Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 11/93 bl. 3-6
  • Jongmense—Verbly Jehovah se hart

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jongmense—Verbly Jehovah se hart
  • Ons Koninkryksbediening—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Moedig jongmense aan om geestelike doelwitte na te jaag
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Godsdiens—My keuse of my ouers s’n?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Jongmense, fokus julle op geestelike doelwitte?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Jongmense, maak vooruitgang in die bediening
    Ons Koninkryksbediening—1986
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1993
km 11/93 bl. 3-6

Jongmense—Verbly Jehovah se hart

1 Wanneer ’n mens die krag en energie van jou jeug op die regte manier gebruik, kan die lewe ’n ware genot wees. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid” (Pred. 11:9). Julle jongmense is voor God aanspreeklik vir julle dade.

2 Hoe jy jou lewe lei, maak nie net ’n verskil aan jou nie, maar ook aan jou ouers. Spreuke 10:1 sê: “’n Wyse seun verbly die vader, maar ’n dwase seun is ’n bekommernis vir sy moeder.” Maar wat nog belangriker is, hoe jy jou lewe lei, raak jou Skepper, Jehovah God. Daarom spoor Spreuke 27:11 jongmense aan: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.” Hoe kan julle jongmense Jehovah se hart vandag verbly? Dit kan op verskeie maniere gedoen word.

3 Deur die regte voorbeeld: Julle jongmense ondervind die “swaar tye” wat in God se Woord voorspel is (2 Tim. 3:1). Julle kan ook aan druk van ongelowige skoolmaats en selfs onderwysers onderwerp word wat met julle Bybelse sienswyses spot. Een onderwyser het byvoorbeeld die evolusieteorie as ’n feit en die Bybel as ’n mite voorgestel. Maar ’n jong verkondiger in daardie klas het die Bybel lojaal verdedig. Dit het daartoe gelei dat ’n hele paar Bybelstudies begin is. Party belangstellendes het vergaderinge begin bywoon. Julle jong broers en susters se geloof veroordeel die goddelose wêreld en trek opregtes van hart na die waarheid toe aan.—Vergelyk Hebreërs 11:7.

4 Kan jy jou portuurs in die gemeente aanmoedig om nie toe te gee aan wat sleg is nie? Deur ’n goeie voorbeeld by die skool, tuis en in die gemeente te stel, kan jy ander jong verkondigers se geloof versterk (Rom. 1:12). Verbly Jehovah se hart deur vir ander ’n voorbeeld te stel.

5 Deur kleredrag en persoonsversorging: Een jong suster is geterg en gespot oor haar beskeie kleredrag en ’n “verhewene” genoem. Dit het haar nie geïntimideer om volgens die wêreld se goddelose standaarde te begin lewe nie. Sy het eerder verduidelik dat sy een van Jehovah se Getuies is en dat sy die hoë standaard van die Getuies handhaaf. Het jy sulke standvastigheid? Of laat jy toe dat Satan se wêreld jou na sy denkwyse en gedrag vorm? Wat ’n genot is dit tog om te sien dat baie van julle jongmense op Jehovah se onderrigting ag slaan en die slordige style, giere, afgode en leerstellings van die wêreld verwerp. Ons moet inderdaad besef dat daardie dinge wat hulle oorsprong by die wêreld het deur die demone beïnvloed word!—1 Tim. 4:1.

6 Deur jou keuse van vermaak en ontspanning: Ouers moet altyd in gedagte hou hoe belangrik dit is dat hulle hulle kinders help om verstandig die regte soort vermaak en ontspanning te kies. Een broer het met lof gepraat van ’n voortreflike gesin waarvoor hy baie lief geraak het. Omdat die ouers geestelik gesind is, het hulle ook leiding voorsien wat gesinsontspanning betref. Die broer het opgemerk: ‘Ek bewonder die feit dat hulle dinge saamdoen. Die ouers help die kinders nie net om vir die velddiens voor te berei nie, maar as dit tyd is vir ontspanning geniet hulle dit om op staptoere te gaan, museums te besoek of net tuis te bly en speletjies te speel of aan projekte te werk. Hulle liefde vir mekaar en vir ander gee ’n mens die vertroue dat hulle in die toekoms in die waarheid sal wandel, ongeag wat ook al gebeur.’

