Ouers—Stel ’n goeie voorbeeld vir julle kinders
1 God se Woord sê vir ons: “Die vader [en die moeder] van ’n regverdige juig baie” (Spr. 23:24, 25). Wat ’n seën is dit tog vir ouers as hulle ’n goeie voorbeeld vir hulle kinders gestel het! ’n Takkomiteelid het van sy ouers gesê: “Die waarheid was hulle hele lewe, en ek wou dit ook my hele lewe maak.” Wat moet kinders in hulle ouers sien?
2 Goeie maniere en diep respek: Dit is die ouers se verantwoordelikheid om heilsame eienskappe by hulle kinders in te skerp. Goeie maniere word geleer, nie bloot deur mondelinge onderrigting nie, maar deur waarneming en nabootsing. Watter soort maniere het julle dus? Hoor julle kinders hoe julle “verskoon my”, “asseblief” en “dankie” sê? Behandel julle mekaar in die gesin met diep respek? Skenk julle aandag wanneer ander praat? Luister julle wanneer julle kinders met julle praat? Openbaar julle hierdie goeie eienskappe by die Koninkryksaal en by die huis?
3 Sterk geestelikheid en ywer: ’n Broer wat meer as 50 jaar in die voltydse diens is, sê: “My ma en pa het ’n wonderlike voorbeeld gestel wat hulle waardering vir vergaderinge en hulle ywer vir die bediening betref.” Hoe toon julle vir julle kinders dat julle besorg is oor die handhawing van julle gesin se geestelikheid? Bespreek julle die dagteks saam? Het julle ’n gereelde gesinstudie? Sien julle kinders dat julle die Bybel en die Genootskap se publikasies lees? Wat hoor hulle wanneer julle namens die gesin bid? Voer julle opbouende, geestelike gesprekke met julle kinders waarin julle positiewe dinge oor die waarheid en die gemeente bespreek? Is julle gretig om al die vergaderinge by te woon en om as ’n gesin aan die veldbediening deel te neem?
4 Ouers, dink aan die voorbeeld wat julle vir julle kinders stel. Maak dit ’n uitstekende voorbeeld, en hulle sal dit hulle hele lewe lank as ’n skat bewaar. ’n Reisende opsiener se vrou, nou in haar sewentigerjare, het gesê: “Ek vind nou nog baat by die goeie voorbeeld van my liefdevolle Christenouers. En dit is my opregte bede dat ek my volle waardering vir hierdie erfenis sal toon deur dit in die eeue wat voorlê behoorlik te gebruik.”