“Sal alle mense mekaar ooit liefhê?”
1 ’n Pragtige, roerende en hartverblydende boodskap gaan wêreldwyd in 169 tale verkondig word. Wat is hierdie boodskap? En hoe sal dit oorgedra word?
2 Die boodskap handel oor naasteliefde. Dit kan gevind word in Koninkryksnuus Nr. 35, met die titel “Sal alle mense mekaar ooit liefhê?” Hierdie Koninkryksnuus ondersoek kortliks die huidige stand van sake regdeur die wêreld en toon dat die gebrek aan liefde onder mense die grondoorsaak van soveel hartseer en pyn is. Dit verduidelik waarom naasteliefde, veral in ons dag, verkoel het en wat dít vir die toekoms beteken.
3 Daarbenewens toon Koninkryksnuus Nr. 35 dat daar ware naasteliefde bestaan onder miljoene wat in die wêreld van vandag lewe. Dit identifiseer diegene wat ’n deel het aan die herlewing van die oorspronklike Christelike geloof—eerste-eeuse aanbidding wat gekenmerk is deur naasteliefde soos Jesus Christus dit geleer het.—Luk. 10:25-37.
4 Koninkryksnuus Nr. 35 sluit af met ’n verduideliking van hoe die ganse mensewêreld binnekort naasteliefde gaan beoefen onder die administrasie van God se Koninkryk in die hande van Christus. Diegene wat hierdie boodskap lees, word aangemoedig om die brosjure Wat vereis God van ons? te kry en te leer hoe om ’n deel te word van hierdie wêreldwye, liefdevolle reëling wat uitvoerig in God se Woord beskryf word.
5 Wie sal hierdie boodskap verkondig? Gedurende Oktober en November sal Jehovah se Getuies hierdie boodskap van naasteliefde wêreldwyd aan hulle kennisse, bure en familielede oordra. Almal wat aan die vereistes voldoen, word aangemoedig om aan die openbare verspreiding van Koninkryksnuus Nr. 35 deel te neem.
6 Die uiteindelike doelwit van hierdie kampanje is om mense se belangstelling te prikkel om ’n Bybelstudie in óf die Vereis-brosjure óf die Kennis-boek te hê. Daarbenewens sal ’n heelhartige poging deur elke kneg van Jehovah ’n groot getuienis lewer van die God van liefde, Jehovah, en van sy Seun, Jesus Christus.