Hou aan om die waarheid te spreek
1 Die apostels het gesê: “Ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand. 4:20). Vandag moet ons ook aanhou om oor die waarheid te praat. Hoewel die verspreiding van Die Wagtoring en Ontwaak! ’n manier is om diegene op te spoor wat sal luister, moet ons teruggaan as ons belangstellendes meer omtrent die waarheid wil leer.
2 Wanneer jy teruggaan na diegene by wie jy die spesiale “Ontwaak!” van April met die onderwerp “Wanneer daar nie meer oorloë sal wees nie” gelaat het, kan jy ’n Bybelstudie aanbied deur te vra:
◼ “Verlede keer het ons gepraat oor die oorloë van die nasies en godsdiens se aandeel daaraan. Het jy besef dat sulke gebeure onteenseglik bewys dat ons in die tyd lewe wat die Bybel die laaste dae noem? [Wys die Kennis-boek. Lees die eerste paragraaf van hoofstuk 11, en vestig die aandag op die venster op bladsy 102.] Hierdie boek bespreek hierdie onderwerp tesame met 18 ander wat hier in die inhoudsopgawe genoem word. [Wys bladsy 3.] As ek mag, wil ek demonstreer hoe hierdie boek jou kan help om hierdie belangrike Bybelonderwerpe te verstaan.” As jy toegelaat word, kan jy ’n studie op bladsy 6 begin.
3 As jy belowe het om terug te gaan en te verduidelik hoe dit moontlik is om nou ’n veilige lewe te geniet, kan jy iets sê soos:
◼ “Toe ons mekaar die eerste keer ontmoet het, het ek vir jou ’n gedeelte uit die Bybel gelees wat ons rede gee om optimisties te wees oor die mensdom se toekoms. Vandag wil ek jou aandag vestig op iets wat toon wie nou reeds vir ons ’n gevoel van veiligheid kan gee.” Lees Psalm 4:9. Blaai in die Kennis-boek na bladsy 168 en lees paragraaf 19. Vra dan: “Sal jy dit geniet om ’n gratis tuisbybelstudie te hê wat duidelik toon hoe jy ook hierdie soort veiligheid in jou lewe kan ondervind?” As die antwoord ja is, kan jy na hoofstuk 1 toe gaan.
4 Om diegene by wie jy die “Ontwaak!” van 22 Mei gelaat het by jou tydskrifroete te voeg, kan jy hierdie benadering probeer:
◼ “Dit het gelyk of jy graag die Ontwaak! wou lees wat ek by jou gelaat het in verband met seksuele teistering by die werksplek. Het jy dit interessant gevind? [Wag vir ’n antwoord.] Gereelde lesers van die Ontwaak! sê dikwels dat hulle die tydskrif se onpartydige en deeglike dekking van sulke belangrike onderwerpe waardeer. Ek dink jy sal vind dat dit ook waar is van hierdie jongste nommer. [Verwys kortliks na die voorbladartikels.] Sal jy dit graag wil lees?”
5 Jy kan met die herbesoek ’n studie direk aanbied deur te sê:
◼ “Ons versprei ons tydskrifte wêreldwyd om mense oral in te lig oor wat die Bybel leer. As mense waardeer wat hulle leer, bied ons ’n gratis tuisbybelstudie aan. [Verwys na die venster ‘Sal jy ’n besoek verwelkom?’ op die agterblad van Die Wagtoring.] Ons gebruik hierdie boek, Kennis wat tot die ewige lewe lei, as ’n gids. Laat ek jou kortliks wys hoe ’n studie gehou word.”
6 As ons aanhou om die waarheid te spreek, kan ons daarvan seker wees dat daar party sal wees wat sal luister en gunstig sal reageer.—Mark. 4:20.