Help hulle om weer te dien
1 Die apostel Paulus het gesien dat daar ’n potensiële geestelike gevaar vir sy mede-Christene bestaan en het geskryf: “Dit [is] reeds die uur . . . vir julle om uit die slaap te ontwaak, want nou is ons redding nader as toe ons gelowiges geword het” (Rom. 13:11). Paulus was besorg oor sy broers wat geestelik lomerig geword het; hy wou hulle graag met nuwe moed besiel om weer bedrywig te word.
2 Daar kan waarlik gesê word dat die nag van hierdie ou wêreld ver gevorder het en dat die dag van die nuwe wêreld binnekort gaan aanbreek (Rom. 13:12). Ons is tereg besorg oor ons broers wat nie meer as verkondigers van die goeie nuus met ons omgaan nie. In die laaste diensjaar is meer as 1300 verkondigers in Suid-Afrika alleen gehelp om weer bedrywig te word. Hoe kan ons ander onbedrywige persone help om Jehovah weer eens te dien?
3 Wat ouer manne kan doen: Die meeste wat onbedrywig is, het nie die waarheid verlaat nie; hulle het eenvoudig opgehou om aan die predikingswerk deel te neem weens ontmoediging, persoonlike probleme, materialisme of ander sorge van die lewe (Luk. 21:34-36). Indien moontlik is dit baie beter om hulle te help voordat hulle onbedrywig word. Die gemeentelike sekretaris moet die Gemeentelike Boekstudiehouer daarvan in kennis stel as ’n verkondiger begin om sy velddiensbedrywighede ongereeld te rapporteer. Reëlings vir ’n herdersbesoek kan getref word. Hulle moet probeer vasstel wat die onderliggende oorsaak van die probleem is en hoe hulp verleen kan word.—Sien Die Wagtoring van 15 September 1993, bladsye 20-3.
4 Hoe ander kan help: Die meeste van ons ken iemand wat onbedrywig geword het. Dit is dalk iemand wat in die verlede baie na aan ons was. Wat kan ons doen om te help? Jy kan dalk ’n kort besoek aflê. Sê vir hom dat jy sy geselskap mis. Wees opgeruimd en positief. Spreek jou besorgdheid uit sonder om te kenne te gee dat hy geestelik siek is. Vertel van opbouende ondervindinge of ander goeie dinge wat deur die gemeente bereik word. Vertel hom met entoesiasme van die “Boodskappers van Goddelike Vrede”-Streekbyeenkoms aan die einde van die jaar, en spoor hom aan om dit by te woon. As hy weer met die gemeente begin omgaan, sal dit hom dalk meer as enigiets anders help. Bied aan om hom na die vergaderinge toe te vergesel. Laat die ouer manne weet hoe hy gereageer het.
5 Wanneer iemand wat onbedrywig geword het weer na die vergaderinge toe kom, sal hy waarskynlik ongemaklik voel wanneer hy ander raak loop wat hy in die verlede geken het. Moenie vra: “Waar was jy?” nie. Laat hom eerder welkom voel. Betrek hom by ’n gesprek. Stel hom voor aan diegene wat hy nie ken nie. Sit gedurende die vergadering langs hom en maak seker dat hy ’n liedereboek het asook die materiaal wat bestudeer word. Spoor hom aan om weer te kom, en bied jou hulp aan as daar ’n behoefte is.
6 Omdat Jehovah en Jesus innige liefde het vir diegene wat afgedwaal het, verheug hulle hulle as sulke mense geestelik herstel (Mal. 3:7; Matt. 18:12-14). Ons kan dieselfde vreugde smaak as ons daarin slaag om ander te help om Jehovah weer te dien.