Ons was geestelik nog nooit so goed daaraan toe nie!
1 Die meeste mense hunker na die dag wanneer hulle kan sê: “Ons was nog nooit so goed daaraan toe nie!” In hulle gedagtes sal daardie dag kom wanneer hulle ’n oorvloed materiële dinge het, wat hulle toelaat ‘om te ontspan, te eet, te drink en vrolik te wees’ (Luk. 12:19). In teenstelling hiermee kan ons nou reeds sê dat ons in geestelike sin geen gebrek het nie (Ps. 34:11). Hoe is dit moontlik?
2 Spreuke 10:22 sê: “Die seën van die HERE—dit maak ryk.” Ons wat sulke Goddelike guns geniet, kan waarlik sê dat God “ons alles ryklik vir ons genot verskaf” (1 Tim. 6:17). Dit maak ons die rykste mense op aarde!
3 Ons moet ons seëninge tel: Min van ons het ’n oorvloed materiële dinge. Tog is ons geseënd omdat ons nie te besorg oor ons daaglikse behoeftes is nie. Jehovah weet wat ons nodig het, en hy belowe om dit te voorsien (Matt. 6:31-33). Sy versekering gee ons gemoedsrus wat waarlik van onskatbare waarde is.
4 Maar ons geestelike seëninge is selfs groter. Ons lewe hang af van die geestelike voedsel wat van Jehovah kom (Matt. 4:4). Diegene wat op wêreldse bronne staatmaak vir geestelike voedsel ly honger terwyl ons genoeg het om te eet en te drink (Jes. 65:13). Die ‘getroue slaaf’ verleen aan ons toegang tot ’n onuitputlike voorraad kennis wat tot die ewige lewe lei.—Matt. 24:45; Joh. 17:3.
5 Ons kosbare wêreldwye broederskap gee ons die geleentheid om hartlike omgang met liefdevolle broers en susters in alle wêrelddele te geniet (Joh. 13:35). Die plaaslike gemeente is ’n toevlugsoord van vrede, waar ons bemoediging en verkwikking kan vind. Die ouer manne waak oor ons siele en help ons om baie soorte probleme die hoof te bied (Heb. 13:17). As ons na aan ons broers kom, lei dit tot ’n uitwisseling van aanmoediging, wat ons versterk om te volhard.—Rom. 1:11, 12.
6 Selfs ons werk is ’n seëning. Baie sekulêre betrekkings is vervelig en onbevredigend. Die verkondiging van die goeie nuus verskaf vreugde aan ander en laat ons gelukkig voel (Hand. 20:35). Ons kan waarlik die goeie geniet weens al ons harde werk.—Pred. 2:24.
7 Bowenal het ons ’n wonderlike hoop vir die toekoms (Rom. 12:12). Ons sien uit na ’n volmaakte, regverdige nuwe wêreld waar ons vir ewig saam met ons geliefdes in geluk en vrede gaan lewe! Hierdie hoop is ’n skat wat meer werd is as enigiets wat hierdie wêreld kan bied.—1 Tim. 6:19.
8 Hoe kan ons ons waardering toon? Ons kan Jehovah nooit vergoed vir wat hy vir ons gedoen het nie. Ons kan net ons waardering toon deur (1) hom elke dag vir sy onverdiende goedhartigheid te dank (Ef. 5:20), (2) ons liefde te toon deur gehoorsaam te wees (1 Joh. 5:3), (3) sy naam te heilig deur die goeie nuus te verkondig (Ps. 83:19) en (4) die Christengemeente deur ons heelhartige samewerking te ondersteun.—1 Tim. 3:15.
9 Ons het alle rede om die gelukkigste mense op aarde te wees (Ps. 144:15b). Mag ons gesindheid, gedrag en diens die vreugde weerspieël wat ons in ons geestelike paradys geniet. Ons was nog nooit so goed daaraan toe nie!