Waardeer jy ons lektuur?
1 Diamante en ander edelgesteentes is nie net kosbaar omdat hulle pragtig is nie, maar ook omdat dit so baie kos om hulle op te spoor en hulle te ontgin. Die kennis van Jehovah en Jesus Christus is selfs kosbaarder, en ons publikasies is die enigstes ter wêreld wat hierdie geestelike rykdom in diepte en met Goddelike wysheid verduidelik (Rom. 11:33; Filip. 3:8). Hoe kan ons opregte waardering vir ons lektuur toon?
2 Een manier waarop ons waardering kan toon, is om ons lektuur vryelik aan te bied by mense wat ons in die velddiens teëkom. Die meeste mense sal in die wolke wees as iemand hulle ’n diamant of ’n edelgesteente gee. Hulle sal weliswaar dalk nie ons lektuur aan die begin in dieselfde lig as ’n diamant beskou nie, maar diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte sal gou die werklike waarde daarvan besef. Wanneer ons ons publikasies met mense studeer, help ons hulle om die leringe van die Bybel in te sien, en dit open vir hulle die weg om ’n verhouding met Jehovah op te bou. Die ware nut wat uit ons lektuur verkry kan word, hang af van hoe die lektuur gebruik word.
3 Ons moet ook oplet na die talle geleenthede wat ons kan benut om lektuur tydens die informele getuieniswerk aan te bied. Dink aan maniere waarop ons kan getuig vir besoekers, familielede, werkmaats, skoolmaats, mense wat ons teëkom wanneer ons inkopies doen en diegene wat ons tussen huise of deure teëkom wanneer ons velddiens doen. Beplan vooruit deur altyd lektuur byderhand te hê wat ons by sulke geleenthede kan aanbied. Dit is dikwels maklik om een of meer van die klein publikasies saam met ons te dra. ’n Mens kan baie deur informele getuieniswerk bereik.—1 Pet. 3:15.
4 Selfs wanneer ons hoofsaaklik die huidige aanbod gebruik, kan ons soms ’n ander publikasie gebruik. In die uitvoering van ons bediening moet ons skaapgeaardes help om op die weg na die lewe te kom. Die lektuur kan ons daarmee help. Wanneer ons die Skrif met ’n belangstellende bespreek, sal ons dalk vind dat daar ’n spesifieke onderwerp is waarin hy belangstel. As ons goed vertroud is met die waardevolle inligting in die verskillende publikasies sal ons ons aanbieding kan aanpas en ’n publikasie kan aanbied wat spesifiek verband hou met die dinge waarin die persoon met wie ons gesels, belangstel. Dit sal dalk vereis dat ons ’n herbesoek doen met die gepaste publikasie.
5 Lektuur wat op ’n rak by die Koninkryksaal of in ons huis lê, beantwoord nie aan hulle doel nie, en hulle waarde word ook nie benut nie. Selfs ouer nommers van die tydskrifte, brosjures, boeke en traktate moet goed benut word. Wanneer het ons laas gekyk hoeveel lektuur ons het? Ons sal dalk verbaas wees om te sien hoeveel lektuur opgehoop het. Is die lektuur wat ons het nog in ’n goeie toestand—nie geel van die ouderdom, geskeur of vuil nie? As dit nog in ’n goeie toestand is, moet ons alles in ons vermoë doen om dit in die veldbediening te versprei. Ons kan beskadigde lektuur vir persoonlike gebruik hou of op ’n gepaste wyse daarvan ontslae raak.
6 Dink altyd goed na oor die lektuur wat jy in die veld sal nodig kry. Partykeer kry ons nie betyds die huidige aanbod by die lektuurtoonbank nie. Goeie voorbereiding en beplanning is nodig as ons wil verseker dat ons ’n goeie voorraad het van die huidige aanbod asook ander lektuur wat ons in ons gebied sal nodig hê. Dit is veral die geval as jy as ’n hulppionier of ’n gewone pionier in die gemeente dien.
7 Ons publikasies is die waardevolste wanneer hulle in die hande van mense geplaas word wat God se Woord van waarheid waardeer. Laat ons almal dus toon dat ons ons lektuur innig waardeer.