis goeie rede om vreugdevol te wees, want ons is toevertrou met die goeie nuus wat verkondig moet word “in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” voor die einde kom (Matt. 24:14). As ons ’n ferm standpunt aan die kant van daardie Koninkryk inneem en ons lojaal vir sy belange inspan, maak dit Jehovah se hart bly. “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spr. 27:11). Wat ’n wonderlike voorreg het ons tog om saam met Jesus Christus te werk en blymoedig saam met hom aan Jehovah se werk deel te neem!