Kan jy Jehovah as ’n pionier dien?
1 ’n Spreker het by die onlangse “Ligdraers”-Streekbyeenkoms gevra: “Kan jy as ’n pionier dien? Sal jy as ’n pionier dien?” Hy het gesê dat hierdie vrae gepas is aangesien Armageddon baie naby is, en derhalwe is die predikingswerk dringender as ooit tevore.—1 Kor. 7:29a.
2 Die pionierdiens is ongetwyfeld harde werk. Dit verg selfdissipline en goeie organisasie. Maar ons arbeid in die bediening ‘is nie tevergeefs nie’ (1 Kor. 15:58). Kan ons dieselfde sê van ander bedrywighede waaraan ons dalk deelneem en wat ons tyd en energie in beslag neem? Liefde vir Jehovah spoor Christene aan om ywerig in sy diens te wees, en ywer vir Jehovah se diens het baie al beweeg om die pionierdiens te betree.—1 Joh. 5:3; Openb. 4:11.
3 Talle jong knegte van Jehovah wat nou kort hulle hoërskoolloopbaan voltooi het, oorweeg dit ernstig om die pionierdiens te betree. Dit is heel gepas. Watter ander loopbaan kan belangriker as die voltydse bediening wees? (Matt. 6:33). Die goeie nuus van God se Koninkryk moet verkondig word; dit is Jehovah se werk, en wat ’n voorreg is dit tog om van ’n mens se jeug af daaraan deel te neem!—Matt. 24:14.
4 Ouers, spoor julle julle kinders aan om die voltydse diens te betree? Verstaan julle kinders duidelik dat julle wil hê hulle moet hulle hele hart, siel, verstand en krag in hierdie heilsame werk gebruik? (Mark. 12:30). Talle jong verkondigers berei hulle voor vir die gewone pionierdiens deur by elke geleentheid gedurende hulle skooljare aan die hulppionierdiens deel te neem. Sulke toegewydheid aan Jehovah verbly ongetwyfeld sy hart!—Spr. 27:11.
5 Dit is waar dat nie almal se omstandighede hulle toelaat om in die pionierdiens te wees nie. Maar het jy, hetsy getroud of ongetroud, jonk of oud, dit ernstig en biddend oorweeg om Jehovah as ’n pionierbedienaar van die goeie nuus te dien? (Kol. 3:23). Talle jong getroude paartjies lê hulle daarop toe om hulle bediening uit te brei sodat een of albei aan die pionierdiens kan deelneem.
6 Kan jy as ’n hulppionier dien indien jy nie op die oomblik aan die gewone pionierdiens kan deelneem nie? Baie verkondigers in julle gemeente beplan waarskynlik om dit gedurende April te doen. Kan jy ook? Hoewel al Jehovah se lojale knegte baie seëninge ontvang, wag daar bykomende seëninge op diegene wat meer tyd aan die Koninkryksdiens kan bestee om skaapgeaardes op te spoor.—Hand. 20:35, NW.