Hoe ons ons tydskrifte ten beste kan benut
1 Wat sien jy wanneer jy ’n koerantstalletjie nader? Tydskrifte. Wat trek jou aandag in ’n kafee? Tydskrifte. Wat maak die posman se possak so swaar? Tydskrifte. Wat lees baie mense dus? Tydskrifte. Opnames het getoon dat 9 uit 10 jongmense tussen die ouderdomme van 10 en 18, en dieselfde persentasie volwassenes, ten minste een tydskrif elke maand lees. Die wêreld is tydskrifbewus.
2 Kan ons opregtes van hart Wagtoring- en Ontwaak!-bewus maak? Ja, as ONS Wagtoring- en Ontwaak!-bewus is. Wat kan ons help? Kyk na hierdie wenke:
◼ Lees die tydskrifte: ’n Reisende opsiener het gesê dat daar gemiddeld slegs 1 uit 3 verkondigers in sy kring is wat elke nommer van Die Wagtoring en Ontwaak! van voor tot agter lees. Doen jy dit? Terwyl jy elke artikel lees, moet jy jou afvra: ‘Wie sal hierdie inligting waardeer—’n moeder, ’n agnostikus, ’n sakeman, ’n jongmens?’ Merk een of twee punte in jou persoonlike eksemplaar wat jy kan gebruik wanneer jy die tydskrif aanbied. Dink dan hoe jy in net een of twee sinne belangstelling in die onderwerp kan wek.
◼ Jy moet ’n vaste tydskrifbestelling hê: Plaas ’n realistiese bestelling vir ’n vasgestelde aantal eksemplare van elke nommer by die broer wat vir die tydskrifte verantwoordelik is. Sodoende sal jy en jou gesin altyd genoeg tydskriftehê.
◼ Tref reëlings vir ’n gereelde tydskrifdag: Talle gemeentes het ’n spesifieke dag hoofsaaklik vir tydskrifwerk opsy gesit. Kan jy die gemeente se Tydskrifdag ondersteun? Indien nie, moet jy van tyd tot tyd ’n deel van jou velddienstyd vir tydskrifwerk op straat probeer gebruik en om die tydskrifte persoonlik van deur tot deur sowel as op tydskrifroetes te versprei.
◼ Wees “Wagtoring”- en “Ontwaak!”-bewus: Dra eksemplare van die tydskrifte saam met jou wanneer jy reis of inkopies doen. Bied hulle aan wanneer jy met medewerkers, bure, skoolmaats of onderwysers praat. ’n Egpaar wat dikwels per vliegtuig reis, gebruik ’n punt in een van die jongste tydskrifte om ’n gesprek aan te knoop met die passasier wat langs hulle sit. Hulle het al talle genotvolle ondervindinge gehad. Party jongmense neem gereeld artikels skool toe waarin hulle dink hulle onderwysers of medeskoliere belang sal stel. Dra eksemplare saam met jou wanneer jy dorp toe gaan en bied hulle vir die sakemanne aan nadat jy jou sake afgehandel het. Baie van ons koop gereeld petrol; bied gerus die tydskrifte vir die petroljoggie aan. Hou hulle byderhand wanneer die familie kom kuier, wanneer jy van openbare vervoer gebruik maak of wanneer jy vir ’n afspraak wag. Kan jy aan ander gepaste geleenthede dink?
◼ Berei ’n kort tydskrifaanbieding voor: Beplan om slegs ’n paar woorde te sê, maar om dit op ’n doeltreffende manier te sê. Wees entoesiasties. Probeer die hart bereik. Wees spesifiek. Kies een gedagte uit ’n artikel, stel dit in ’n paar woorde en bied die tydskrifte aan. Die beste manier om ’n aanbieding te doen, is om ’n vraag oor ’n onderwerp van belang te opper en dan die aandag op ’n artikel te vestig wat die skriftuurlike antwoord gee. Kyk na ’n paar voorbeelde van hoe dit gedoen kan word:
3 As jy ’n artikel gebruik wat die toename in misdaad bespreek, kan jy vra:
◼ “Wat is nodig sodat ons snags sonder vrees vir misdaad sal kan slaap?” Die huisbewoner is dalk pessimisties en dink nie dat dinge beter gaan word nie. Jy kan antwoord dat baie mense só voel en byvoeg dat jy inligting het wat jy meen hom sal interesseer. Verwys dan na ’n gepaste punt in die artikel.
