Volg hulle geloof na
1 Die apostel Paulus het geloof omskryf as “die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike demonstrasie van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie”. Hy het voorts gesê dat ‘dit sonder geloof onmoontlik is om vir God welbehaaglik te wees’ (Heb. 11:1, 6). Paulus het ons aangespoor om geloof te beoefen, daarvan oor te loop en dit na te streef.—2 Kor. 4:13; Kol. 2:7; 2 Tim. 2:22.
2 Die Bybel vertel ons van talle uitstekende voorbeelde van geloof. In Hebreërs hoofstuk 11 gee Paulus ’n lang lys getuies wat onwrikbare geloof getoon het. Hierdie lys sluit Abel in, wat die eerste mens was wat vir sy geloof gemartel is. Noag word genoem omdat hy deur sy geloof die godvrugtige vrees getoon het wat nodig was om sy huisgesin te red. Abraham word vir sy geloof en gehoorsaamheid geprys. Moses word geprys omdat hy deur sy geloof standvastig gebly het asof hy die Onsigbare sien. Die lys voorbeelde was so lank dat Paulus gesê het die tyd sou hom ontbreek as hy van hulle almal vertel het. Hoe dankbaar is ons tog dat ons ons geloof kan versterk deur hulle “heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid” te hersien!—2 Pet. 3:11.
3 In die eerste eeu het Jesus die vraag gevra: “Wanneer die Seun van die mens kom, sal hy werklik die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8). Wel, het ons dus vandag lewende voorbeelde van geloof onder ons? Sien ons mans en vrouens, jonk en oud, wat onwankelbare geloof in Jehovah openbaar soos wat God se volk in Bybeltye gedoen het?
4 Hedendaagse voorbeelde van geloof: Uitstekende voorbeelde van geloof word oral om ons gevind! Die geloof van opsieners wat die leiding onder ons neem, is navolgenswaardig (Heb. 13:7). Maar hulle is nie die enigstes wat voorbeeldige geloof toon nie. In elke gemeente is daar lojales wat ’n lang rekord van getroue diens aan Jehovah het, wat hulle dikwels onder baie moeilike omstandighede verrig het.
5 Ons moet ons getroue susters bewonder wat jare lank teenstand van hulle opponerende mans verduur het. Enkelouers moes die uitdaging om kinders alleen groot te maak die hoof bied. Daar is ouer weduwees onder ons wat nooit van gemeentelike bedrywighede afwesig is nie, selfs al het hulle geen familie om hulle te help nie. (Vergelyk Lukas 2:37.) Ons verwonder ons oor die geloof van diegene wat chroniese gesondheidsprobleme verduur. Baie hou aan om getrou te dien al het hulle beperkinge wat verhinder dat hulle bykomende diensvoorregte ontvang. Daar is jong Getuies wat moedig geloof beoefen ten spyte van teenstand in die skool. Ons godvrugtige toegewydheid word versterk namate ons getroue pioniers sien wat jaar na jaar volhard ondanks tallose probleme. Net soos Paulus sou die tyd ons ontbreek het as ons probeer vertel van al die ondervindinge in die Koninkryksdiens en die dade van geloof wat deur hierdie broers en susters verrig is!
6 Hierdie voorbeelde van getroues vertroos en bemoedig ons (1 Tess. 3:7, 8). Dit is goed as ons hulle geloof navolg, want Jehovah “het ’n welbehae in die wat getrou handel”.—Spr. 12:22.