Gaan voort om in ’n ordelike roetine te wandel
1 Die apostel Paulus het vir die gemeente in Filippi, wat hy help vorm het, besondere geneentheid gehad. Hy was dankbaar vir hulle liefdevolle materiële voorsienings en het van hulle as ’n goeie voorbeeld gepraat.—2 Kor. 8:1-6.
2 Paulus is deur innige liefde beweeg om sy brief aan die Filippense te skryf. Die Insight-boek, Deel 2, bladsy 631, sê: “Deur die hele brief moedig hy die gemeente in Filippi aan om in hulle goeie wandel voort te gaan—deur na groter insig te streef en ’n stewige greep op die Woord van die lewe, ’n sterker geloof en hoop op die toekomstige prys te kry.” Hulle het hartlik gereageer en sodoende ’n band van liefde tussen hulle en die apostel gesmee. Paulus se woorde het vandag spesiale betekenis vir ons, aangesien dit ons ’n goeie rede gee om noukeurig oor sy vermaning na te dink, veral oor wat in Filippense 3:15-17 (NW) opgetekenis.
3 ’n Volwasse geestesgesindheid is noodsaaklik: In Filippense 3:15 kon Paulus skryf as ’n man met jare lange ondervinding. Hy het die Filippense se geestelike vooruitgang erken en met hulle geredeneer as volwasse Christene met die regte geestesgesindheid. So lank as wat hulle geestesgesindheid die nederigheid en waardering weerspieël het wat Jesus geopenbaar het, sou hulle voortgaan om ‘onberispelik en onskuldig te wees, kinders van God sonder ’n smet, terwyl hulle ’n stewige greep op die woord van die lewe behou’ (Filip. 2:15, 16, NW). Wanneer ons Paulus se woorde lees, moet ons voel asof hy met ons praat. Sodoende begeer ons opreg om dieselfde geestesgesindheid te hê wat Jesus gehad het en om nederige waardering vir ons voorregte te toon. Ons vra Jehovah voortdurend in gebed om ons in hierdie en ander opsigte te help.—Filip. 4:6,7.
4 Soos Filippense 3:16 toon, moet ons almal vooruitgang probeer maak. Die woord “vooruitgang” beteken om “vorentoe te beweeg, vordering te maak”. Mense wat progressief is, “stel belang in nuwe idees, bevindings of geleenthede”. Paulus wou hê die Filippense moes verstaan dat die Christelike geloof nooit stilstaan nie en dat diegene wat dit bely, moet aanhou voortbeweeg. Hulle progressiewe gees sou getoon word deur hulle gewilligheid om hulleself te ondersoek, hulle swakhede te erken en na geleenthede te soek om meer te doen of om te verbeter in wat hulle doen. Vandag hou Jehovah se organisasie aan om progressief voort te beweeg deur die omvang van hulle bedrywigheid uit te brei en hulle insig van God se Woord te verbreed. Ons almal moet met die organisasie tred hou deur van al sy voorsienings gebruik te maak en ten volle aan die werk van die organisasie deel te neem.
5 Vooruitgang vereis ’n ordelike roetine: Paulus het sy broers voorts aangespoor om “ordelik in hierdie selfde roetine te wandel” (Filip. 3:16, NW). Om ordelik te wees, vereis dat ons mense of dinge in hulle behoorlike plek in verhouding met mekaar plaas en goeie gedrag handhaaf. Die Christene in Filippi het hulle behoorlike plek behou deur na aan Jehovah se organisasie en aan mekaar te bly. Hulle lewe is deur die wet van liefde beheer (Joh. 15:17; Filip. 2:1,2). Paulus het hulle aangespoor om hulle ‘te gedra op ’n wyse wat die goeie nuus waardig is’ (Filip. 1:27, NW). Ordelikheid en goeie gedrag is vandag net so belangrik vir Christene.
6 ’n Roetine is ’n gereelde herhaling van ’n vaste prosedure. Dit hou derhalwe noue verband met ’n gebruiklike manier om dinge te doen. ’n Roetine kan ons tot voordeel strek, want ons het nie nodig om te aarsel en te beraadslaag wanneer ons oor ons volgende stap besluit nie—ons het reeds ’n vaste patroon wat ons uit gewoonte volg.
7 ’n Ordelike teokratiese roetine bestaan uit gewoontes en gebruike wat heilsaam, nuttig en godvrugtig is—met die doel om onsself geestelik op te bou, ander te help en, indien moontlik, meer in Jehovah se diens te doen. Om hierdie doelwitte met welslae te bereik, vereis dat ons ’n roetine begin en handhaaf wat persoonlike studie, gereelde vergaderingbywoning en deelname aan die predikingswerk insluit.