7 Daar is natuurlik tye wanneer dit nie vir die hele gesin moontlik is om ontspanning en vermaak te geniet nie. Julle jongmense moet bewus wees hiervan en van die erns daaraan verbonde om te besluit hoe julle van julle vrye tyd gaan bestee. Satan is vasbeslote om soveel moontlik te mislei. Dié wat jonk en onervare is, is veral vatbaar vir sy slinkse dade en bedrieglike oortuigingsvermoë (2 Kor. 11:3; Ef. 6:11). Satan gebruik dus vandag verskeie dinge om julle aandag af te lei en julle te oorreed om ’n lewe van selfsugtige genotsug en onregverdigheid na te jaag.

8 Die televisie is ’n meesterverleier wat ’n materialistiese en onsedelike lewenswyse bevorder. Rolprente en video’s bevat heel dikwels geweld en eksplisiete seks. Gewilde musiek het al hoe meer verdorwe en onwelvoeglik geword. Satan se verloklikhede kom dalk onskuldig voor, tog het dit duisende jong Christene in verkeerde denke en gedrag verstrik. Om sulke druk te weerstaan, moet jy regverdigheid kragdadig nastreef (2 Tim. 2:22). Hoe kan jy, indien nodig, jou denke of dade ten opsigte van vermaak en ontspanning aanpas? Die psalmis gee die antwoord: “Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.”—Ps. 119:10.

9 Die verafgoding van sport- en vermaaklikheidsterre is iets algemeens. As jy Jehovah vrees, sal dit jou help om nie onvolmaakte mense te verafgood nie. Selfs geslagsonsedelikheid word vandag deur baie verafgood. Jy kan teen hierdie neiging waak deur pornografie en verderflike musiek te vermy. Die Wagtoring van 15 April 1993 het aangaande musiek gesê: “Musiek is ’n Goddelike gawe. Maar baie het ’n ongesonde beheptheid met musiek. . . . Stel jou dit ten doel om musiek op sy plek te hou en maak die dade van Jehovah jou hoofbelang. Wees selektief en versigtig in jou keuse van musiek. Dan sal jy hierdie Goddelike gawe kan gebruik—en nie misbruik nie.”

10 Kweek ’n absolute afsku aan vir die kwaad (Ps. 97:10). As jy in die versoeking kom om kwaad te doen, moet jy dink aan hoe Jehovah die saak beskou, sowel as aan die gevolge: ongewensde swangerskappe, seksueel oordraagbare siektes, emosionele aftakeling, die verlies aan selfrespek en die verlies aan voorregte in die gemeente. Moenie jou aan TV-programme, rolprente, video’s, liedjies of gesprekke blootstel wat boosheid aanmoedig nie. Moenie met diegene omgaan wat in die Bybel “dwase” genoem word nie (Spr. 13:19). Wees selektief; kies diegene in die gemeente wat Jehovah en sy regverdige standaarde liefhet as jou intieme metgeselle.

11 Ja, jongmense wat waarlik Jehovah se hart wil verbly, sal op die goeie raad in Efesiërs 5:15, 16 ag slaan: “Let dus voortdurend streng op hoe julle wandel, nie as onwyses nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae goddeloos is” (NW). Wat sal jou help om ‘voortdurend streng te let’ op jou vooruitgang in hierdie laaste dae?

12 Sien om na jou geestelike behoeftes: In Mattheüs 5:3 het Jesus gesê: “Gelukkig is diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (NW). Jy kan ook gelukkig wees as jy bewus is van jou geestelike behoefte. Om in daardie behoefte te voorsien, moet jy onder andere ywerig aan die verkondiging van die goeie nuus deelneem, aangesien dit ons geloof opbou in die dinge wat ons leer.—Rom. 10:17.

13 Jy weet uit persoonlike ondervinding dat dit nie altyd maklik is om gereeld aan die bediening deel te neem nie. Dit kan grootliks weens ’n gebrek aan selfvertroue wees. Jy moet dus ferm en vasbeslote wees. Deur gereeld aan die bediening deel te neem, sal jy ’n bekwamer getuie word en groter vertroue in jou predikingsvermoë opbou.

14 Tref reëlings om saam met die meer ervare verkondigers in die gemeente te werk, soos die gewone pioniers en die ouere manne. Luister aandagtig na hulle aanbiedings en hoe hulle besware by die deur te bowe kom. Maak goed gebruik van die Redenering-boek en die wenke wat in Ons Koninkryksbediening gegee word. Kort voor lank sal jy selfs groter vreugde uit die bediening put, omdat jy jou beste vir Jehovah gee.—Hand. 20:35.