4 Wanneer jy ’n artikel oor die gesinslewe aanbied, kan jysê:
◼ “Vir baie mense is dit deesdae ’n ware uitdaging om ’n bestaan te voer en ’n gesin groot te maak. ’n Aantal boeke is al oor die onderwerp geskryf, maar selfs die kenners stem nie saam oor die oplossings vir ons probleme nie. Waarheen kan ons ons wend om betroubare leiding te ontvang?” Vestig dan die aandag op ’n spesifieke kommentaar in die tydskrif wat toelig watter wysheid in die Bybel gevind word.
5 Jy kan hierdie benadering gebruik wanneer jy die aandag op ’n artikel vestig wat oor ’n sosiale probleem handel:
◼ “Die meeste mense verkeer vandag onder druk. Dit was nooit God se voorneme dat ons so lewe nie.” Toon dan hoe die Bybelse inligting in die artikel ons kan help om lewensprobleme nou die hoof te bied en die hoop op ’n permanente oplossing in die toekoms gee.
6 Ons moet nooit huiwer om die voorgestelde bydrae te vra omdat ons dink dat ons tydskrifte te duur is nie; in vergelyking met wêreldse tydskrifte is ons tydskrifte eintlik baie goedkoop. Ons moet dus positief wees wanneer ons melding maak van die bydrae om die drukkoste te dek.
7 Straatgetuieniswerk is doeltreffend: Dit was in die Voorligter (Ons Koninkryksbediening) se nommer vir Januarie 1940 dat verkondigers vir die eerste keer aangemoedig is om elke week ’n spesiale dag vir straatgetuieniswerk met die tydskrifte opsy te sit. Neem jy van tyd tot tyd aan straatgetuieniswerk deel? Indien wel, is die metode wat jy gebruik werklik doeltreffend? Daar is al gesien hoe party verkondigers op ’n besige straathoek met mekaar staan en gesels terwyl talle mense ongemerk verbygaan. Dit is doeltreffender om afsonderlik te werk en mense te nader as om langs mekaar met die tydskrifte te staan. Mense sal dalk gaan staan en kortliks luister as slegs een persoon hulle nader, maar min sal die inisiatief neem om ’n groep mense te nader wat in ’n gesprek verdiep is. Aangesien ons baie aandag trek terwyl ons op straat staan, is dit belangrik dat ons goed versorg en beskeie aangetrek moet wees soos dit God se bedienaars betaam.—1 Tim. 2:9,10.
8 Tydskrifroetes: Diegene wat ’n tydskrifroete het, versprei baie tydskrifte hoewel die gebiede dikwels gedek word. Tydskrifroetes is ’n uitstekende bron van potensiële tuisbybelstudies.
9 Wanneer jy gereelde herbesoeke doen om die tydskrifte af te lewer, sal jy vind dat die hartlikheid en vriendelikheid tussen jou en die huisbewoner sal toeneem. Hoe beter julle mekaar leer ken, hoe makliker sal dit wees om oor skriftuurlike onderwerpe te gesels. Dit kan tot die begin van ’n produktiewe tuisbybelstudie lei. Bied ’n intekening aan waar dit duidelik is dat die persoon die tydskrifte waardeer. En onthou, jy kan ’n herbesoek rapporteer elke keer as jy met die huisbewoner praat.
10 ’n Suster het gereeld tydskrifte vir ’n vrou geneem wat hulle altyd geneem het, maar wat gesê het: “Ek glo nie wat jy vir my sê nie.” Op ’n latere besoek het die suster die vrou se man tuis gevind. Ná ’n vriendelike gesprek is reëlings getref om ’n Bybelstudie te begin. Die suster het vriende gemaak met die drie seuns wat by die studie aangesluit het. Die moeder en haar seuns het uiteindelik hulle lewe aan Jehovah toegewy en is gedoop. Tot dusver het 35 lede van die familie die waarheid aangeneem. Dit alles omdat die suster teruggegaan het na haar tydskrifroete!
