Hoe om studies in die Vereis-brosjure te begin
1 Berigte uit alle wêrelddele toon dat die brosjure Wat vereis God van ons? ’n kragtige instrument is om mense die waarheid te leer. Duisende Bybelstudies word elke week in hierdie brosjure begin. Het jy al ’n Bybelstudie in die Vereis-brosjure begin en gehou?
2 Hoewel dit vir die meeste mense maklik is om die brosjure aan te bied, vind party dit moeilik om tot die studie oor te gaan. Watter metodes het ander met welslae gebruik om Bybelstudies in die Vereis-brosjure te begin? Die volgende wenke behoort nuttig te wees.
3 Bied aan om die studie te demonstreer: Wanneer ons iemand vir die eerste keer besoek of ’n herbesoek doen, kan ons die Bybelstudiekursus demonstreer in plaas van net vir die huisbewoner ’n Bybelstudie aan te bied. Dit sal die geheimsinnigheid en gevolglike onrustigheid wat baie huisbewoners met die woord “studie” assosieer uit die weg ruim. Sodra ons geleer het hoe om dit te demonstreer, sal ons vind dat ons met ’n eenvoudige inleiding dadelik tot die studie kan oorgaan.
4 Voorbereiding is die sleutel: Ons geesdrif om Bybelstudies te begin, hou direk verband met hoe goed ons voorberei het. Voorbereiding sal ons help om enige huiwerigheid om aan die Bybelstudiewerk deel te neem te oorkom. Deur ons aanbieding verskeie kere te oefen, sal ons meer op ’n geselstrant kan praat en onsself natuurliker en in ons eie woorde kan uitdruk. Dit sal nie net vir ons help om te ontspan nie, maar sal ook die huisbewoner op sy gemak laat voel.
5 Wanneer jy die aanbieding oefen, sal dit nuttig wees om te kyk hoe lank dit duur sodat jy vir die huisbewoner kan sê hoe lank dit sal neem om die studie te demonstreer. Nadat hy homself voorgestel het, sê een broer: “Ek het gekom om vir jou ons gratis Bybelstudieprogram te wys. Dit neem ongeveer vyf minute om te demonstreer. Kan jy vyf minute afstaan?” Les 1 van die Vereis-brosjure kan in ongeveer vyf minute gedemonstreer word. Net uitgesoekte tekste sal natuurlik in hierdie tydsbestek gelees kan word, maar deur die eerste les in ’n paar minute te dek, kan die huisbewoner sy eerste studie hê. Sê dan vir hom dat jy net 15 minute sal gebruik wanneer jy terugkom om Les 2 te bestudeer.
6 Die volgende aanbieding is al met welslae gebruik:
◼ “Ek wil graag vir jou ’n baie eenvoudige, verkorte tuisbybelstudiekursus demonstreer met behulp van hierdie brosjure Wat vereis God van ons? Baie het gevind dat hulle in net 15 minute per week vir 16 weke bevredigende skriftuurlike antwoorde op hierdie belangrike Bybelvrae kan vind.” Wys kortliks die inhoudsopgawe. Blaai na Les 1 en sê: “As jy vyf minute of so aan ons kan afstaan, sal ons graag vir jou wil wys hoe dit werk. Les 1 het die titel: ‘Hoe jy kan uitvind wat God vereis.’” Lees dan die drie vrae en verduidelik die nommers tussen hakies. Lees paragraaf 1 en wys vir die huisbewoner hoe om die antwoord te kry. Jy kan dalk die huisbewoner vra om paragraaf 2 te lees. Sê dan: “Met hierdie inligting in gedagte, hoe sal jy hierdie vraag beantwoord? [Lees weer die vraag en laat die huisbewoner antwoord.] Jy sal opmerk dat elke paragraaf ’n aantal tekste bevat. Hulle vestig ons aandag op die Bybel se antwoord op hierdie vrae. Kom ons lees byvoorbeeld 2 Timoteus 3:16, 17 en kyk of dit die antwoord staaf wat jy aangaande die outeur van die Bybel gegee het.” Nadat julle paragraaf 3 gelees, die vraag bespreek en Johannes 17:3 gelees het, kan jy Les 1 hersien en die huisbewoner se aandag vestig op die kennis wat hy of sy ingeneem het. Op hierdie stadium kan jy na Les 2 blaai en die laaste vraag lees: “Wat is twee maniere waarop ons aangaande God kan leer?” Vra dan: “Wanneer sal jy 15 minute of so kan afstaan sodat ons Les 2 kan doen en die antwoord kan vind?”
7 Dit is belangrik om die bespreking eenvoudig te hou en die huisbewoner wanneer moontlik te prys. Wanneer jy ’n afspraak maak vir nog ’n besoek, kan jy hom eenvoudig aanmoedig om met die volgende les dieselfde prosedure te volg in plaas van hom te vra of hy met die studie wil voortgaan. Sê vir hom dat jy daarna uitsien om terug te kom. Party verkondigers het aangebied om ’n les oor die telefoon te doen wanneer dit moeilik geword het om ’n afspraak te maak. Jy kan die student ook aanmoedig om die brosjure op ’n veilige, gerieflike plek te sit sodat dit vir die volgende besoek byderhand sal wees.
8 Wees vasbeslote: Hoewel voorbereiding die sleutel tot sukses is, moet ons vasbeslote wees om belangstelling op te volg. Om ’n les binne ’n paar minute te dek, kan nogal ’n uitdaging wees; daarom moet jy vasbeslote wees om die aanbieding soveel kere as wat nodig is te oefen sodat jy die studie vlot kan demonstreer. Probeer om ’n studie te demonstreer vir elkeen wat jy by die deur, tydens informele getuieniswerk en met telefoongetuieniswerk ontmoet. Moenie moedeloos word as jy sukkel om ’n Bybelstudie te begin nie. Om Bybelstudies met welslae te begin, verg vasbeslotenheid en ’n opregte begeerte om ander van die waarheid te vertel.—Gal. 6:9.
9 As jy hierdie wenke toepas, kan jy ook die voorreg hê om iemand te help om op die pad na die lewe te kom deur ’n Bybelstudie in die Vereis-brosjure te begin en te hou.—Matt. 7:14.