Sluit aan by die Teokratiese Bedieningskool
1 Die Teokratiese Bedieningskool het tot die opleiding van miljoene van Jehovah se Getuies as bedienaars van die goeie nuus bygedra. Baie van ons onthou hoe angstig en onbekwaam ons gevoel het toe ons by hierdie skool aangesluit het, en nou erken ons met dank die rol wat dit in ons geestelike ontwikkeling as sprekers en onderrigters van God se Woord gespeel het. (Vergelyk Handelinge 4:13.) Het jy al by hierdie merkwaardige skool aangesluit?
2 Wie kan aansluit? Bladsy 73 van Georganiseer om ons bediening te vervul antwoord: “Almal wat aktief aan die gemeente verbonde is, mag inskryf, selfs persone wat pas begin het om die vergaderinge by te woon, mits hulle nie ’n lewe lei wat strydig is met Christelike beginsels nie.” Ons nooi almal wat aan die vereistes voldoen—mans, vrouens en kinders—om die skoolopsiener te nader en te vra of jy kan aansluit.
3 Skoolprogram vir 1997: Die Teokratiese Bedieningskool-program vir 1997 dek ’n groot verskeidenheid Bybelleringe en -karakters, asook die geskiedenis van die organisasie. Nie alleen ontwikkel ons ons spraak- en onderrigvermoëns nie, maar ons vind ook baat by die talle geestelike skatte wat in elke week se program gevind word (Spr. 9:9). As ons vir die skool voorberei, wat onder andere behels dat ons die weeklikse Bybellees doen en dit gereeld bywoon, kan ons geestelik grootliks by die program baat vind.
4 Vir 1997 is die meeste van die Bybelleesgedeeltes vir Toewysing nr. 2 korter as in vorige jare. Wanneer die student vir hierdie toewysing voorberei, moet hy noukeurig vasstel hoe lank dit hom neem om dit te lees en dan bepaal hoeveel van die vyf minute wat vir sy deel toegewys is, oor is vir die inleiding en die slot. Dit sal die student in staat stel om sy tyd ten volle te benut en om sy leesvermoë te ontwikkel asook die kuns om ex tempore te praat.—1 Tim. 4:13.
5 Informele getuieniswerk is bygevoeg as ’n moontlike agtergrond wanneer Toewysing nr. 3 behartig word, wat op die Kennis-boek gebaseer is. ’n Suster kan dus besluit op ’n herbesoek, ’n tuisbybelstudie of informele getuieniswerk as die agtergrond vir hierdie toewysing. Die hoofklem moet egter steeds op doeltreffende onderrigting val en nie op die agtergrond nie.
6 Hetsy jy die voorreg het om die instruksietoespraak, die Bybelglanspunte of ’n studentetoespraak te hou, jy kan jou waardering vir die Teokratiese Bedieningskool toon deur jou deel goed voor te berei en te oefen, deur dit met oortuiging en entoesiasme aan te bied, deur nie die tydgrens te oorskry nie, deur te luister na die raad van die skoolopsiener en dit toe te pas en deur altyd daarna te streef om jou toewysing getrou na te kom. Op hierdie manier sal jou deelname aan die skool vir jou sowel as diegene in die gehoor ’n seën wees.