15 Party kon al van geleenthede gebruik maak om by die skool ’n getuienis te gee en was heel suksesvol met die maak van dissipels (Matt. 28:19). Een jong Christenman sê: “Gedurende vry klasperiodes het ek baie geleenthede gehad om te getuig, veral voor en ná vakansiedae. Wanneer ek Bybelpublikasies op my lessenaar gelaat het waar ander dit kon sien, het talle belangstellende leerlinge my genader.” Mettertyd het ’n aantal leerlinge en selfs die onderwyseres die Christelike vergaderinge begin bywoon. Trouens, die onderwyseres het sulke goeie vordering gemaak dat sy ’n toegewyde Getuie geword het. Dit verskaf Jehovah groot vreugde as jong aanbidders soos julle sy naam loof.

16 Nog ’n manier waarop jy in jou geestelike behoefte kan voorsien, is deur persoonlike studie. Om Jehovah se hart te verbly, moet ons kennis inneem van hom, sy voornemens en sy vereistes vir ons. Sit jy tyd opsy vir persoonlike studie? Studeer jy gereeld, net soos jy tyd opsysit om gereeld te eet? (Joh. 17:3). Het jy ’n persoonlike rooster om die Bybel te lees bo en behalwe om by die Teokratiese Bedieningskool se rooster vir Bybellees te probeer bly? Berei jy goed voor vir al die vergaderinge? Lees jy Die Wagtoring en die Ontwaak! gereeld? Sit jy in die besonder tyd opsy om elke artikel in die “Jongmense vra . . .”-reeks te lees en elke teks noukeurig na te slaan? En moenie van die boek vergeet wat die Genootskap spesiaal vir jou geestelike behoeftes geskryf het nie, Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk. Jong Christene en hulle ouers het van oor die hele wêreld geskryf om te sê hoe hierdie boek hulle gehelp het om nader aan Jehovah te kom.

17 Wanneer jy die Bybel en teokratiese Bybelstudiehulpe lees, vertel hulle jou van Jehovah, sy gedagtes en sy voornemens. Dink na oor hoe hierdie inligting jou kan help. Bring dit wat jy lees in verband met wat jy vantevore gelees het. Dit behels bepeinsing. Bepeinsing laat die inligting toe om jou hart te bereik en motiveer jou.—Ps. 77:12.

18 Ons is verheug om te sien dat jongmense wat bewus is van hulle geestelike behoefte die gemeentelike vergaderinge bywoon. Julle jong Christene kan ander aanmoedig deur gereeld gedurende die vergaderinge betekenisvolle kommentare te lewer. Stel jou dit ten doel om by elke vergadering ten minste een kommentaar te lewer. Kweek hegte vriendskappe aan met mense van alle ouderdomsgroepe in die gemeente deur voor en ná die vergaderinge aan opbouende assosiasie deel te neem (Hebr. 10:24, 25). Een jong broer het gesê dat sy ouers hom aangemoedig het om by elke vergadering met ten minste een ouer broer of suster te gesels. Vandag waardeer hy die ondervinding wat hy opgedoen het deur met die ouer gemeentelede om te gaan.

19 Streef geestelike doelwitte na: Dit is jammer dat baie jongmense se lewe doelloos en sonder rigting is. Maar laat dit jou nie goed voel om teokratiese doelwitte te stel en hulle dan met sukses te bereik nie? Hierdie doelwitte, wat jy in die lig van Goddelike onderrigting nastreef, sal nóú persoonlike bevrediging verskaf en uiteindelik tot ewige redding lei.—Pred. 12:1, 13.

20 Wanneer jy doelwitte stel, moet jy dit ’n saak van gebed maak. Gesels met jou ouers en met die ouere manne. Ondersoek jouself en jou vermoëns, en stel praktiese doelwitte volgens wat jy kan bereik en nie deur jou met iemand anders te vergelyk nie. Elkeen verskil in samestelling—fisies, verstandelik, emosioneel en geestelik. Moet dus nie verwag om alles te bereik wat iemand anders bereik nie.

21 Wat is ’n paar doelwitte wat jy kan probeer bereik? As jy nog nie ’n verkondiger is nie of nog nie gedoop is nie, kan jy dit gerus jou doelwitte maak. As jy ’n verkondiger is, kan jy jou dit ten doel stel om elke week ’n sekere aantal ure aan die bediening te bestee. Werk daaraan om ’n bekwame onderrigter te word wanneer jy herbesoeke doen, en stel jou dit ten doel om ’n Bybelstudie te hou. As jy ’n gedoopte jongmens op skool is, kan jy jou dit gerus ten doel stel om gedurende die somermaande hulppionierdiens te doen. Daar is “volop . . . om in die werk van die Here te doen”.—1 Kor. 15:58, NW.

