Onderrig met behulp van die Goeie nuus-brosjure
1. Hoe is die Goeie nuus-brosjure saamgestel?
1 Soos ons in Ons Koninkryksbediening vir Julie bespreek het, is die Goeie nuus wat van God kom!-brosjure ’n belangrike onderrigmiddel wat ’n Bybelonderrigter kan gebruik. Die meeste tekste word nie aangehaal nie sodat huisbewoners direk uit die Bybel kan leer. Baie van ons studiepublikasies is op so ’n manier geskryf dat die leser op sy eie kan leer, maar hierdie publikasie is saamgestel sodat dit saam met ’n Bybelonderrigter bespreek kan word. Wanneer ons dit dus aanbied, moet ons die studie probeer demonstreer sodat die huisbewoner kan sien hoe opwindend dit is om goeie nuus uit die Bybel te leer.—Matt. 13:44.
2. Hoe kan ons die Goeie nuus-brosjure tydens die eerste besoek gebruik?
2 Tydens die eerste besoek: Jy kan sê: “Ek is hier omdat mense besorg is oor die mensdom se toekoms. Dink jy dat toestande ooit sal verbeter? [Wag vir ’n antwoord.] Die Bybel bevat goeie nuus wat ons hoop kan gee. Hier is ’n paar van die vrae wat die Bybel beantwoord.” Gee vir die huisbewoner ’n brosjure, en nooi hom om ’n vraag op die agterblad te kies. Demonstreer dan die studie deur die eerste paragraaf van daardie les te bespreek. Of jy kan vir die huisbewoner ’n gedagteprikkelende vraag vra wat verband hou met ’n les wat jy gekies het, en demonstreer dan hoe die brosjure hom kan help om die Bybel se antwoord te vind. As daar ’n video op jw.org is wat met die les verband hou, kan jy dit gedurende jou aanbieding speel.
3. Verduidelik hoe om ’n studie te hou met behulp van die Goeie nuus-brosjure.
3 Hoe om die studie te demonstreer: (1) Lees die genommerde vraag in vetdruk om die huisbewoner se aandag op die hoofpunt te vestig. (2) Lees die paragraaf wat daarop volg. (3) Lees die skuinsgedrukte tekste en gebruik taktvolle vrae om die huisbewoner te help om te sien hoe die tekste die genommerde vraag beantwoord. (4) As daar nog ’n paragraaf onder die vraag is, moet jy stap 2 en 3 herhaal. As daar ’n video is wat met die vraag verband hou en jy dit nog nie vir die huisbewoner gespeel het nie, moet jy dit die een of ander tyd gedurende die bespreking doen. (5) Laastens moet jy die huisbewoner vra om die genommerde vraag te beantwoord om seker te maak dat hy verstaan wat hy geleer het.
4. Wat sal ons help om hierdie waardevolle onderrigmiddel op vaardige wyse te gebruik?
4 Raak vertroud met hierdie waardevolle onderrigmiddel. Gebruik dit by elke gepaste geleentheid. Voor elke studie moet jy aan die student dink sowel as aan wat die beste manier is om die tekste in die les te gebruik om met hom te redeneer (Spr. 15:28; Hand. 17:2, 3). As jy ondervinding opdoen en leer om hierdie brosjure op ’n vaardige wyse te gebruik, sal dit heel moontlik een van jou gunstelingonderrigmiddele word om mense die waarheid te leer!