11 Daar is baie maniere om ’n tydskrifroete te begin. Jy kan ’n roete begin deur eenvoudig ’n rekord te hou van waar jy tydskrifte gelaat het en te reël om elke twee weke met die jongste nommers terug te gaan. Een manier is om inligting onder die opskrif “In ons volgende nommer” te gebruik. Wanneer jy teruggaan, kan jy vir die huisbewoner sê dat jy die artikel het waarvan jy voorheen gepraat het. Of wanneer jy die herbesoek doen, kan jy sê: “Toe ek hierdie artikel gelees het, het ek gedink dat dit jou dalk sal interesseer ...” Lewer dan kortliks kommentaar oor die artikel en bied dit aan. Nadat jy die besoek gedoen het, moet jy vyf eenvoudige punte op jou huis-tot-huis-verslag neerskryf: (1) die huisbewoner se naam, (2) die huisbewoner se adres, (3) die datum van die besoek, (4) watter tydskrifte jy daar gelaat het en (5) die artikel waarop jy die aandag gevestig het. Party verkondigers het tydskrifroetes met groot welslae begin en het tot 40 of meer besoeke op hulle lys!
12 Sakegebied: Baie tydskrifte word versprei deur verkondigers wat sakegebied werk. Het jy al die winkel-tot-winkel-werk probeer? Verslae dui aan dat deelname aan hierdie aspek van diens taamlik beperk is in party gemeentes. Aanvanklik is party bang om besigheidsmense te besoek, maar nadat hulle dit ’n paar keer probeer het, vind hulle dit interessant en lonend. Vra gerus ’n bekwame verkondiger of pionier om jou te help om daarmee te begin.
13 Dit hou verskeie voordele in om van winkel tot winkel te werk. Daar is gewoonlik mense om mee te praat, ten minste gedurende sake-ure! Besigheidsmense is gewoonlik beleef, selfs al stel hulle nie juis in die Bybel belang nie. Begin vroeg; jy sal waarskynlik beter ontvang word. Nadat jy jou voorgestel het, kan jy sê dat jy besigheidsmense selde tuis kry, en daarom besoek jy hulle kortliks by hulle werksplek om hulle die jongste nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! aan te bied. Vestig die aandag op die feit dat baie besigheidsmense ons tydskrifte waardeer omdat hulle op hoogte van sake moet bly wat wêreldgebeure betref, maar min tyd het om te lees. Die tydskrifte bespreek gedagteprikkelende inligting vanuit ’n nuwe gesigspunt, sonder godsdiens-, politieke of kommersiële vooroordeel. ’n Tydskrifroete kan begin word met belangstellendes wat jy in die sakegebied ontmoet.
14 Berei as ’n gesin voor: Gedurende julle gesinstudie kan tyd opsy gesit word om te bespreek watter artikels in die jongste tydskrifte moontlik gepas sal wees om in julle gebied te gebruik. Gesinslede—onder andere die kinders—kan beurte maak om hulle aanbiedings te oefen en besware te oorkom wat dikwels geopper word, soos: “Ek is besig”, “Ons het ons kerk” of “Ek stel nie belang nie.” Goeie samewerking kan dit vir die hele gesin moontlik maak om ’n gereelde aandeel aan tydskrifverspreiding tehê.
15 Boekstudiehouers kan help: Wanneer dit ook al prakties is, moet daar gereël word dat die velddiensvergaderinge op die Tydskrifdag by die boekstudiegroepe gehou word in plaas daarvan dat die hele gemeente by die Koninkryksaal bymekaarkom. Diegene wat velddiensvergaderinge behartig, moet goed voorbereid wees met spesifieke wenke vir die groep. Dit kan ’n demonstrasie en een of twee punte uit die jongste tydskrifte insluit wat gebruik kan word om plaaslik belangstelling te wek. Velddiensvergaderinge—wat die organisering van die groep insluit—moet kort wees en moenie langer as 10 tot 15 minute duur nie. Boekstudiehouers moet seker maak dat daar genoeg gebied is sodat die groep vir die hele velddienstyd besig gehou sal word.
