Opsieners wat die leiding neem—die sekretaris
1 Die gemeentelike sekretaris speel ’n belangrike rol om te verseker dat “alles welvoeglik en volgens reëling geskied” (1 Kor. 14:40). As lid van die Gemeentelike Dienskomitee sien hy om na die gemeente se korrespondensie en belangrike verslae. Hoewel sy pligte miskien nie vir almal so sigbaar is soos die ander ouer manne s’n nie, is sy dienste baie nodig en word dit waardeer.
2 Wanneer korrespondensie van die Genootskap of van ander ontvang word, sien die sekretaris daarna om en sien hy toe dat dit beantwoord word indien nodig. Hy maak seker dat die briewe wat ontvang word onder die ouer manne gesirkuleer word en liasseer dit dan vir toekomstige gebruik. Hy gaan tydskrif- en lektuurbestelvorms na en stuur dit aan die Genootskap. Hy hou direk toesig oor diegene wat die rekeninge en intekeninge hanteer, sowel as alle byeenkomsverwante sake.
3 Aangesien die sekretaris die gemeente se maandelikse velddiensrapport teen die sesde van die maand aan die Genootskap moet stuur, is dit noodsaaklik dat ons almal ons velddiens stiptelik aan die einde van elke maand rapporteer. Dan skryf hy die velddiensrapporte op die gemeentelike verkondigerverslagkaarte oor. Enige verkondiger kan vra om sy persoonlike verslagkaart te sien.
4 Wanneer ’n verkondiger in ’n gemeente se gebied intrek of daaruit wegtrek, sal die sekretaris ’n bekendstellingsbrief sowel as die gemeentelike verkondigerverslagkaarte vir daardie verkondiger van die ander gemeente se ouer manne versoek of dit aan hulle stuur.—Ons Bediening-boek, bl. 104-5.
5 Die sekretaris gaan die bedrywighede van die pioniers na en stel die ouer manne, en veral die diensopsiener, in kennis van enige probleme wat die pioniers dalk ondervind. Hy verwittig Gemeentelike Boekstudiehouers van verkondigers wat ongereeld in die velddiens is. Die sekretaris en die diensopsiener neem albei die leiding in die koördinering van pogings om na onbedrywige verkondigers om te sien.—Ons Koninkryksbediening, November 1987, bl. 1.
6 Laat ons, noudat ons ’n beter begrip van die sekretaris se pligte het, doen wat ons kan om dit vir hom makliker te maak om sy bestuurderskap uit te voer.—1 Kor. 4:2.