Hoe om ’n tuisbybelstudie te hou
1 Hoe word ’n doeltreffende tuisbybelstudie gehou? Watter basiese voorbeeld het ons? Hoe kan tekste in die studiemateriaal bespreek word? Wie moet die paragrawe lees? Wat is nodig om die student te help om die waarheid sy eie te maak, bo en behalwe die basiese metode om ’n studie te hou? Watter valstrikke moet vermy word?
2 Hoe om ’n studie te hou: ’n Tuisbybelstudie word gewoonlik soos die Wagtoring-studie gehou. Eerstens word die paragraaf wat behandel word, gelees. Dan vra die studiehouer die gedrukte vraag oor daardie paragraaf en laat die student antwoord. As die student huiwer, moet die studiehouer voorbereid wees om leidende vrae te vra wat die student oor die onderwerp sal laat redeneer en tot ’n gepaste gevolgtrekking sal laat kom.
3 Kyk hoe die tekste op die materiaal van toepassing is. Wys die student hoe om aangehaalde tekste uit te ken, en redeneer met hom oor hoe hulle van toepassing is. As daar teksverwysings is wat nie aangehaal word nie, is dit goed om hulle in die Bybel na te slaan, solank hulle nie te lank is nie. Laat die student hulle dan lees en kommentaar lewer oor hoe hulle die paragraaf ondersteun of verduidelik.
4 Help die student om die waarheid sy eie te maak: Moedig studente aan om goed vir die studie voor te berei. Beklemtoon dat dit noodsaaklik is om te lees as hy wil leer. Hoe meer studiemateriaal die student lees en bepeins, hoe beter. Party studiehouers laat die student al die paragrawe gedurende die Bybelstudie lees. Ander lees die paragrawe om die beurt met die student. Goeie oordeel moet aan die dag gelê word, en die geestelike vordering van die student moet in gedagte gehou word.
5 Deur die studiemateriaal op ’n akademiese manier te dek, sal die student dalk gehelp word om kennis in te neem, maar glo hy wat hy leer? Om die waarheid sy eie te maak, moet hy sien hoe die materiaal hom persoonlik raak. Hoe voel hy oor dít wat hy leer? Hoe kan hy toepas wat hy leer? Maak gebruik van ondersoekende vrae om die student se hart te bereik.
6 Vermy valstrikke: Daar is valstrikke wat vermy moet word wanneer jy ’n Bybelstudie hou. Wanneer onderwerpe opduik wat nie met die materiaal onder bespreking verband hou nie, is dit gewoonlik beter om dit aan die einde van die studie of by ’n ander geleentheid te bespreek. Dit is ook belangrik dat die student eerder in sy eie woorde antwoord as om die antwoorde uit die boek voor te lees. Dit sal jou as die studiehouer help om vas te stel of die student die materiaal verstaan.
7 Waarom maak jy dit nie jou doelwit om ten minste een Bybelstudie te hou nie? Dit is nie ’n moeilike taak as jy op Jehovah vertrou en die basiese metode van die Wagtoring-studie volg nie. Die doeltreffendste manier om ander die waarheid te leer en dissipels te maak, is deur ’n Bybelstudie te hou. Deur dit te doen, kan jy ook die vreugde smaak wat uit ’n volle aandeel aan die uitvoering van Jesus se bevel in Mattheüs 28:19 voortspruit.