16 Toon waardering vir die tydskrifte: Die artikel “Maak goed gebruik van Die Wagtoring en die Ontwaak!” wat in Ons Koninkryksbediening vir Julie 1993 verskyn het, het hierdie belangrike punt gestel: “Die Wagtoring en die Ontwaak! verloor nie hulle waarde nie, selfs nie as hulle nie binne ’n maand of twee van die tydskrif se datum af versprei word nie. Die inligting wat hulle bevat, raak nie minder belangrik met verloop van tyd nie ... As ons toelaat dat ouer tydskrifte ophoop en ons hulle nooit gebruik nie, toon dit ’n gebrek aan waardering vir hierdie waardevolle instrumente. ... Pleks van hulle opsy te sit en van hulle te vergeet, sal dit beter wees om ’n spesiale poging aan te wend om ouer tydskrifte in die hande van belangstellendes te plaas.”
17 Daar is vandag talle opregtes van hart wat na die waarheid soek. Die inligting in een tydskrif is dalk net wat hulle nodig het om hulle na die waarheid te lei! Jehovah het ons ’n opwindende boodskap gegee om te verkondig, en ons tydskrifte speel ’n belangrike rol daarin om die boodskap na ander te neem. Gaan jy in die toekoms meer bewus wees van tydskrifverspreiding? Gaan jy hierdie komende naweek van hierdie wenke toepas? Jy sal ryklik geseën word as jy dit doen.
Praktiese wenke:
◼ Lees die tydskrifte voor die tyd, en raak vertroud met die artikels.
◼ Kies ’n artikel wat oor iets handel wat van algemene belang in jou gemeenskapis.
◼ Berei ’n aanbieding voor wat gepas sal wees vir ’n verskeidenheid van mense, hetsy mans, vrouens of jongmense. Toon hoe die huisbewoner by die tydskrif baat kan vind en hoe die hele gesin dit sal geniet.
◼ Beplan om in die velddiens uit te gaan wanneer die meeste mense tuis is. Party gemeentes tref reëlings vir aandgetuieniswerk met die tydskrifte.
◼ Hou jou aanbieding kort en saaklik.
◼ Moenie te vinnig praat nie. As die persoon nie belangstel nie, sal dit nie help as jy vinniger praat nie. Probeer op jou gemak wees, en gee die huisbewoner kans om op jou aanbieding te reageer.
Hoe om tydskrifte van huis tot huis aan te bied:
◼ Glimlag en praat op ’n vriendelike stemtoon.
◼ Wees entoesiasties oor die tydskrifte.
◼ Praat stadig en duidelik.
◼ Praat oor slegs een onderwerp; wek kortliks belangstelling en toon die waarde daarvan aan die huisbewoner.
◼ Vestig die aandag op net een artikel.
◼ Gebruik slegs een tydskrif en bied die ander as ’n medetydskrif aan.
◼ Oorhandig die tydskrifte aan die huisbewoner.
◼ Sê vir die huisbewoner dat jy van plan is om terug te kom.
◼ Jy moet ’n vriendelike, positiewe slot hê as die tydskrifte van die hand gewys word.
◼ Maak ’n aantekening op jou huis-tot-huis-verslag van alle belangstellendes en van tydskrifte wat versprei is.
Geleenthede om tydskrifte te versprei:
◼ Huis-tot-huis-getuieniswerk
◼ Straatgetuieniswerk
◼ Winkel-tot-winkel-werk
◼ Tydskrifroete
◼ Aandgetuieniswerk
◼ Wanneer jy herbesoeke doen
◼ Wanneer jy voormalige Bybelstudente besoek
◼ Wanneer jy reis, inkopies doen
◼ Wanneer jy met familielede, medewerkers, bure, skoolmaats, onderwysers praat
◼ Wanneer jy van openbare vervoer gebruik maak, in wagkamers