22 Ouers se hulp is noodsaaklik: Jongmense in die gemeente moet nooit voel dat hulle alleen is in hulle strewe om die lewe te verkry nie. Jehovah het, deur sy organisasie, vir hierdie jongmense raad voorsien om daaglikse besluite te neem en struikelblokke in die lewe te oorkom. Toegewyde ouers het natuurlik die grootste verantwoordelikheid om hulle kinders die regte besluite te help neem. In 1 Korinthiërs 11:3 wys die Bybel die man as die hoof van die huis aan. Die vader neem dus die leiding in ’n Christengesin, met die vrou wat met hom nou saamwerk om die kinders God se gebooie te leer (Ef. 6:4). Dit word gedoen deur nougesette opleiding van kindsbeen af. Aangesien ’n kind se brein gedurende die eerste lewensjaar verdrievoudig, moet ouers nooit hulle baba se vermoë om te leer, onderskat nie (2 Tim. 3:15). Namate kinders grootword, moet ouers hulle progressief leer om Jehovah lief te hê en ’n goeie verhouding met hom aan te kweek.

23 Die beste manier om dit te doen, is deur ’n goeie voorbeeld as ouers te stel. Dit sal meer vir jou kinders se geestelikheid doen as om die hele tyd met hulle te praat oor wat hulle moet en nie moet doen nie. Om die regte voorbeeld as ouer te stel, sluit onder andere in dat ’n mens die vrugte van die gees tuis teenoor jou eggenoot en jou kinders aan die dag lê (Gal. 5:22). Baie het uit ondervinding gesien dat God se gees ’n kragtige invloed ten goede is. Dit kan jou help om jou kinders se verstand en hart te vorm.

24 Ouers moet ook ’n goeie voorbeeld stel wat persoonlike studiegewoontes, vergaderingbywoning en ’n gereelde deelname aan die veldbediening betref. As jy tuis entoesiasties oor die waarheid praat, ywerig die leiding in die bediening neem en positief is oor persoonlike studie sal jou kinders aangespoor word om ’n opregte belangstelling in geestelike sake te hê.

25 Wanneer ’n gereelde, betekenisvolle gesinstudie goed voorberei word, kan dit interessant en aangenaam wees, ’n tyd van gerusstellende samesyn vir die gesin. Sit tyd opsy om jou kinders se hart te bereik (Spr. 23:15). Terwyl baie gesinne hierdie geleentheid gebruik om vir die weeklikse Wagtoring-studie voor te berei, kan dit van tyd tot tyd bemoedigend wees om ’n spesifieke behoefte te bespreek wat die gesin het. Deur beskouingsvrae te vra en na die kommentare van elke gesinslid te luister, sal vir jou insiggewend sowel as verfrissend wees. Om ’n studie te hou waarby elke gesinslid baat sal vind, is vir die gesinshoof ’n ware uitdaging. Maar hoe lonend is dit tog wanneer almal geestelik groei! As almal by die studie betrek word, sal daar ’n gelukkige gees heers.

26 Jou liefdevolle, gespesialiseerde opleiding is nou van lewensbelang om die lewe van jou kinders te red (Spr. 22:6). Met dit in gedagte, is dit maklik om te verstaan dat dit moontlik die belangrikste onderrigting is wat jy ooit sal gee. Moet nooit dink dat jy alleen in hierdie spesiale en belangrike taak is nie. Leer om ten volle op Jehovah te vertrou vir leiding om na jou gesinsverantwoordelikhede om te sien. Dit is nie al nie. Daar is ander wat jou ook van groot hulp kan wees.

27 Wat ander kan doen om te help: Ouere manne kan jongmense, saam met hulle ouers, by die skoonmaak van die Koninkryksaal betrek. Moedig kinders by gemeentelike vergaderinge aan. Ouere manne en bedieningsknegte wat dele op die Diensvergadering behartig, moet op die uitkyk wees vir klein handjies wat opgesteek word wanneer daar dele is wat gehoordeelname vereis. Soek na geleenthede om voorbeeldige jongmense saam met hulle ouers in demonstrasies te gebruik. Daar kan met party ’n onderhoud gevoer word, en hulle kan kort kommentare lewer.

28 Moenie hulle pogings as vanselfsprekend aanneem nie. Jongmense is ’n ware aanwins vir die gemeente. Deur hulle goeie gedrag het baie ‘die leer van God, ons Verlosser, versier’ (Tit. 2:6-10). Wees bewus van hoe belangrik dit is om jongmense wat selfs ’n klein deelname het te prys. Dit moedig hulle aan om voor te berei en die begeerte te hê om dit in die toekoms weer te doen. Die waarde van sulke belangstelling kan nie bepaal word nie; dit is onskatbaar. Hoe dikwels het jy al as ’n ouere man of ’n bedieningskneg jonger lede van die gemeente genader om hulle vir ’n toespraak of ’n aanbieding gedurende die vergadering te prys?

