Dien met jou hele siel!
1 Ons het ’n menigte redes om dankbaar teenoor Jehovah te wees. Dit sluit die dinge in wat hy in die verlede gedoen het, wat hy op die oomblik doen en wat hy nog in die toekoms vir ons gaan doen. Wat moet ons dankbaarheid ons beweeg om te doen? ’n Psalm van Dawid antwoord: “Ek wil die HERE altyd loof; sy lof sal altyddeur in my mond wees.”—Ps. 34:2.
2 Die Bybel toon duidelik dat ons die opdrag het om te preek. Dit is ’n werk wat ons “met [ons] hele siel soos vir Jehovah” doen (Kol. 3:23). Hoeveel sal ons in die bediening doen as ons werklik met ons hele siel daaraan deelneem? Wanneer ons aan Jehovah se liefde vir ons dink, beweeg ons hart ons om ’n getroue aandeel daaraan te hê om ander van hom en sy kosbare voornemens te vertel! Ons word beweeg om te doen wat ons kan.
3 Dit sou redelik wees om te verwag dat iemand wat Jehovah met sy hele siel dien sy aandag op heilige diens gevestig sal hou. Die psalmis, wat klaarblyklik so gevoel het, het gesê: “Ek loof u sewe maal elke dag” (Ps. 119:164). Diegene wat dieselfde voel as die psalmis streef daarna om geleenthede te benut om Jehovah te loof. Na gelang van hulle omstandighede dien hulle ywerig na die beste van hulle vermoë.
4 Ons het volop geleenthede om Jehovah te loof: Ons hoef nie te wag totdat ons van deur tot deur werk om die goeie nuus te verkondig nie. Ons werksmaats, skoolmaats, familielede en kennisse moet almal die Koninkryksboodskap hoor. Wanneer ons op reis is, kan ons gesprekke aanknoop wat daartoe kan lei dat ons vir hotelpersoneellede, restaurantwerkers, pompjoggies of taxibestuurders getuig. Terwyl ons by die huis is, kan ons vir bure of afleweraars getuig. As ons in die hospitaal opgeneem word, is daar verpleegsters, dokters en ander pasiënte vir wie ons informeel kan getuig.
5 Informele getuieniswerk lewer resultate: Twee Getuies het eendag in ’n park geloop en het met ’n jong man begin praat wat saam met sy kind geloop het. Uiteindelik het hy en sy vrou die waarheid aangeneem. Die jong man het later gesê dat hy net ’n kort rukkie voordat hy die twee Getuies die eerste keer ontmoet het tot God gebid en gevra het: ‘As u bestaan, help my asseblief om u te leer ken.’ Hy beskou die ontmoeting in die park as Jehovah se antwoord op sy gebed.
6 Diegene wat met hulle hele siel ander graag geestelik wil help, smaak groot vreugde. Hulle weet dat sulke diens, “met ’n volkome hart”, Jehovah behaag.—1 Kron. 28:9.