Sekulêre opvoeding en jou geestelike doelwitte
1 As jy ’n goeie basiese skoolopleiding kry terwyl jy nog jonk is, kan dit jou die nodige akademiese vaardighede gee om goed te kan lees en skryf en jou help om ’n algemene begrip van aardrykskunde, geskiedenis, wiskunde en wetenskap te verkry. Jy kan terselfdertyd leer hoe om helder te dink, feite te ontleed, probleme op te los en skeppende idees te vorm. Sulke skoolopleiding sal regdeur jou lewe vir jou voordelig wees. Hoe kan jou sekulêre opvoeding verband hou met jou geestelike doelwitte in die lewe en jou help om “praktiese wysheid en denkvermoë” te verkry?—Spreuke 3:21, 22, NW.
2 Word nuttig in God se diens: Terwyl jy op skool is, moet jy in die klas aandag skenk en jou huiswerk goed doen. As jy goeie lees- en studiegewoontes aanleer, sal jy God se Woord makliker kan ondersoek en jouself geestelik sterk kan hou (Hand. 17:11). ’n Afgeronde kennis sal jou help om met mense met verskillende agtergronde, belange en opvattings te kan praat wanneer jy hulle in die bediening ontmoet. Die opvoeding wat jy op skool kry, sal nuttig wees terwyl jy jou Christelike verantwoordelikhede in God se organisasie nakom.—Vergelyk 2 Timoteus 2:21; 4:11.
3 Leer om jouself te onderhou: As jy jou toelê, kan jy ook die vaardighede aanleer wat nodig is om ’n bestaan te maak nadat jy die skool verlaat het. (Vergelyk 1 Timoteus 5:8.) Kies jou vakke goed. Pleks van jou toe te spits op ’n veld wat beperkte werksgeleenthede het, kan jy dit eerder oorweeg om ’n ambag of vaardigheid aan te leer wat jou in staat sal stel om op enige plek gepaste werk te kry (Spr. 22:29). Sulke opleiding sal dit vir jou moontlik maak om jouself te onderhou indien jy besluit om te gaan dien waar hulp nodig is.—Vergelyk Handelinge 18:1-4.
4 As jy ’n goeie basiese opvoeding kry terwyl jy op skool is, kan dit jou help om jou bediening uit te brei. Werk hard om die vaardighede op te doen wat nodig is om jouself te onderhou terwyl jy vooruitgang maak in Jehovah se diens. Op dié manier sal jou skoolopleiding jou help om jou geestelike doelwitte te bereik.