Aanbiedings wat belangstelling wek
1 Ons moet altyd ’n opregte, persoonlike belangstelling toon in die mense wat ons in die veldbediening teëkom. As ons hulle mening oor sake vra, toon ons respek vir hulle beskouing. Die onderwerp waaroor ons praat en die vrae wat ons opper, kan hulle belangstelling prikkel en hulle beweeg om meer omtrent God en sy voorneme vir die mensdom te wil leer.
2 Gedurende September gaan ons mense se aandag op die waarheid aangaande die skepping vestig wanneer ons die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? aanbied. Sit tyd opsy om hierdie publikasie persoonlik te hersien, en kies spesifieke punte wat jy kan beklemtoon. Wanneer jy inligting in die Skepping-boek bespreek, moet jy die boek oopmaak en dit vir die huisbewoner gee. Vestig die aandag op spesifieke onderwerpe en prente. Toon geesdriftig hoe waardevol hierdie interessante boek is.
3 Nadat jy jou vriendelik voorgestel het, kan jy sê:
◼ “Is dit in hierdie moderne, wetenskaplike wêreld redelik om te glo dat daar ’n God is wat ons en hierdie pragtige aarde waarop ons woon, geskep het? [Laat huisbewoner antwoord.] Wanneer ons dink aan hoe ontsaglik en wonderlik die aarde en die ganse heelal is, word ons getref deur die orde en ontwerp daarvan. Getuig dit nie van die bestaan van ’n Skepper nie? Kyk hoe redeneer die Bybel hieroor. [Lees Hebreërs 3:4.] Dit is logies dat elke gebou deur iemand ontwerp en gebou is. [Haal die Skepping-boek uit en blaai na die prent op bladsy 114.] Ons heelal is ontsagwekkend! Dink jy dit kon vanself ontstaan het?” Blaai dan na bladsy 122 en lees die byskrif onder die prent van ’n horlosie. Die prent en die aangehaalde teks op bladsy 127 kan ook gebruik word. Daar is verdere nuttige punte op bladsye 379-83 in die Redenering-boek.
4 Of jy kan sê:
◼ “Wat dink jy is nodig as die mensdom ware vrede en geluk op hierdie aarde wil vind? [Laat huisbewoner antwoord.] Die Bybel sê dat ons God moet vrees en hom as die Skepper van die hemel en die aarde moet erken.” Lees Openbaring 14:7, blaai dan na bladsye 140 en 141 in die Skepping-boek en lees miskien paragrawe 24 en 25 waar dit verduidelik dat die aarde ontwerp is vir mense om op te woon. As die huisbewoner genoeg belangstelling toon dat jy die gesprek kan voortsit, kan jy na hoofstuk 19 blaai en verduidelik hoe ’n aardse paradys binnekort ’n werklikheid gaan wees.
5 As die huisbewoner die bestaan van ’n Skepper betwyfel, kan jy sê:
◼ “Baie mense het dieselfde beskouing as jy, veral as gevolg van al die lyding in die wêreld. As daar ’n God is, waarom laat hy lyding toe? Kan jy aan ’n aanvaarbare verduideliking dink?” Na gelang van die reaksie kan jy met die gesprek voortgaan deur hoofstuk 16 in die Skepping-boek te gebruik. As die huisbewoner nie in die Skepping-boek belangstel nie, kan jy net ’n spesifieke gedagte of twee in die artikel “Waarom moet goeie mense ly?” in Die Wagtoring van 15 September 1992 beklemtoon. Daar is verdere nuttige antwoorde op hierdie vraag in die Redenering-boek op bladsye 285-6. As die persoon nie die boek of enige van ons tydskrifte wil neem nie, sal dit dalk gepas wees om die traktaat Waarom jy die Bybel kan vertrou by hom te laat.
6 Ons doel is nie net om belangstelling in die Koninkryksboodskap te wek nie, maar ook om Bybelstudies te begin. Hoe bly is ons tog dat ons hierdie pragtig geïllustreerde boek het wat die waarheid omtrent die skepping verduidelik en ons Grootse Skepper eer! Laat ons dit doeltreffend gebruik om die belangstelling van regskape mense te wek wat ons gedurende September sal teëkom.