Gaan terug na waar jy belangstelling gevindhet
1 Baie van ons het welslae behaal in die verspreiding van tydskrifte en brosjures. Dit is belangrik dat ons teruggaan en verdere belangstelling probeer wek. Ons welslae daarin sal afhang van hoe goed ons voorberei voordat ons ’n herbesoek doen.
2 Onthou dat die meeste jongmense oor dieselfde dinge besorg is waaroor volwassenes hulle bekommer. Mei-maand se nommers van die Ontwaak! bevat artikels wat huidige probleme uit die oogpunt van jongmense ondersoek. Hierdie artikels bied insig wat jongmense, sowel as hulle ouers, kan help om te sien wat werklik van belang in die lewe is.
3 As jy die “Ontwaak!” van 8 Mei by die huisbewoner gelaat het, is jy dalk van plan om dit op te volg deur die nommer van 22 Mei aan te bied. Jy kan sê:
◼ “Die laaste nommer wat ek by jou gelaat het, het artikels bevat oor watter hoop daar vir kinders is. Ons jongmense moet grootword in ’n wêreld wat min hoop vir die toekoms bied. Baie van hulle toon hulle wrewel deur opstandige gedrag. Maar daar is party wat hulle balans behou en hoë ideale koester. Hierdie artikel in die jongste Ontwaak! verduidelik hoe ’n hoër hof ’n tienderjarige se standpunt ondersteun. Ek dink jy sal dit geniet.”
4 Jy besluit dalk om ’n brosjure aan te bied deur hierdie benadering te gebruik:
◼ “Tydens my vorige besoek het ek ons kort bespreking oor die toekoms van hierdie aarde geniet. Kan jy jou voorstel hoe die lewe hier sal wees wanneer God ’n einde aan goddeloosheid en lyding maak? [Wys die prent op bladsy 31 van die brosjure Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?] Kyk na al hierdie Bybeltekste op bladsye 29 en 30 wat die seëninge beskryf wat God se Koninkryk sal bring. [Kies een teks en lees dit direk uit die brosjure.] Ek wil dit graag by jou laat vir ’n bydrae van 90 sent.”
5 Wanneer jy teruggaan, sê die huisbewoner miskien dat hy sy eie godsdienslektuur kry en dat hy dink dit is voldoende. Jy kan sê:
◼ “Ongeag ons godsdiens word ons almal deur talle van dieselfde bekommernisse geraak—misdaad, ernstige siekte, omgewingskwessies—nie waar nie? [Laat die huisbewoner antwoord.] Dink jy daar is enige ware oplossing vir hierdie probleme? [Lees 2 Petrus 3:13.] Die doel van ons lektuur word op bladsy 2 van Die Wagtoring uiteengesit. [Lees ’n gekose sin of twee.] Baie mense wat nie Jehovah se Getuies is nie, geniet dit om ons publikasies te lees vanweë die bemoedigende boodskap wat hulle bevat wat op die Bybel gegrond is.” As die huisbewoner gunstig reageer, kan jy ons Bybelstudieprogram aan hom verduidelik en die jongste tydskrifte aanbied.
6 Jy kan die volgende benadering gebruik:
◼ “Tydens my vorige besoek het ons oor die toekomstige vooruitsigte vir ons wêreld gepraat. Wat dink jy van hierdie berig? [Meld die een of ander kommerwekkende nuusbrokkie.] Wanneer mense sulke dinge hoor, laat dit hulle wonder wat van hierdie wêreld word, nie waar nie? Ons glo sulke dinge toon dat ons in ‘die laaste dae’ leef, wat in die Bybel in 2 Timotheüs 3:1-5 voorspel is.” Nadat jy ’n paar punte uitgelig het, kan jy vra of hy al mense gesien het wat daardie beskrywing pas. Gaan voort deur een van die tussenhofies op bladsye 259-63, par. 2, in die Redenering-boek te bespreek.
7 As ons goed voorberei en toon dat ons ’n opregte begeerte het om te help, kan ons vol vertroue wees dat die opregtes van hart wel sal luister.—Joh. 10:27,28.