Gebruik traktate om die Grootste mens-boek aan te bied
1 Gedurende Junie sal ons die boek Die grootste mens wat nog geleef het aanbied. Baie verkondigers sal die boek direk by die huisbewoner aanbied deur moontlik een van die aanbiedings agterop Ons Koninkryksbediening vir Augustus 1992 te gebruik. ’n Alternatiewe benadering kan aangewend word deur een van ons traktate te gebruik om die boek aan te bied. Stel gerus een van die volgende wenke op die proef.
2 Sal hierdie wêreld bly voortbestaan? Traktate is van groot hulp om gesprekke mee te begin. Hulle help om die huisbewoners se aandag te boei omdat die traktate oor betekenisvolle onderwerpe handel wat hulle persoonlik raak.
Jy kan byvoorbeeld iets soos die volgende sê:
◼ “In ons gesprekke met mense het ons agtergekom dat baie bekommerd is oor . . . [kies ’n aktuele nuusgebeurtenis]. Dit lyk asof wêreldtoestande al hoe erger word. Party wonder selfs of hierdie wêreld kan voortbestaan. Hoe voel jy daaroor? [Laat huisbewoner antwoord. Die meeste mense is optimisties.] Ek het iets bemoedigends gelees wat ek graag vir jou wil vertel. Dit is in hierdie traktaat. [Gee vir die huisbewoner die traktaat Sal hierdie wêreld bly voortbestaan? terwyl jy ook een in jou hand hou.] Let op hoe Jesus voorspel het dat . . . ” Lees iets in ’n paragraaf op bladsy 4 of 5 wat ooreenkom met die aktuele gebeurtenis wat jy in jou inleiding gemeld het. Bied die Grootste mens-boek aan. Indien dit gepas lyk, kan jy na bykomende inligting oor Jesus se profesie in hoofstuk 111 blaai. Maak seker dat jy ’n vraag stel oor ’n onderwerp wat julle kan bespreek wanneer jy teruggaan.
3 Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld: Wat beteken lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld vir jou? Gewoonlik dink mense aan pragtige tonele van majestueuse riviere en rustige valleie met pragtige diere wat in vrede met mekaar lewe. Diegene wat bekommerd is oor huidige wêreldtoestande sal moontlik die vooruitsig op ’n vreedsame nuwe wêreld uiters verkwikkend vind.
4 Is jy voorbereid om iets verkwikkends en aangenaams aan jou bure, werkmaats en diegene wat jy van huis tot huis ontmoet te bied?
Wanneer jy die traktaat “Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld” aanbied, kan jy iets soos die volgende sê:
◼ “Dink jy dat dit ooit vir mense moontlik sal wees om in vrede te lewe soos dit voor op hierdie traktaat uitgebeeld word? [Laat huisbewoner antwoord.] Kyk asseblief na die laaste sin in die eerste paragraaf op bladsy 2. Dit vra: ‘Maar is dit net ’n droom, of illusie, om te glo dat hierdie toestande ooit op die aarde sal bestaan?’ [Lees dan die volgende paragraaf in die traktaat.] Daardie aanhaling oor nuwe hemele en ’n nuwe aarde kom uit die Bybel, in 2 Petrus 3:13. As dit nie vir jou moeite is om jou Bybel te kry nie, kan ons Psalm 104:5 lees om meer oor die aarde se toekoms uit te vind.” Of jy kan sommer die vers uit jou Bybel lees. Jy kan nou die bespreking na die Grootste mens-boek, hoofstuk 133, lei.
5 Nog herbesoeke sal gedoen moet word om die saad wat geplant is ‘nat te maak’ (1 Kor. 3:6, 7). Die artikel hieronder toon hoe ’n studie in die Grootste mens-boek tydens die eerste besoek of jou herbesoek begin kan word.