Hoe om die Grootste mens-boek tydens herbesoeke te gebruik
1 Die apostel Paulus het geweet hoe belangrik dit is om ywerig na diegene om te sien wat belangstelling in die waarheid toon. Hy het hulle met jong plantjies vergelyk wat gereeld natgemaak en versorg moet word (1 Kor. 3:6-9). Net so het belangstellendes vandag ons liefdevolle sorg nodig wanneer ons teruggaan om na hulle geestelike groei om te sien.
2 Dit is goed om in gedagte te hou dat mense by wie ons herbesoeke doen dikwels herinner moet word aan die gedagtes wat ons tydens ons vorige besoek bespreek het. Daarom is dit raadsaam om tydens elke herbesoek die gedagtes wat die vorige keer bespreek is kortliks te hersien en die punte te beklemtoon wat die huisbewoner veral waardeer het. Betrek die huisbewoner in die bespreking en let op waarin hy belangstel asook wat sy behoeftes is.
3 Wanneer jy ’n herbesoek doen, of jy nou die “Grootste mens”-boek by hulle gelaat het of nie, kan jy hierdie direkte benadering gebruik om ’n studie te begin:
◼ Jy kan vra: “Wat het Jesus die wêreld se grootste mens gemaak?” Jy kan dit beantwoord deur die huisbewoner se aandag op ’n paar van die 133 hoofstukke te vestig wat betrekking het op Jesus se lewe, sy persoonlikheid, sy leer en sy werke. Hoofstuk 24 verduidelik waarom hy na die aarde toe gekom het. Hoofstuk 35 bespreek sy bekende Bergpredikasie. Hoofstuk 133 bespreek van die seëninge wat die mensdom sal geniet wanneer Jesus sy werk voltooi. Wys die huisbewoner hoe die vrae en tekste aan die einde van elke hoofstuk ons help om die belangrikste punte in elke hoofstuk te verstaan. Dek net ’n paar punte en tref definitiewe reëlings om terug te gaan.
4 Nog ’n benadering kan wees:
◼ “Ek het regtig ons bespreking verlede week geniet. Baie mense is bekommerd oor verslegtende wêreldtoestande. Ek het gedink jy sal in hoofstuk 111 van hierdie boek, Die grootste mens wat nog geleef het, belangstel. [Berei voor sodat jy kommentaar kan lewer oor gekose gedeeltes in hoofstuk 111 wat een of twee van die hersieningsvrae aan die einde van die hoofstuk beantwoord, soos: “Deur watter wêreldtoestande word Christus se teenwoordigheid gekenmerk?” of “Watter illustrasie gebruik Jesus om sy toekomstige dissipels te help onderskei wanneer die einde naby is?”] As jy in ag neem wat ons hier gelees het, wat sou jy sê is ons hoop vir die nabye toekoms? [Laat huisbewoner antwoord en prys hom dan.] Wat moet ons doen as ons graag die einde van hierdie goddelose stelsel wil oorleef?” Lees Johannes 17:3 en bied ’n gereelde tuisbybelstudie aan.
5 Wanneer jy teruggaan na iemand by wie jy die “Grootste mens”-boek gelaat het, kan jy sê:
◼ “Toe ek laas hier was, het ons wêreldtoestande bespreek wat verander moet word. Het jy al ooit gewonder watter toestande op hierdie aarde sal heers wanneer daar nie meer goddeloosheid is nie?” Laat huisbewoner antwoord, blaai na hoofstuk 133 en vestig sy aandag op die eerste twee hersieningsvrae aan die einde van die hoofstuk. Lees en bespreek die paragrawe wat hierdie vrae beantwoord en slaan ’n paar van die tekste aan die einde van die hoofstuk na. Jy kan die bespreking verder voer deur na die prent in daardie hoofstuk te blaai.
6 Waar ’n traktaat gelaat is: Partykeer word ’n traktaat tydens die eerste besoek gelaat. Wanneer jy ’n herbesoek doen, kan jy een of twee paragrawe in die traktaat sowel as die teksverwysings bespreek. As die persoon belangstelling toon, kan jy die Grootste mens-boek aanbied en reëlings tref om die bespreking tydens jou volgende besoek voort te sit.
7 Terwyl ons die jong plantjies van Christelike geloof wat aan ons toevertrou is getrou natmaak, sal God dit laat groei tot sy eie lof en verheerliking.—1 Kor. 3:7.