8 Vereistes vir ’n ordelike roetine: Een vereiste is “juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë” (Filip. 1:9, NW). Persoonlike studie versterk ons geloof, asook ons waardering vir die waarheid, en dit beweeg ons om goeie werke te doen. Party vind dit egter moeilik om bestendig in hulle studiegewoontes te wees. Te min tyd is een van die vernaamste redes wat genoem word.
9 Die voordele daarvan om die Bybel daagliks te lees, kan nie oorbeklemtoon word nie. Die riglyne daarin is in alle opsigte “nuttig” (2 Tim. 3:16, 17). Hoe kan ons in ons daaglikse roetine tyd vir Bybelstudie inruim? Party het gevind dat hulle elke oggend ’n paar minute vroeër kan opstaan, wanneer hulle verstand nog vars is. Ander vind dit beter as hulle ’n paar minute lees voor hulle saans bed toe gaan. Vrouens wat gedurende die dag tuis is, kan dalk ’n bietjie tyd in die middae opsysit voor die ander van die skool of werk af kom. Benewens gereelde Bybellees, lees party die Verkondigers-boek as deel van hulle weeklikse studierooster.
10 Wanneer ons met nuwe gewoontes begin, is daar ’n sterk moontlikheid dat dit met ons vorige gewoontes gaan bots. In die verlede was ons dalk geneig om toe te laat dat onbelangrike bedrywighede ons beskikbare tyd in beslag neem. Dit is nie maklik om van daardie patroon weg te breek nie. Niemand gaan vir ons voorskryf wat ons studiegewoontes moet wees nie; en daar word ook nie van ons verwag om te sê wat ons in hierdie verband doen nie. Die gereeldheid van ons studiegewoontes hang in ’n groot mate af van ons waardering vir “die belangriker dinge” en ons bereidwilligheid om “die geleë tyd” uit te koop om daarby baat te vind.—Filip. 1:10, NW; Ef. 5:16,NW.
11 Christelike vergaderinge speel ’n belangrike rol in ons geestelike vooruitgang, aangesien dit die nodige onderrigting en aanmoediging voorsien. Daarom is vergaderingbywoning nog ’n onontbeerlike deel van ons ordelike roetine. Paulus het die belangrikheid hiervan beklemtoon. Dit is nie ’n keuse wat deur voorkeur bepaal word nie.—Hebr. 10:24,25.
12 Hoe kan ons ordelikheid toon wanneer ons ons weeklikse rooster vir bedrywighede beplan? Party sit spesifieke tye opsy om persoonlike belange na te jaag en probeer dan om die vergaderinge in enige oorblywende tyd in te pas, maar dit moet andersom wees. Ons weeklikse vergaderinge moet voorkeur geniet en ander bedrywighede moet dan dáárby inpas.
13 Gereelde vergaderingbywoning vereis goeie beplanning en samewerking van die gesin. Weeksdae het die meeste van ons ’n besige rooster wat ons soms met min tyd laat. Dit beteken dat die aandete, indien moontlik, vroeg klaar moet wees sodat die gesin genoeg tyd het om te eet, gereed te maak en vroegtydig by die vergadering aan te kom. Met dié doel voor oë kan gesinslede op verskillende maniere saamwerk.
14 Gereelde deelname aan die velddiens is onontbeerlik as ons wil voortgaan om in ’n ordelike roetine te wandel. Ons almal besef ongetwyfeld watter belangrike verantwoordelikheid ons het om die Koninkryksboodskap te verkondig. Dít is wat ons Getuies van Jehovah maak (Jes. 43:10). Aangesien dit die dringendste en voordeligste werk is wat vandag gedoen word, kan dit hoegenaamd nie as ’n terloopse deel van ons roetine beskou word nie. Paulus het gewaarsku: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.”—Hebr. 13:15.
15 Wanneer ons ons bedrywighede elke week beplan, moet spesifieke tye vir velddiens opsygesit word. Die gemeente het waarskynlik verskeie kere per week reëlings vir velddiens, en ons moet net besluit watter reëlings ons kan ondersteun. Dit sal goed wees om aan elke faset van die bediening te probeer deelneem, soos om met tydskrifte en ander lektuur van huis tot huis te werk, herbesoeke te doen en Bybelstudies te hou. Ons kan selfs vooruitbeplan om informele getuieniswerk te doen deur lektuur by ons te hê en wakker te wees vir geleenthede om gesprekke te begin. Aangesien ons gewoonlik saam met ander werk, moet ons hulle vra wat hulle rooster is sodat ons reëlings kan tref wat ons en hulle sal pas.
