Preek met insig
1 Om insig te hê, vereis dat ons iets moet weet omtrent die mense vir wie ons preek. Waarom? Omdat die sukses van ons pogings om mense se harte te bereik, afhang van ons vermoë om die Koninkryksboodskap op ’n manier aan te bied wat hulle belangstelling wek. Gedurende Januarie sal ons Die grootste mens wat nog geleef het teen ’n bydrae van R10,50 aanbied. Benewens die wenke wat in Ons Koninkryksbediening vir Desember gegee is, sal jy dalk een van die volgende benaderings wil probeer.
2 Nadat jy jou voorgestel het, kan jy die volgende in jou eie woorde stel:
◼ “Baie het al gewonder watter soort persoon Jesus was toe hy as ’n mens op hierdie aarde gelewe het. In watter opsigte dink jy het hy van ander verskil? [Laat die huisbewoner antwoord.] Hierdie boeiende boek, Die grootste mens wat nog geleef het, beskryf die hoogtepunte van sy lewe en bediening, en dit voorsien insig in die soort persoon wat hy was. Wanneer hulle dit gelees het, voel sommige asof hulle ’n geleentheid gehad het om persoonlik met hom te assosieer, ’n deel te hê aan sy lyding en sy bediening eerstehands waar te neem.” Wys na die eerste prent in die boek waarop die titel verskyn. Blaai dan na die inleiding en lees die tweede paragraaf onder die tussenhofie “Vind baat daarby om van hom te leer”. Bied die boek aan teen ’n bydrae van R10,50.
3 Jy wil dalk die volgende aanbieding gebruik:
◼ “Goeiemôre. Ons praat met party van ons bure oor watter eienskappe hulle graag in ’n persoon wil sien wat ander regeer. Mag ek jou vra watter eienskap of eienskappe jy dink die belangrikste is? [Laat die huisbewoner antwoord. Bedank huisbewoner vir antwoord. Stem saam indien dit gepas is.] Het jy geweet dat die Bybel die eienskappe beskryf van die Een wat goedgekeur is om die mensdom se heerser te wees? Dit is hier in Jesaja 9:5, 6. [Lees.] Hoe dink jy sal dit wees om onder so ’n heerser te lewe?” Laat die huisbewoner antwoord en vestig dan die aandag op Psalm 146:3, 4. Blaai na hoofstuk 133 van die Grootste mens-boek om verdere belangstelling te wek.
4 Gebruik ’n traktaat om die Grootste mens-boek in te lei: Traktate is baie nuttig om gesprekke aan te knoop. Die traktate help om huisbewoners se aandag te boei omdat dit betekenisvolle onderwerpe bespreek wat hulle persoonlik raak.
Jy kan byvoorbeeld iets sê soos:
◼ “In ons gesprekke met mense het ons opgelet dat baie hulle kommer uitspreek oor . . . [kies ’n onlangse gebeurtenis in die nuus]. Dit lyk asof wêreldtoestande al hoe slegter word. Party wonder selfs of hierdie wêreld kan bly voortbestaan. Hoe voel jy daaroor? [Laat die huisbewoner antwoord. Die meeste mense is optimisties.] Ek het iets bemoedigends gelees wat ek graag vir jou wil wys. Dit is hierdie traktaat. [Gee vir die huisbewoner die traktaat Sal hierdie wêreld bly voortbestaan? terwyl jy ook een in jou hand hou.] Let op hoe Jesus geprofeteer het dat . . . ” Lees uit ’n paragraaf op bladsy 4 of 5 wat ooreenstem met die onlangse gebeurtenis wat jy in jou inleiding genoem het. Wys vir die huisbewoner die Grootste mens-boek. Indien dit gepas lyk, kan jy na bykomende inligting oor Jesus se profesieë blaai wat in hoofstuk 111 bespreek word. Bied die boek aan. Maak ook seker dat jy ’n vraag oor ’n onderwerp stel wat jy kan bespreek wanneer jy teruggaan.
5 Goeie insig sal ons in staat stel om te onderskei wat die behoeftes en belange van die mense is wat ons ontmoet. Spreuke 16:23 gee ons hierdie versekering en sê: “Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy lippe.”