Vind baat by die Teokratiese Bedieningskool vir 1996—Deel 2
1 Kort ná die instelling van die Teokratiese Bedieningskool in 1943 het een van die Genootskap se takkantore berig: “Hierdie uitstekende reëling het in ’n kort tydjie daarin geslaag om baie broers wat gedink het dat hulle nooit openbare sprekers sal wees nie te help om baie bekwaam op die verhoog te word en meer welslae in die veld te behaal.” Die skool voorsien nog steeds uitstekende opleiding, wat ons almal nodig het.
2 Bybellees: Diegene aan wie ’n deel op die program toegewys is, is nie die enigstes wat by die skool baat vind nie. Eintlik het ons almal ’n toewysing—die weeklikse Bybellees. Die skoolrooster dui aan watter hoofstukke van die Bybel elke week gelees moet word. Daar is baie skriftuurlike herinnerings wat beklemtoon hoe belangrik dit is om die Bybel elke dag te lees (Jos. 1:8, NW; Ps. 1:2, NW; Hand. 17:11). Bybellees is onontbeerlik vir goeie geestelike gesondheid; dit voed die verstand en die hart. As ons die Bybel elke dag ten minste vyf minute lank lees, sal ons by die rooster kan byhou. Aan die einde van die jaar sal ons meer as 150 hoofstukke van God se Woord gelees het. As ons ’n Bybel byderhand hou, sal ons elke dag ’n stukkie daaruit kan lees.
3 Instruksietoespraak: Ten einde die broers tot lojale, ywerige diens aan te spoor, moet die spreker wat die instruksietoespraak hou goeie onderrigtingsmetodes gebruik om begrip oor te dra en om waardering vir Jehovah, sy Woord en sy organisasie op te bou. Ouer manne en bedieningsknegte kan dit doen deur goed voor te berei, hulle toespraak om die tema te bou, met oortuiging te praat en die materiaal lewendig te maak (Heb. 4:12). Dit is belangrik dat die spreker nie die tydgrens oorskry nie. Die “Hele Skrif”-boek is vol Bybeltekste en opwindende skriftuurlike materiaal waarby ons geestelik baat kan vind. Die Verkondigers-boek bevat die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se sigbare organisasie en vertel van gebeure in die lewe van werklike mense wat geloof, ywer, toegewydheid en liefde geopenbaar het. Daar is baie wat ons kan leer van ons teokratiese erfenis en die manier waarop Jehovah sy volk in hedendaagse tye geseën het.
4 Bybelglanspunte: Die broers wat hierdie toewysing ontvang, moet spesifieke verse uitsoek wat op ’n praktiese manier tot voordeel van die gemeente toegepas kan word. Dit vereis dat hulle die toegewese hoofstukke lees, daaroor peins en navorsing oor uitgesoekte verse doen om punte te kry wat die betekenis van daardie tekste duidelik sal maak. Agter in die Watch Tower Publications Index is die “Scripture Index”, wat nuttig kan wees om inligting oor spesifieke Bybelverse te vind. Die broers wat hierdie deel behartig, moet goeie oordeel aan die dag lê en nie materiaal inbring wat nie van toepassing is nie. Hulle moenie meer materiaal voorberei as wat in ses minute gedek kan word nie.
5 Ons kan almal by die Teokratiese Bedieningskool baat vind. Dit kan ons help om ons spraak- en onderrigtingsvermoë te verbeter. As ons hierdie voorsiening ten volle benut, sal dit ons beslis help om ons ‘vooruitgang vir almal duidelik te maak’.—1 Tim. 4:15.