16 Ons moet ondanks onverskilligheid in die gebied met ons predikingsroetine voortgaan. Ons weet reeds voor die tyd dat min mense na ons sal luister (Matt. 13:15; 24:9). Esegiël het die opdrag gehad om vir mense te preek wat ‘opstandig, hard en verstok van hart’ was. Jehovah het belowe om Esegiël te help deur sy ‘voorhoof hard te maak net soos hulle voorhoof’, dit wil sê “soos ’n diamant, harder as ’n rots” (Eseg. 2:3,4; 3:7-9). ’n Gereelde roetine in die bediening vereis derhalwe volharding.
17 Goeie voorbeelde om na te volg: Die meeste van ons doen beter in die veldbediening as daar iemand is om die leiding te neem. Paulus en sy metgeselle het ’n goeie voorbeeld gestel, en hy het ander aangespoor om hom na te volg (Filip. 3:17). Sy roetine het alles ingesluit wat nodig was om hom geestelik sterk te hou.
18 Vandag het ons ook sulke goeie voorbeelde. In Hebreërs 13:7 het Paulus ons aangespoor: “Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem, ... en namate julle die uiteinde van hulle gedrag aanskou, moet julle hulle geloof navolg” (NW). Christus is natuurlik ons Voorbeeld, maar ons kan die geloof navolg van dié wat die leiding neem. Die ouere manne moet, soos Paulus, daarvan bewus wees om vir ander ’n goeie voorbeeld te stel. Hoewel hulle persoonlike omstandighede dalk verskil, moet elkeen kan toon dat hy ’n ordelike roetine handhaaf deur Koninkryksbelange eerste te stel. Selfs met sekulêre en gesinsverantwoordelikhede moet ouere manne goed gevestigde gewoontes hê met betrekking tot hulle persoonlike studie, vergaderingbywoning en die leiding wat hulle in die veldbediening neem. As die ouere manne toon dat hulle hulle “eie huisgesin op voortreflike wyse beheer”, sal almal in die gemeente aangespoor word om voortdurend in ’n ordelike roetine te wandel.—1 Tim. 3:4, 5,NW.
19 Doelwitte vir die nuwe diensjaar: Die begin van die nuwe diensjaar is ’n gepaste tyd om oor ons persoonlike roetine na te dink. Wat toon ’n hersiening van ons bedrywighede oor die afgelope jaar? Kon ons die gehalte van ons diens handhaaf, of moontlik selfs verbeter? Ons het dalk ons persoonlike studie deegliker gedoen. Ons het dalk die vergaderinge gereelder bygewoon of ons velddiens uitgebrei deur hulppionierdiens te doen. Miskien kan ons na spesifieke dade van Christelike goedhartigheid verwys wat ons ten behoewe van ander in ons gemeente of gesin gedoen het. Indien wel, kan ons ons verheug dat ons in ’n weg gewandel het wat God behaag, en ons het goeie rede om ‘aan te hou om dit in voller mate te doen’.—1 Thess. 4:1,NW.
20 Maar sê nou ons roetine was ietwat ongereeld of sporadies. Hoe is ons geestelik daardeur geraak? Is ons vooruitgang om die een of ander rede verhinder? Ons kan begin verbeter deur Jehovah om hulp te vra (Filip. 4:6, 13, NW). Bespreek jou behoeftes met die res van die gesin, en vra hulle hulp as jy aspekte van jou roetine wil verander. As jy probleme ondervind, kan jy die ouere manne om hulp vra. As ons ’n ywerige poging aanwend en op Jehovah se leiding ag gee, kan ons verseker wees dat ons nie “ledig of onvrugbaar” sal wees nie.—2 Pet. 1:5-8.
21 As jy in ’n ordelike roetine wandel, lei dit tot seëninge wat jou pogings die moeite werd maak. Namate jy jou voorneem om progressief in ’n ordelike roetine te wandel, moet jy nie ‘traag in jou bedrywigheid wees nie. Gloei van die gees. Dien Jehovah as slawe’ (Rom. 12:11, NW).—Sien Die Wagtoring van 1 Mei 1985, bladsye 13-17, vir ’n breedvoeriger bespreking van hierdie onderwerp.