God se Woord voorsien leiding
1 “Ons lewe in ’n wêreld met te veel probleme en heeltemal te min oplossings. Miljoene mense is voortdurend honger. Al hoe meer is verslaaf aan dwelms. Al hoe meer gesinne verbrokkel. Bloedskande en gesinsgeweld is gedurig in die nuus. Die lug wat ons inasem en die water wat ons drink, word stadig vergiftig. Intussen word al hoe meer van ons die slagoffers van misdadigheid.”
2 Dit is hoe die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? begin. Vandag is die boek se inleiding selfs meer van toepassing as toe dit sewe jaar gelede vrygestel is. Mense moet weet dat God se Woord leiding gee en oplossings voorsien vir al die probleme wat hulle teister. Ons gaan in Desember mense probeer help deur vir hulle die New World Translation en die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? aan te bied. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte is beskikbaar in Afrikaans, Suid-Sotho, Xhosa en Zulu, en dit sal goed wees as ons dit kan aanbied vir diegene wat hierdie tale praat. Om bloot lektuur by iemand te laat, is natuurlik geen waarborg dat hy God se leiding sal aanvaar nie. Ons moet herbesoeke doen met die doel om ’n Bybelstudie te begin. Ons sal gewis gehelp word as ons ons hiervoor inspan (Matt. 28:19, 20). Hier is ’n paar aanbiedings wat ons kan probeer:
3 As jy ’n ouer persoon ontmoet, kan jy hierdie benadering probeer:
◼ “As ek mag vra: Toe u jonger was, hoe het mense in die gemeenskap mekaar behandel? [Wag vir ’n antwoord.] Dinge is vandag heel anders, nie waar nie? Wat dink u is die rede vir die verandering? [Wag vir ’n antwoord.] Ons sien in werklikheid die vervulling van ’n profesie in die Bybel. [Lees 2 Timoteus 3:1-5.] Buiten dat die Bybel ’n juiste beskrywing gee van die wêreld soos dit vandag is, beloof dit ’n beter wêreld in die nabye toekoms. Dit is waarom ons almal aanmoedig om die Bybel te lees. Het u opgelet hoe duidelik die taal is in hierdie Bybel, die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte, waaruit ek gelees het?” Verduidelik dat dit ’n getroue vertaling in moderne Afrikaans is, wat die Bybel verstaanbaarder maak. Wys die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, en vestig die aandag op hoofstuk 10, wat nog ’n profesie verduidelik waarvan ons die vervulling sien. Bied die Bybel en die boek teen ’n bydrae van R10,00 aan.
4 Wanneer jy teruggaan na ’n ouer persoon by wie jy die Bybel en die boek gelaat het, kan jy sê:
◼ “Toe ons laas gesels het, het ons saamgestem dat die hedendaagse samelewing in talle opsigte agteruitgegaan het vergeleke met hoe dit net ’n paar jaar gelede was. Maar ek het teruggekom om vir u te wys dat die Bybel ’n baie beter wêreld in die toekoms beloof. [Lees Openbaring 21:3, 4.] Die wete dat dit God se Woord is, behoort ons aan te spoor om ondersoek in te stel na wat die Bybel nog te sê het.” Maak die God se woord-boek by hoofstuk 14 oop en lees paragrawe 3-4. Bied ’n gratis tuisbybelstudie aan.
5 As jy ’n gesprek met ’n jonger persoon aanknoop, kan jy sê:
◼ “Ek wil jou graag ’n vraag vra: Dink jy as ’n jongmens dat jy rede het om optimisties te wees oor dit wat voorlê? Hoe lyk die toekoms vir jou? [Wag vir ’n antwoord.] Gelukkig is daar ’n goeie rede om optimisties te wees oor die toekoms. [Lees Psalm 37:10, 11.] Aangesien mense uiteenlopende beskouings van die Bybel en die inhoud daarvan het, het ons hierdie boek, Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee. Kyk na die redes wat dit gee waarom ons die Bybel moet lees. [Lees paragrawe 16-17 op bladsye 10-11.] Wanneer ons daarvan oortuig is dat die Bybel waar is, het ons ’n sekere hoop vir die toekoms. As jy hierdie boek wil lees, sal ek met graagte een by jou wil laat teen ’n bydrae van R4,00.”
6 Wanneer jy terugkeer om ’n jonger persoon te besoek wat die “God se woord”-boek geneem het, kan jy begin deur te sê:
◼ “Ek was bly om te hoor hoe besorg jy oor die toekoms is. Jy sal onthou dat ek vir jou ’n Bybelteks gewys het wat vir ons ’n gelukkige en veilige toekoms beloof. Hier is nog een. [Lees Openbaring 21:3, 4.] Die boek wat ek by jou gelaat het, lewer oortuigende bewys dat die Bybel God se woord is en nie die mens s’n nie. Daardie feit het diepgaande implikasies. Let op wat hulle is. [Lees paragrawe 1-2 op bladsye 184-5.] As jy wil, sal ek graag die Bybel met jou studeer.” As die persoon ’n studie wil hê, kan jy vra of hy ’n Bybel het. Indien nie, bied vir hom die New World Translation teen ’n bydrae van R16,00 aan of die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte teen ’n bydrae van R6,00, as dit in sy taal beskikbaar is.
7 Iemand wat nie weet waarheen om hom te wend vir leiding om die probleme van die lewe die hoof te bied nie, sal moontlik gunstig op hierdie benadering reageer:
◼ “Ons lewe in ’n tyd wanneer amper almal ernstige probleme het. Baie wend hulle tot allerhande raadgewers vir leiding. Party keer hulle tot spiritiste vir hulp. Waar dink jy kan ons betroubare raad vind wat ons werklik sal help? [Wag vir ’n antwoord.] Die Bybel noem ’n belangrike feit wat ons almal moet verstaan.” Lees Jeremia 10:23. Maak Die Bybel—God se woord of die mens s’n? op bladsy 187 oop en lees paragraaf 9. “Hierdie boek sal jou help besef hoe al ons probleme onder God se Koninkryk verwyder sal word. Wil jy dit graag lees?” Bied die boek saam met die New World Translation teen ’n bydrae van R20,00 aan of saam met die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte teen ’n bydrae van R10,00, as dit in sy taal beskikbaar is.
8 As jy met die eerste besoek oor die mens se behoefte aan leiding gepraat het, kan jy met die herbesoek die bespreking voortsit deur te sê:
◼ “Toe ons mekaar ontmoet het, het ons saamgestem dat ons God se leiding nodig het as ons die probleme van die lewe suksesvol te bowe wil kom. In verband daarmee dink ek dat jy die slotkommentare sal waardeer in die boek wat ek by jou gelaat het. [Lees paragrawe 12-13 op bladsy 189 in die God se woord-boek.] Ek wil graag vir jou ’n gratis tuisbybelstudiekursus aanbied, en as jy wil, kan ek dit nou vir jou demonstreer.”
9 Jehovah sal ons pogings seën terwyl ons oud en jonk help om die waarde van God se Woord en die leiding daarvan in ons lewe te waardeer.—Ps. 119:105.