Saai volop om volop te maai
1 Elke boer weet dat hy waarskynlik ’n groot oes sal maai as hy volop saai, maar hy sal beslis spaarsaamlik maai as hy spaarsaamlik saai (2 Kor. 9:6). Hierdie tema kan nêrens anders so duidelik gesien word soos in ons getuieniswerk nie. Hoe meer tyd ons aan die getuieniswerk kan bestee, hoe groter is ons kans natuurlik om te maai ten opsigte van interessante ondervindinge, produktiewe herbesoeke en tuisbybelstudies.
2 Ons wil ook volop saai wat tydskrifte, brosjures en ander publikasies betref. Soms laat ons hulle dalk op ’n rak by die huis ophoop terwyl hulle gebruik kan word om diegene in ons gebied wat dit waardig is tot ’n kennis van die waarheid te lei. (Vergelyk Mattheüs 25:25.) Neem byvoorbeeld ons tydskrifverspreiding. Daar is geleidelik al hoe minder tydskrifte versprei. Gedurende die 1993-diensjaar het die verkondigers in Suid-Afrika gemiddeld 4,2 tydskrifte per maand versprei. Hoewel daar miskien ’n hele paar redes hiervoor is, onder andere die swak ekonomiese toestande, meen ons dat baie verkondigers nie tyd opsysit om gereeld aan die tydskrifwerk deel te neem nie. In baie gemeentes is daar ’n weeklikse Tydskrifdag gereël sodat die hele gemeente aan hierdie belangrike werk kan deelneem om Koninkryksaad volop te saai. Pleks van net een of twee Saterdae daarvoor opsy te sit, moet die ouere manne reëlings tref sodat daar ELKE Saterdag tydskrifwerk gedoen kan word.
3 Weens die voortgesette geweld in die swart woongebiede het broers dit moeilik gevind om tydskrifte in party gebiede te versprei. Die ouere manne moet die verkondigers eerder in stiller gebiede laat werk. Gaan van huis tot huis as dit nie moontlik is om straatgetuieniswerk te doen nie. Tydskrifroetes is nog ’n goeie manier om meer tydskrifte te versprei en uiteindelik Bybelstudies te begin.
4 Ons Bybelstudiewerk is nog ’n gebied waarop ons volop wil saai. In Augustus 1993 het ons in Suid-Afrika ’n hoogtepunt van 63887 Bybelstudies gerapporteer. Dit is uitstekend, en ons wil almal prys wat aan hierdie belangrike werk deelgeneem het. Wanneer ’n boer saad saai, verwag hy om ’n goeie oes te maai. Moet ons dus nie van die meer as 63000 Bybelstudies wat gehou word geleidelik al hoe meer nuwe dissipels elke maand maai nie?
5 Om sulke resultate te verkry, moet ons bereid wees om hard te werk en al die uitstekende wenke toe te pas wat ons onlangs in Ons Koninkryksbedienings oor Bybelstudies gekry het. Het jy persoonlik al hierdie wenke toegepas? (Verwys na Ons Koninkryksbediening, Junie tot Desember 1993.) Maak gerus afskrifte van hierdie artikels en hou hulle agter in jou Paradys op aarde- en Verenig in aanbidding-boek sodat jy gereeld daarna kan verwys. Die diensopsiener en boekstudiehouers moet ook hierdie artikels gebruik om almal in die gemeente te help om Bybelstudies op ’n bekwamer wyse te hou, wat sodoende ’n goeie oes nuwe dissipels tot gevolg sal hê.—Matt. 28:19.
6 Ons almal moet ons afvra: Kan ek oorvloediger in die bediening saai? (1 Thess. 4:1). Gaan sit gerus en oorweeg hoe julle, individueel of as ’n gesin, ’n groter aandeel aan tydskrifverspreiding kan hê. As jy nie tans ’n Bybelstudie het nie, kan jy dit ’n saak van gebed maak en hard in die veld werk om een te kry. As jy ’n studie hou, moet jy die wenke wat ons deur Jehovah se organisasie kry, toepas om te verseker dat jy die verlangde resultate verkry. Sodoende sal ons oorvloediger tot Jehovah se eer maai.