29 Pioniers, wat kan julle doen om hulle te help? Waarom hersien jy nie jou rooster en kyk hoe jy skoolkinders by jou reëlings vir die middae en naweke kan betrek nie? Praat jy positief oor jou keuse om in die voltydse diens te wees? Toon jy deur jou voorkoms dat jy vreugde uit jou bediening put? Raai jy dit geredelik vir ander aan, veral die wat jonger is? Is jou spraak opbouend en positief wanneer jy van huis tot huis werk? As dit die geval is, het jy as pionier ook ’n aandeel aan hierdie allerbelangrikste opleidingsaktiwiteit.

30 Almal in die gemeente moet baie bewus wees van hierdie belangrike werk om jongmense op te lei. Kan jy definitiewe reëlings tref om saam met hulle in die veldbediening te werk? Kan jy ’n aanbieding saam met hulle oefen om hulle vir die huis-tot-huis-werk voor te berei? Soek jy na geleenthede om toekomstige geestelike bedrywighede aan te moedig wanneer julle saam in die bediening werk? Elke verkondiger moet bewus wees van die feit dat selfs ’n klein opmerking ’n jong persoon kan aanspoor om positief te dink aan lewenslange, geestelike doelwitte wat tot sy ewige voordeel sal strek.

31 Jongmense kan hulleself help: Jongmense, ons moedig elkeen van julle aan om voortdurend op Jehovah se onderrigting ag te slaan en dit wat die wêreld aanbied te verwerp. Toets jouself voortdurend deur jou gedrag en innerlike gevoelens te ondersoek. Wat is jou gesindheid teenoor Jehovah en wat hy van jou in die daaglikse lewe verwag? Stry jy hard teen die invloed van Satan se idees? (1 Tim. 6:12). Vind jy, aangesien mense, en veral jongmense, van nature hulle portuurs se goedkeuring wil wegdra dat jy in die versoeking kom om die meerderheid te volg deur te doen wat verkeerd is? (Ex. 23:2). Die apostel Paulus het besef dat daar groot druk is om die wêreld se denke en gedrag na te volg.—Rom. 7:21-23.

32 Dit verg moed om die wêreld se invloed te weerstaan, ’n ander weg as wêreldse portuurs in te slaan en op die onderrigting van God ag te slaan. Manne van die ou tyd het dit met groot sukses gedoen. Beskou die moed wat Noag aan die dag gelê het. Hy het ’n hele wêreld deur sy geloof veroordeel en deur afgeskeie van die kwaaddoeners van sy tyd te bly (Hebr. 11:7). Dit is die moeite werd om hard te stry. Moenie die swak, ruggraatlose bevreesdes navolg wat agter Satan se menigte aangaan nie. Inteendeel, soek die geselskap op van diegene wat guns in Jehovah se oë vind (Filip. 3:17). Omring jou met metgeselle wat sy aan sy saam met jou in God se beloofde nuwe wêreld sal ingaan (Filip. 1:27). Hou in gedagte dat daar net een weg is wat tot die ewige lewe lei.—Matt. 7:13, 14.

33 As dit óns verbly om te sien hoe jongmense ons God loof en eer, hoe bly moet dit hom nie maak nie! Jehovah put ongetwyfeld vreugde daaruit om te sien hoe jongmense ’n volle deelname het aan die verkondiging van sy grootse voornemens. Hulle is “’n erfdeel” van hom, en hy wil net die beste vir hulle hê (Ps. 127:3-5; 128:3-6). Christus Jesus het sy Vader se belange weerspieël en baie vreugde uit sy assosiasie met jong kinders geput, en hy het tyd opsygesit om hulle in hulle aanbidding van Jehovah aan te moedig. Hy het tere geneentheid teenoor hulle betoon (Mark. 9:36, 37; 10:13-16). Beskou ons ons jongmense op dieselfde manier as wat Jehovah en Christus Jesus hulle beskou? Is die jongmense in ons gemeente bewus van hoe Jehovah en die engele hulle lojaliteit en goeie voorbeeld beskou? Hulle moet geprys en aangemoedig word om Jehovah te verbly deur geestelike doelwitte na te streef. Jongmense, streef doelwitte na wat vir julle nou en in die toekoms seëninge sal meebring.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel